Jy dra God se beeld

Die beeld van God skitter in die siel

prof. Gerrit Smit

Lees: Mt. 10:17-28

Calvyn: Sommige nuuskierige mense het die dwaalleer ingevoer dat ons siele saam met ons liggame sal opstaan asof die mens ten volle tot ‘n einde kom. Ander mense weer het gedink dat ons siele met nuwe liggame beklee sal word, hoewel hulle toegee dat ons siele onsterflik is, waardeur hulle die opstanding van die liggaam verloën (Inst. III.25.6, 1-6).

Die siel sal nie verdwyn nie

Lees: Mt. 10:28; 2 Kor. 5:1,10

Die siel is nie ‘n verdwynende asem wat saam met die liggaam tot niet gaan nie. Die siel is immers na die beeld van God geskape. Dit sou beteken dat die tempel van die Heilige Gees vernietig kan word. Die Skrif leer ons dat die liggaam soos ‘n tent is wat tydelik hier op aarde opgeslaan word en as die tent afgebreek word, word dit in die hemel opgeslaan. Verder leer ons Here Jesus dat mense mag het om die liggaam te vernietig, maar nie die siel nie. Die siel sal dus nie verdwyn nie, maar bewustelik by God woon.

Die siel van die mens verskil van die dier

Die mens se siel verskil ook van die dier. Die Skrif laat nie ruimte vir die ewigheid van die dier nie. In hierdie verband is die mens die kroon van die skepping. Reeds in die Paradys het God aan die mens die opdrag gegee om oor die skepping te heers. Alleen van die mens word gesê dat hy na die beeld van God geskape is (Gén. 1:26-28) en alleen met die mens sluit God sy verbond. Paulus leer dat die skepping met reikhalsende verlange (lt. met uitgestrekte nek) uitsien na die openbaarmaking van die kinders van God, want ter wille van hierdie kinders van God sal ook die skepping in sy verganklikheid nuut gemaak word (Rom. 8:19). Die mens staan dus in ‘n besondere verhouding met God. Die mens het ook ‘n besondere verantwoordelikheid teenoor God. Van ons word verwag om uit te sien na die dag wanneer ons siele by die ewige God sal woon. In die tussentyd maak Hy ons kamer gereed.

Om oor na te dink: Hoe verklaar u die nuwe hemel en die nuwe aarde? Sal die gelowiges in die nuwe hemel woon of op die nuwe aarde? Maak dit saak?