Die Christen se roeping tot entrepreneurskap

Toe ek by Acton Universiteit in Grand Rapids, Michigan, ingeskryf was, het ek onder andere ‘n kursus bygewoon wat deur Peter Greer van HOPE International aangebied is. Dit het gegaan oor entrepreneurskap. Hy het begin met ‘n slagspreuk: “As jy alleen probeer boer, sal jy nooit deur die droë seisoen kom nie.” Dit vat twee dinge saam wat dikwels in die Christelike nadenke oor werk en entrepreneurskap geskei word. Dit is dat die mens geroep is om te werk en te bou aan die een kant, maar dat die mens dit nie alleen kan doen nie; hy is geroep om dit in gemeenskap met ander te doen.

In Suid-Afrika, waar werkloosheid een van die swaarste laste op gesinne is en deesdae al hoe meer gemeentes se begroting en toekoms raak, het hierdie tema ‘n dringendheid wat aangespreek moet word. Die kerk het eeue lank gedink in terme van liefdadigheid, en liefdadigheid het sy regmatige plek. Die vraag wat ek hier wil stel is: watter plek beklee die skep van waarde, die begin van ‘n besigheid en die verskaffing van werk in die roeping van die Christen en behoort die kerke nie meer daarop te fokus nie?

My argument is dat entrepreneurskap een van die gestaltes is waarin die mens die kultuuropdrag van Genesis 1 en 2 uitleef. Wanneer dit in afhanklikheid van God, in diens van die naaste en binne die gemeenskap van die kerk beoefen word, is dit ‘n vorm van gehoorsaamheid aan die Skrif. Die een wat werk skep is hiervolgens ‘n rentmeester met ‘n roeping, en sy werk raak nie net die waardigheid van die medemens nie, maar dien ook tot die eer van God.

Die kultuuropdrag as vertrekpunt

Die Bybel begin die tema van menslike arbeid al daar by die skepping, lank voor die sondeval. Kort na die skepping van die mens as man en vrou lees ons: “En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Gen. 1:28). Die werkwoorde כָּבַשׁ (onderwerp) en רָדָה (heers) beskryf die mens as God se rentmeester, wat die skepping namens die Koning orden en bestuur.

Genesis 2:15 brei uit op dié opdrag: “Toe het die Here God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak.” Die twee werkwoorde עָבַד (bewerk) en שָׁמַר (bewaar) word deurgaans in die Pentateug ook vir die priesterlike diens in die tabernakel gebruik (bv. Num. 3:7-8). Die tuin word voorgestel as ‘n heiligdom, en die tuinier kry die werk van ‘n priester, wat deur sy arbeid kom tot aanbidding van God. 

Drie afleidings word hieruit gemaak. Eerstens behoort werk tot die goedheid van die skepping en het sy oorsprong in die seën van God. Arbeid is nie God se straf oor die mens nie, want God het dit voor die sondeval reeds aan die mens opgedra om die tuin te bewerk. Tweedens is die skepping voltooi, maar die kultuurprodukte is onvoltooid gelaat met die bedoeling dat die mens dit verder moet ontwikkel. Die Bybel beskryf ook die ontwikkeling van God se plan vir die mens soos volg: die tuin waarin God die mens geplaas het sal mettertyd ‘n stad word, soos die Bybel se laaste bladsye met die nuwe Jerusalem aandui (Op. 21:24-26). Derdens dra die mens as beelddraer van God iets van God se eie kreatiwiteit in homself. Dat die skepping uit niks gemaak is, is iets wat net God kan doen, maar die mens bring nuwe dinge voort uit wat God gegee het, en daarin weerspieël hy as beelddraer van God sy Maker.

Werk ná die sondeval en in Christus

Ná die sondeval het die kultuuropdrag gebly, maar die arbeid het hierna onder die vloek gekom van sweet en trane en bloed. “…vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (Gen. 3:17-19). Dorings en distels, sweet, werkloosheid, mislukte oeste en uitbuiting van die medemens is sedertdien deel van elke ekonomie. Dat daar droë seisoene en mislukkings in die mens se arbeid is, is ‘n harde werklikheid na die sondeval.

Deur Christus word die mens herstel as beelddraer van God, en daarmee ook as werker. Dit beteken glad nie dat gelowiges nou reeds terug is in die Paradys en nie meer in die sweet van hulle aangesig moet werk, tussen dorings en distels nie. Maar dit beteken wel dat Christene se arbeid ‘n ander perspektief kry as bloot ‘n manier om ‘n inkomste te verdien na ‘n manier om God se tuin te bewerk en Hom daardeur te verheerlik. 

