Die Teologie van die Koninkryk van God in Johannes

Die Teologie van die Koninkryk van God in Johannes

Prof. Gerrit Smit

Wat by die Sinoptici koninkryk van God is, is by Johannes “ewige lewe”. Ook hierin word die realisering van verlossing weergegee. Dit is die waarmaking van die weldade wat deur Christus aan die mense geskenk word. Die koningskap van Jesus word in Johannes se geskrifte deeglik erken. Ook sy goddelike-koninklike heerlikheid skitter uit sy ganse lewe, maar besonderlik uit die groot teken van kruis-en-opstanding. Die ewige lewe het gekom toe Jesus gekom het. Hy het die lewe in Homself en alleen Hy maak lewend en gee die lewe. Hy het van die begin af die lewe, die ware lewe, van ewigheid af as eie aan sy wese gehad. Jesus het nie net die lewe in Hom nie, maar Jesus Christus is die lewe.

By Johannes behou die lewe ‘n toekomstige dimensie en wek by die gelowige ‘n heerlike toekomsverwagting. Dit sal wees die uur van die opstanding van die liggaam van die gelowige tot die lewe asook die uur van die opstanding van die goddelose tot die ewige oordeel. Daar word dus verwys na die lewe na die dood, die lewe in die ewigheid. Dit sal bestaan in die heerlike belewenis van God te ken, om God te sien. Jesus verwys ook na die oordeel, na die laaste dag, na die oordeelsdag. Die ewige lewe is egter ‘n teenwoordige realiteit. Omdat Jesus die lewe is, en Hy is ‘n teenwoordige werklikheid in die wêreld, is die (ewige) lewe wat Hy skenk aan diegene wat in Hom glo, ook ‘n teenwoordige werklikheid. Dit is die oorgang na die nuwe lewe. Selfs al is Jesus nie meer sigbaar nie, sal hierdie belewenis van Jesus se nabyheid nog altyd daar wees. Hierdie lewe word opgewek deur die Heilige Gees.

Die Gees sal ook die lewe-skeppende water van God wees, wat na die kruis en opstanding in volheid uitgestort word in gelowiges en daar ‘n fontein word van die lewe wat die gelowiges oorvloedig vul. Lewe en oorvloed (oorvloedige lewe), water wat die dors verslaan, die inwoning van die Vader en die Seun in die gelowige, die meedeel van al die kennis wat nodig is vir die mens deur die Gees en die vrede wat die ontsteltenis en vrees verdryf, is alles wat deur die Heilige Gees uit Christus geskenk word. Dis die lewe.