Verkondig en vertrou

Verkondig die Evangelie – laat die res aan God oor

prof. Gerrit Smit

Lees: Kol. 4:2-6; Mt. 10:12-22

Calvyn: Sover dit ons dus aangaan, moet ons heilsame en streng teregwysing as medisyne vir almal aanwend sodat hulle nie te gronde gaan of ander te gronde laat gaan nie. Dit kom God egter toe om teregwysing nuttig te maak vir diegene wat Hy vooraf geken en vooraf bestem het (Inst. III.23.14, 36-40).

Ons roeping: verkondig tydig en ontydig

Lees: Mt. 10:14-16

Dis nie ‘n aanvaarbare standpunt dat gelowiges weier om die Evangelie te verkondig, met die verskoning dat as iemand uitverkies is, hulle in elk geval tot geloof sal kom nie. Hieroor skryf Calvyn dat sulke mense dwase leraars is wat uit die kerk moet padgee. Hier in Mt. 10 gee Christus sy dissipels opdrag om die Evangelie aan die verlore skape van Israel te gaan verkondig (vers 6), ongeag of hulle wil hoor. Ons moet daarna verlang dat almal die Evangelie hoor en dat almal gered moet word.

Laat die res aan God oor

Lees: Kol. 4:3-4

Die verborgenheid van Christus moet gepreek word. In sy vermaning om te bid, spreek die apostel die hoop uit dat die gemeente nie net self vir Paulus en sy metgeselle sal bid om vrymoedigheid te hê om die Evangelie te verkondig nie, maar vermaan hy die gemeente dat hulle self ook in wysheid moet wandel sodat hulle weet hoe om die mense te antwoord. Dit is hier voor-die-hand-liggend dat die gemeente self ook vermaan word om die Evangelie te verkondig en dit nie oor te laat aan die leraar nie. Wat ons betref, behoort ons die teregwysing van Christus aan alle mense te rig met die doel om te genees. Dit word aan God oorgelaat om die teregwysing kragtig te maak vir diegene in wie Hy wil.

Om oor te bid: Bid die Here vir vrymoedigheid om die Evangelie aan ander te bring. Bid ook vir wysheid sodat die regte woorde het om aan die mense te verkondig.