Paulus skryf juis aan slawe, die mees vernederde werkers van sy tyd die volgende: “En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie…” (Kol. 3:23). Na die sestiende eeuse Reformasie het ons hierdie insig herontdek in die belydenis van werk as roeping. Die hervormers het voortdurend gepraat van die gelowige se vocatio. Vocatio is die Latynse woord vir roeping, wat ooreenstem met die Engelse woord “vocation” oftewel “beroep”. Calvyn leer in die Institusie (3.10.6) dat God aan elkeen ‘n eie lewenstaak as ‘n soort wagpos gegee het, sodat niemand doelloos deur die lewe mag dwaal nie. Die boer, die loodgieter, die onderwyser en die dokter, dien God net so goed soos die predikant.

Die Heidelbergse Kategismus gee hieraan onder andere ook ‘n ekonomiese inhoud. In die uitleg van die agtste gebod vra Vraag 111 wat God gebied in die agste gebod, en antwoord: “Ek moet die belange van my naaste, waar ek kan en mag, bevorder en hom so behandel soos ek wil hê dat hy my moet behandel (a). Daarby moet ek ook my werk getrou doen, sodat ek die behoeftiges in hulle nood kan help (b).

  1. Matt 7:12. (b) Ef 4:28.

Die Kategismus verwys hier na Efesiërs 4:28. Daar staan: “Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het.” Die agste gebod verbied diefstal, maar in die Gereformeerde belydenis is produktiewe arbeid die positiewe kant van die agste gebod. As jy nie mag steel nie, is die teenkant dat jy moet werk. Wie werk skep, bevorder dus die beste van sy naaste.

Entrepreneurskap as gestalte van die kultuuropdrag

Die beste Afrikaanse sinoniem vir entrepreneurskap is ondernemer. Dit sê iets van die inhoud van die woord, naamlik iemand wat iets onderneem. Dit is iemand wat ‘n behoefte raaksien, die risiko bereken en aanvaar, mense en middele bymekaarbring en waarde skep wat nie tevore bestaan het nie. Wie so te werk gaan, doen in die kleine wat God aan die mens in die groot kultuuropdrag opgedra het, naamlik om uit die gegewe skepping iets voort te bring wat ander dien. Adam, die eerste entrepreneur, was ‘n tuinier.

Die Bybel is vol van soortgelyke voorbeelde. Die deugsame vrou van Spreuke 31 “…dink na oor ’n stuk grond en koop dit, van die vrug van haar hande plant sy ’n wingerd” (Spr. 31:16). Lidia was ‘n handelaar in purperkleurstof (Hand. 16:14), en Paulus het as tentmaker in sy eie onderhoud voorsien (Hand. 18:3; 2 Thess. 3:8). 

Ons kan die lesse van eeue se werk onder armes opsom in die onderskeid tussen ‘n “hand-out” (uitdeel van goedere sonder teenprestasie) en ‘n “hand-up” (skep van ‘n geleentheid vir teenprestasie) volgens Peter Greer. Hy verduidelik dit in vyf kontraste, wat saam ‘n antwoord bied vir goedbedoelde maar ondeurdagte barmhartigheid. Steve Corbett en Brian Fikkert het in When Helping Hurts (2009) ‘n soortgelyke kritiek ontwikkel, en die twee benaderings vul mekaar aan. In tabelvorm kan dit so verduidelik word:

Hand-out

Hand-upVoorbeeld
NoodhulpOntwikkelingDie Samaritaan verbind eers die wonde (Luk. 10:34), en daarna begin die lang pad van herstel.
Fokus op simptomeSoek die oorsakeArmoede het geestelike, sosiale en materiële wortels wat saam aangespreek moet word.
Doen iets vir iemandDoen iets saam met iemandDoen aan die naaste soos jy aan jouself gedoen wil hê
Veroorsaak afhanklikheidOntwikkel potensiaalDie arme is ‘n beelddraer met gawes wat ontsluit wil word.
HulpWerkVolhoubare werk skep waardigheid wat barmhartigheid nie kan gee nie.

