Die heidense Grieke het destyds geglo dat Proskrustes ‘n mitologiese figuur was wat mense gevange geneem het en in sy ysterbed laat pas het: as die persoon te lank is, sny hy die persoon die regte lengte en as die persoon te kort is, word jy gerek om in te pas. Dit word in vandag se samelewing te maklik aanvaar dat almal dieselfde oor alles moet dink.
Ek het die voorreg gehad om onlangs by Acton Universiteit in Grand Rapids, Michigan in die VSA ‘n aantal kursusse by te woon. Een van die aanbiedings wat vir my van besondere waarde was, was een deur Michael Matheson Miller. Ek deel graag ‘n samevatting daarvan.
Die vraag wat Michael Miller gevra het tydens die aanbieding oor ‘n Christelike visie op die persoon, was: wat gemaak as jy as Christen die uniekheid van God se skepping aanvaar en nie glo dat almal in een bed hoef te pas nie?
Hierdie vraag is veral belangrik in die huidige konteks in Suid-Afrika, aangesien die meerderheid se standpunte oor rasseverhoudinge, oor wat ‘n huwelik is, oor grondbesit, eiendomsreg en ander etiese sake nie noodwendig rekening hou met God se Woord nie. Wat as die meerderheid oor ‘n saak besluit maar dit is in stryd met die wil van God? Die meerderheid is tog nie altyd reg nie? Dit is dus belangrik om ‘n gesonde beeld te hê van die mens en sy plek in die skepping. Ons fokus hier op vier beginsels wat Michael Miller in sy aanbieding tydens die VSA konferensie beklemtoon het, wat ons in die huidige konteks in ons land in perspektief moet hou.
Die mens kan onderskei tussen reg en verkeerd
CS Lewis verwys na die dilemma van die moderne mens: die moderne mens het die organe van ‘n gesonde samelewing uitgehaal, maar verwag dat die samelewing gesond moet voortlewe. Om gesond te lewe, moet daar ‘n besef van reg en verkeerd in die samelewing wees en moet almal in die samelewing hulle aan die beginsels van wat reg en verkeerd is, verbind. Daar kan egter net een wyse wees om reg en verkeerd te toets. Volgens die Skrif is die mens gebind aan God se Woord en word reg en verkeerd gemeet aan die gehoorsaamheid al dan nie aan dié Woord.
Waarheid kan nie in alle opsigte gemeet word nie. Hoe weet iemand of ek my vrou liefhet? Kan iemand dit meet? Natuurlik nie! ‘n Mens sou kon sien aan die wyse hoe ek optree teenoor my vrou, maar die waarheid kan nie gemeet word met ‘n meetinstrument nie! Ons twyfel egter nie in wat waarheid is nie, aangesien God in sy Woord aan ons die meetsnoer vir waarheid gegee het. Die mens verstaan emosie, geloof, ervaring en kan sin maak uit voorspoed en teëspoed. Ons mag dus nie bepaal wat reg is, deur te aanvaar wat vir ons gemaklik is of selfs wat die meerderheid se opinie oor ‘n saak is nie. Ons moet bepaal wat reg en verkeerd is deur dit te meet aan die Skrif.
Die mens leef uit sy handewerk
Die mens verstaan die sin in die lewe. Diere verstaan wel hoe om iets te maak, maar hulle verstaan nie “hoekom” nie. ‘n Bewer kan ‘n dam bou. Maar bewers bou nie verskillende damme en verhuur dit aan die ander diere van die dam uit nie. Die mens het die vermoë om met sy intelligensie te kan skep en ‘n bestaan uit sy handewerk te kan maak. Om ‘n bestaan te maak uit jou handewerk en daaruit ‘n ekonomie te bou en in stand te hou, is dus wesenskenmerk van menswees. Daarvoor hoef ons nie jammer te sê of oor skaam te wees nie. God het ons so gemaak.
Die mens kan offers bring ter wille van die groter geheel
Teenoor diere het die mens die vermoë om te kan offer. Ons kan ter wille van ‘n saak, gemeenskap, familie of godsdiens opofferinge maak omdat ons die einddoel van die opoffering verstaan en kan sien dat die opoffering uiteindelik help om ‘n gesonde samelewing te bou wat weer vir ons en ons familie voordele inhou.
Die mens is ‘n morele wese
‘n Hond sê nie: “sjoe sy is baie mooi en ek begeer haar, maar ek sal wag tot ons trou” nie. Die mens is egter ‘n morele wese. Omdat ons weet wat reg en verkeerd is, moet ons kan sê: “ek sal wag tot ons trou”. Om dus eenvoudig aan vleeslike begeertes toe te gee, sonder om te wonder of iets reg of verkeerd is, tree ons soos ‘n redelose diere op. Om irrasioneel op te tree, maak jou nie vry nie. As iemand sy kop aanhoudend teen die muur bly stamp, sal ons mos nie sê: Kyk hoe vry is daardie persoon, nie. Vryheid beteken dus gebondenheid. ‘n Vis kan net vry wees wanneer hy in water is. Om ‘n vis uit die water te haal en op droë grond neer te sit en te sê: “Wees vry, vissie, nou is jy nie meer gebind aan die water nie”, maak nie die vis vry nie, maar neem eerder sy lewe. In dieselfde sin word ons deur die Woord van God gebind tot vryheid. Daarmee word bedoel dat die Woord van God vir ons duidelike grense gee waarvolgens ons moet lewe en solank ons binne die grense beweeg, gee Hy ons die vryheid om sy skepping te geniet en te waardeer. Buite die grense is egter nie vryheid nie, maar die dood.
Slot
Ons moet daarteen waak dat die meerderheid se opinie waarheid en leuen, reg en verkeerd, goed en sleg bepaal. Dan word die samelewing ‘n bed van Proskrustes waarin die individu gesny of gerek word om in die meerderheid se figuurlike bed te pas. Reg en verkeerd is duidelik – al is jy in die minderheid!