Pilgrim’s Progress gratis beskikbaar

Ek het reeds vantevore hier berig oor die bekendstelling van John Bunyan se Pilgrim’s Progress. Verlede jaar is die animasiefilm bekend gestel en as deel van die wêreldwye COVID-19 inperkings wat tans 2 biljoen mense in afsondering het, stel hulle die film gratis beskikbaar aan Christene wêreldwyd.

John Bunyan was ‘n predikant wat ongeveer 300 jaar gelede geleef het en in die tronk gegooi is omdat hy geweier het om op te hou om oor Christus te preek. Terwyl hy in die tronk was het hy die boek: The Pilgrim’s Progress geskryf. Sedert die publisering van die boek was die boek nog nooit uit druk nie en naas die Bybel, is Pilgrim’s Progress die boek wat die meeste gelees is ooit.

Dit is werklik ‘n besondere film wat u met vrymoedigheid as gesin kan kyk. Die film vertel die verhaal van ‘n Christen (Christian) wat ontslae probeer raak van sy sorge en oral probeer tot hy uiteindelik die nou pad ontdek na vryheid en verlossing.

Maak gerus gebruik van Revelation Media se gratis aanbod om die film te kyk saam met u gesin.

Die film kan hier afgelaai word en vereis ‘n geldige e-posadres.

The Riot and the Dance film uitgestel weens COVID-19

Vroeër is berig dat The Riot and the Dance ‘n eksklusiewe geleentheid is om God se skepping op ‘n unieke manier te beleef. Ongelukkig is die vertoning wat geskeduleer was vir 15 April 2020 in Pretoria gekanselleer tot verdere kennisgewing weens die totale inperking (“lockdown”) wat geld vanaf 26 Maart 2020-16 April 2020.

Hoe om koelkop te bly tydens COVID-19 inperking

Teen hierdie tyd is almal in rep-en-roer nadat die regering ‘n algehele grendelstatus (“lockdown”) afgekondig wat afskop om middernag op 26 Maart 2020 en eindig om middernag 16 April 2020 (vir nou in elk geval).  Behalwe vir die risiko van die virus, is daar ook die risiko van moontlike sosiale onrus wat kan ontwikkel in die volgende 21 dae en daarom is dit nodig dat ons kalm bly en nugter dink.

Ons is in die laaste ure voor die inperking begin en baie mense wonder hoe om weke van afsondering te hanteer en waarmee om besig te bly? Volgens kenners is roetine die beste manier om isolasie te hanteer. Hou by ‘n daaglikse roetine: staan dieselfde tyd op, maak jou bed op, hou jou huis skoon, was die skottelgoed, sit nog steeds jou grimering aan al gaan jy nie uit vir kos of mediese redes nie. Moenie in jou nagklere rondloop die hele dag nie. Stel vir jouself doelwitte en hou sover moontlik daarby. Lees ‘n boek, verf jou kamer, speel speletjies.

Baie van ons werk vir die eerste keer van die huis af en dit help baie as jy by kantoorure bly en jou werk in daardie tyd afhandel.

Isolasie kan mense geestelik beïnvloed en baie mense kan dit nie hanteer nie. Daarom verloor baie mense tydens isolasie hulle sin vir werklikheid en tree selfs irrasioneel op. Hou kop, bly kalm, hou by ‘n roetine. Gebruik die tyd om jou te verdiep in die Bybel en bid dat die Here vir ons uitkoms gee. Jy sal dit oorleef deur die krag van die Gees. Daar is talle voorbeelde in die kerkgeskiedenis van Christene wat kristye omskep het in geleenthede tot eer van God.

Wanneer natuurrampe en virusse ons tref!

Die laaste paar weke is COVID-19 byna die enigste nuus wat mens hoor en sien. Dit verdwerg selfs fase 4 beurtkrag wat vandeesweek ingestel is, so al asof die beurtkrag ons net so terloops verontrief. En hoewel ons maar lig moet loop vir hierdie gogga, bring dit ‘n belangrike saak onder ons aandag: wat antwoord Christene wanneer natuurrampe en virusse ons tref?