Die eerste voorbeeld vra dat ons kyk na die tyd en omstandighede. Na ‘n vloed of ‘n brand of ‘n langdurige droogte is nood hulp en barmhartigheid die regte reaksie, en dan moet die kerk vinnig en ruim gee. Probleme ontstaan wanneer hulp voortduur lank nadat die krisis verby is, want dan ondermyn dit plaaslike markte en kweek dit afhanklikheid.

Wie altyd iets vir armes doen, behandel hulle onbewus as minderwaardiges, en dan mis dit die kennis en vernuf wat in elke gemeenskap teenwoordig is. Die Gereformeerde leer van die imago Dei weerspreek die houding van die skep van afhanklikheid. Elke mens, ook die armste, het van God gawes ontvang waarmee hy kan woeker, en die taak van die helper is om daardie potensiaal te ontsluit.

Die beste welsynsprogram is ‘n werk

Greer haal dr. John M. Perkins aan, wat gesê het: “The best welfare program is a job.” Perkins het self in armoede in Mississippi grootgeword en het sy lewe lank volgehou dat die evangelie die hele mens raak en daarom moet die evangelie ook lei tot werkskepping. 

God het hierdie beginsel reeds in die Ou Testament in die wet ingebou. Die Israelitiese boer moes die kante van sy landery ongeoes laat en die na-oes vir die arme en die vreemdeling agterlaat (Lev. 19:9-10). Die boer moes nie die na-oes gaan optel namens die armes en vir hulle gaan uitdeel nie. Die arme het kos ontvang deur self op die land te werk, soos Rut op die veld van Boas (Rut 2). Die wat nie in die landery wou gaan werk nie, kon nie eet nie. Die welsynstelsel van Israel het die waardigheid van die arme beskerm deur vir hom ‘n werk te gee en nie bloot uitgedeel aan die wat nie wil werk nie.

Paulus is in dieselfde konteks reguit met die gemeente in Thessalonika: “Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit altyd beveel: as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” (2 Thess. 3:10). Die klem val op die woord wil. As iemand nie kan nie, is dit ‘n ander saak, maar as iemand nie wil nie, moet hy nie in die kwaad gesterk word nie. Die apostel veroordeel ledigheid, en hy laat op ander plekke ruimte vir dié wat weens ouderdom, siekte of gestremdheid nie kan werk nie en deur die gemeente versorg moet word (bv. 1 Tim. 5:3-16). Vir almal wat wel kan werk, is ‘n werk die beste geskenk, en wie ‘n onderneming begin wat werk skep, gee hierdie geskenk op die beste moontlike manier.

Kapitaal, gemeenskap en Christus

Greer noem drie bestanddele wat ‘n ekonomie laat werk of stagneer: kapitaal, gemeenskap en Christus. Elkeen sonder die ander twee skiet tekort. Kapitaal sonder gemeenskap word uitbuiting, gemeenskap sonder kapitaal bly armoede, en albei sonder Christus mis die doel waarvoor die mens geskep is en lei tot sondige ekonomiese praktyke.

Die boer wat alleen werk, sal die droë seisoen nie oorleef nie. Prediker sê dieselfde: “Twee is beter as een, want hulle het ’n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid. Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar ’n tweede is om hom op te tel.” (Pred. 4:9-10). Die Christelike entrepreneur werk daarom binne ‘n netwerk van verbondsverhoudinge: sy gesin, sy werknemers, sy kliënte, sy gemeenskap en sy gemeente.

Daar is vier dimensies wat saam moet kom om hoop te skep:

  • Geestelik: die verhouding met God, waaruit alle ander verhoudinge hulle rigting ontvang.
  • Persoonlik: die selfverstaan van die mens as beelddraer met waardigheid en gawes.
  • Sosiaal: die verhouding met die naaste en die gemeenskap.
  • Materieel: die verhouding met die skepping, insluitend inkomste, voedsel en behuising.

Dit sluit aan by die gevolge van die sondeval as ‘n breuk in vier verhoudinge: met God, met die self, met die naaste en met die skepping. Armoede is dus meer as ‘n tekort aan geld. Dit is ook ‘n tekort aan motivering, mense wat kan help (‘n netwerk), en hoop. Herstel moet al vier verhoudinge aanspreek.

Versoekings en grense

‘n Teologie van entrepreneurskap wat die gevare van entrepreneurskap verswyg, sou die sondeval vergeet. Die Skrif waarsku die entrepreneur teen minstens vier versoekings, en elkeen het ‘n Bybelse antwoord.

