Hierdie artikel ondersoek die historiese betroubaarheid van Genesis 1-11 vanuit ‘n Gereformeerde perspektief en argumenteer dat hierdie hoofstukke betroubare openbaring van God se dade in tyd en ruimte bied, en nie mites, teologiese simboliek of etiologiese volksverhale is nie. Die ondersoek begin by die literêre aard van die teks, waar die narratiewe formules en die geslagsregisters van Genesis 5 en 10 die vertelling in werklike tydsverloop anker, en verbind dit met die verstaan van Calvyn en Bavinck dat Genesis die begin van die verlossingsgeskiedenis is.
Vervolgens word die onderskeid tussen die Skrif se wie en waarom en die natuurwetenskap se hoe uiteengesit aan die hand van Kuyper se soewereiniteit in eie kring.
Die artikel volg daarna die ontstaan van die moderne paradigmas wat Genesis onder verdenking gebring het, naamlik Lyell se uniformisme, Darwin se evolusieteorie en die histories-kritiese metode van Wellhausen, en toon aan dat die verwerping van ‘n historiese Adam, sondvloed en Babel die argumentasie van Romeine 5, 1 Korintiërs 15, Matteus 24 en Hebreërs 11 van sy grondslag stroop.
Op wetenskaplike vlak word die tweede wet van termodinamika en Behe se onherleibare kompleksiteit aangewend as besware teen die evolusionêre voorveronderstelling van spontane vooruitgang, en word teïstiese evolusionisme as teologies onhoudbaar beoordeel. Ten opsigte van die ouderdom van die aarde word verskeie Skrifgetroue uitlegmoontlikhede erken, met die waarskuwing dat Skrifgesag nie met een uitlegtradisie vereenselwig moet word nie.
Die volledige artikel is beskikbaar by hierdie skakel en ook op op: Academia.edu




In ons tyd word die Bybel en evangelie dikwels behandel asof dit ’n gewone verbruiksartikel of handelsproduk is. Die Here Jesus leer self dat die arbeider sy loon werd is (Lukas 10:7). Daarom kan daar nie fout gevind word met die gebruik dat ‘n leraar deur ‘n gemeente getrakteer word om die Woord van die Here te bedien in ruil vir versorging nie, of dat die Bybel verkoop word in ruil vir die instandhouding van die diens nie. Dit neem egter nooit die verantwoordelikheid van die kerk weg om soos ‘n profeet van ouds die Woord van God te bedien en uit te deel sonder voordeel of vrees nie.


Ons leef in ’n tyd waarin Bybelse gebruike en kerklike tradisies dikwels bevraagteken word. Een van hierdie vraagtekens handel oor die doop van kinders. Dit is ‘n vraag wat sedert die beginjare van die Christelike kerk gevra word en wat dikwels in ons tyd herhaal word wanneer mense vra: Moet ‘n persoon nie eers tot geloof kom voordat hulle gedoop word nie?
Die Handelinge-boek noem meermale dat die eerste gelowiges “eendragtig volhard het in die gebed” (Hand. 1:14; vgl. ook 2:42, 4:24, 12:5). Dit was dikwels in die konteks van afwagting, tydens vervolging of wanneer ‘n groot sendingpoging aangewend is. Die gebed was nie net individueel in die binnekamer nie, maar ook gesamentlik as gemeente. Dit het dikwels in huise, soms in die tempel, en later tydens die groot vervolging van die kerk, selfs in ruimtes soos katakombes plaasgevind.
Ester se verhaal staan soos ’n vlam van hoop in ‘n donker, ongehoorsame wêreld. Sy tree nie op in ‘n tyd van wonderwerke of profetiese visioene nie. Inteendeel, die boek wat haar naam dra, noem nie eers die Naam van God nie. Maar juis hierin lê die krag van die getuienis van die boek Ester. Ester wys vir ons dat die Heilige Gees nie net werk in dramatiese openbarings nie, maar ook in die stil vasberadenheid van ’n vrou wat gehoorsaam is in tye van krisis.





Ons lees vandag die Bybel in Afrikaans. So ‘n vertaling het nie sommer oornag ontstaan nie. Die “dringende behoefte aan ‘n Bybel in Afrikaans” is reeds in 1872 in ‘n artikel deur Arnolus Pannevis bepleit. Op 27 Augustus 1933 is die eerste amptelike vertaling van die Bybel in Afrikaans in gebruik geneem tydens ‘n feestelike geleentheid in Bloemfontein. Vandag 85 jaar gelede!