Om te vergewe – ook horisontaal

Hoe dikwels hoor ‘n mens nie iemand sê: “ek sal so iemand vergewe, maar wat hy/sy aan my gedoen het, sal ek nooit vergeet nie”? En dit is inderdaad so dat wanneer dit by die onreg kom, het meeste van ons ‘n geheue soos ‘n olifant. Dink net hoe God die dinge wat die mense doen met goeie rede teen hulle behoort te hou. Dink net hoe God ten spyte van ons tekortkominge en nie as gevolg daarvan nie, na ons lewe kyk.  “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” – 1 Joh. 1:9. 

Oorsaak van die sonde

Hoekom is die wêreld so vol sonde? Toe die Here die aarde gemaak het, was alles dan só goed en mooi (Gén. 1:31)? Ja, ook die skepping van die mens was goed en mooi. Die boosheid van die mens kom dus nie uit die skepping nie, maar moet op ‘n ander plek gesoek word. Ons hoef nie te wonder waar al die onreg op die aarde vandaan kom nie. Dit kom uit die mens, ja, uit sy hart. Jakobus leer: Moenie dwaal nie (Jak. 1:16) – sonde kom uit jou hart en as dit vertroetel word, mond dit uit in dade. Die mens het deur sy eie sonde die rein skepping kom besoedel. Die Skrif leer ons in 1 Johannes 1:8-10 dat daar vir ons ‘n uitkomkans is – bely die onreg! Wanneer ons ons sonde bely, is Hy getrou en regverdig om dit te vergewe, leer vers 8.

Ook horisontaal

Sondevergifnis kan egter nie van een kant af kom nie. As God jou vergewe, hoeveel te meer behoort ons nie mede-sondaars (mede-mense) te vergewe nie? Hoeveel twis en liefdeloosheid kan daar nie tussen families wees nie? Gaan maak reg, terwyl jy nog tyd het. Hoeveel ongelukkigheid veroorsaak ons nie deur te vinnig te reageer op Facebook nie? Dink bietjie daaroor. Hoeveel moeilikheid het ons nie al veroorsaak deur ‘n whatsapp boodskap nie? Dink voor jy praat impliseer ook: dink voor jy tik en “send” druk. Wat gesê is, is gesê. Jy sal dit nooit weer kan “ont”sê nie.

Die mens moet waak daarteen om die genade van die Here te wil toe-eien en die vergifnis te wil omhels, sonder om die vergifnis horisontaal uit te deel na die medemens. Soos Christus vergeef het, moet julle ook vergeef. As jy dit regkry om te vergewe, het jy die bewys van God se genade in jou lewe (Heidelbergse Kategismus, Sondag 51, vraag 126). God gee sy genade aan die sondaarmens wat sy lewe aan God verskuldig is. Dit gee jou die krag om vanuit die genade te kan leef in vergifnis.