Die eerste is hoogmoed. Moses waarsku Israel voor die intog teen die dag wanneer die volk sal sê: “My krag en die sterkte van my hand het vir my hierdie rykdom verwerwe” (Deut. 8:17). Die mite van die selfgemaakte mens is ‘n vorm van ondankbaarheid. Elke talent, elke geleentheid en elke goeie oes is ‘n gawe van God.

Die tweede is die afgodery van geldgierigheid. “Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!” (Matt. 6:24), en “…die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels…” (1 Tim. 6:10). Hier lê ook ‘n waarskuwing teen die welvaartsteologie, wat in Afrika wyd versprei is en materiële sukses as bewys van God se guns voorhou. Dit is onbybels. Materiële groei sonder geestelike, persoonlike en sosiale herstel is armoede in ‘n ander gedaante.

Die derde is uitbuiting. Jakobus spreek die ryk grondeienaars aan: “Kyk, die loon van die arbeiders wat julle lande afgeoes het, wat deur julle agtergehou is, roep uit; en die geroep van die maaiers het gekom tot in die ore van die Here van die leërskare” (Jak. 5:4). Die Christen-entrepreneur moet regverdige lone betaal, dit betyds betaal en sy werknemers as mede-beelddraers behandel.

Die vierde is rusteloosheid. Die vierde gebod beveel ses dae van arbeid en een van rus (Eks. 20:9-10). Die rusdag herinner die entrepreneur dat die wêreld nie op sy skouers rus nie en dat hy net ‘n mens is wat ook moet rus. God het die skepping voltooi en daarna gerus, en die mens rus in sy werk omdat hy weet dat die uitkoms in die hand van God is. Die gevaar van rusteloosheid bedreig die entrepreneur wie se besigheid stilweg sy eerste liefde word en sy gesin en sy verhouding met God afskeep.

Soek die vrede van die stad

Toe Juda in ballingskap in Babel was, het Jeremia die volk opgeroep om huise te bou, tuine te plant en te werk vir die welstand van die vreemde stad: “…soek die vrede van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, en bid daarvoor tot die Here; want in die vrede daarvan sal julle vrede hê” (Jer. 29:7). Die opdrag is ‘n herhaling van die kultuuropdrag in ‘n gebroke wêreld. Ook in ‘n land met hoë werkloosheid en swak instellings bly die Christen geroep om te bou en te werk aan die vrede van die land. 

Vir kerke in Suid-Afrika volg ‘n paar praktiese wenke:

  • Die prediking en kategese moet die roeping van die entrepreneur as ‘n Godgegewe roeping erken, met dieselfde erns waarmee die roeping van die predikant en die sendeling erken word.
  • Die diakonie kan, waar die omstandighede dit toelaat, die oorgang maak van noodhulp na ontwikkeling deur spaarplanne, vaardigheidsopleiding en selfs deur klein lenings te bied.
  • Ervare sakelui in die gemeente kan jonger lidmate en werksoekers as mentors begelei, sodat die kapitaal van kennis en verhoudinge gedeel word.
  • Die gemeente moet die gemeenskap wees waarbinne die entrepreneur verantwoording doen.
  • Die entrepreneur moet eerstens sy eie gemeente help voordat hy ander maatskaplike of verdienstelike programme finansieel ondersteun. 

Die Christen-entrepreneur staan in die opdrag van die eerste tuinier. Hy bewerk en bewaak, hy skep werk vir sy naaste, en hy doen dit in die gemeenskap van die heiliges tot eer van God. Die kerk se beste diakonale projek is dikwels ‘n lidmaat wat ander lidmate in diens neem en nie ‘n diakonie wat bloot net uitdeel aan die armes nie, tensy dit ‘n noodgeval is of ‘n situasie van iemand wat werklik nie kan werk nie. 

Vir verdere nadenke:

  • Greer, Peter en Phil Smith. Created to Flourish: How Employment-Based Solutions Help Eradicate Poverty. Lancaster: HOPE International, 2016.
  • Corbett, Steve en Brian Fikkert. When Helping Hurts. Chicago: Moody, 2009.
  • Calvyn, Johannes. Institusie van die Christelike Godsdiens, 3.10.6.
  • Heidelbergse Kategismus, Sondag 42, Vraag en Antwoord 111.


Discover more from Tuis by gdssmit.com

Subscribe to get the latest posts sent to your email.