Die afgelope jare het verskriklike natuurrampe die wêreld getref:

  • ‘n Groot Tsunami in Asië in 2004
  • Katrina in 2005
  • Sikloon Myanmar in 2008
  • Die aardbewing in Haiti in 2010
  • Tsunami in Sri Lanka en Indië in 2011
  • Geweldige brande in Australië in 2019
  • COVID-19 in 2020

Wanneer natuurrampe ons tref, vra mense gewoonlik vrae: waarom het dit gebeur? Wat kan ek doen? Het God dit veroorsaak? Waarom laat Hy dit dan toe?

God het al in die geskiedenis rampe oor die mensdom gebring: die vloed oor die aarde in Gén. 6; die verwoesting van Sodom en Gomorra (Gén. 18-19); droogtes, plae en peste en ‘n groot aardbewing in die tyd van Amos (Amos 4:6-12). Sommige rampe word deur die mens veroorsaak (Chernobyl, Bhopal, veldbrande). Rampe tref egter ook onskuldiges. Kyk bv. na Job 1:8-22; 2 Kor. 11:23-27.

Dus kan ons sê dat hoewel God natuurrampe en siektes kan gebruik om mense te straf, of om te roep tot bekering, dat God ook hierdie dinge toelaat. Die skepping is nie volmaak nie. As gevolg van die sonde is daar baie onreg en lyding en siekte op aarde. Die Here Jesus leer ons in Matteus 6:19-21 dat ons nie so geheg moet raak aan hierdie wêreld en al sy lekker dinge dat ons skatte bymekaar maak op aarde, wat verniel kan word en waar diewe kan inbreek en dit steel nie, maar dat ons skatte bymekaar moet maak in die hemel, omdat ‘n mens geneig is om jou hart te hou waar jou skatte is.

COVID-19 help ons om nie die wêreld te aantreklik te vind nie, en ons te herinner dat daar iets beter is, omdat hierdie wêreld nie ons woning is nie (Heb. 13:14 – Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige.)

Baie mense van ons tyd dink dat hulle sonder God kan klaarkom. God laat dikwels hierdie soort rampe toe, om ons te verplig om na te dink oor die waarde van die lewe, hoe swak en verganklik ons is en dat ons nie tot alles in staat is deur ons eie krag nie, maar God wel nodig het.

Laat ons egter elke geleentheid aangryp om aan mekaar goed te doen – hierdie soort rampe gee ons die geleentheid om nie alleen aan onsself te laat dink nie, maar ook aan ons medemens. Laat ons bid en op God vertrou dat Hy alles ten goede laat meewerk op grond van sy liefde vir sy kinders. En laat ons die geleentheid benut om na te dink hoe nietig die mens is en hoe dikwels hierdie wêreld ons verlei om skatte hier op aarde bymekaar te maak. Die ou mense het nie verniet gesê: die doodskleed het nie sakke nie. 

Eksklusief: Bekendstelling van “The Riot and the dance: Water”

Die Afrikaanse Protestantse Akademie bied met trots aan:

The RIOT AND THE DANCE: WATER

Hierdie dokumentêr is vervaardig deur dr. Gordon Wilson en bied ‘n Christelike perspektief op BBC Earth se evolusionistiese dokumentêre reeks oor die aarde.

Die AP Akademie het die regte gekoop om die film in Suid-Afrika te vertoon. Die glansgeleentheid vind plaas op 15 April 2020. Die film word aangebied in hoë definisie by die Rockwood Teater in Pretoria.

Kom duik saam met dr. Gordon Wilson in GOD se vloeibare wêreld, in hoë definisie en stereo. Die dokumentêr vat ons deur die waters van die aarde, alles geskep deur een Skepper-Kunstenaar.

Die dokumentêr bied ‘n antwoord vir mense wat dink dat die aarde deur ‘n groot knal ontstaan het.

Kaartjies is beperk, so spring gou.

Bespreek u kaartjies deur Quicket 

of besoek die webwerf https://riotandthedancewater.mailchimpsites.com/ vir meer inligting.

Kyk die lokprent hier:

AP Akademie: The Riot and the Dance Water