Uit Egipte het ek my Seun geroep…

Die afgelope paar maande was ek maar stil gewees op die blad. Dit was egter nie omdat ek stilgesit het nie. Ek het die wonderlike voorreg gehad om vanjaar by twee afsonderlike geleenthede die lande van Israel en Egipte te besoek, van bo in die noorde van Galilea tot heel onder in die suide van Eilat en die Rooi See; die Sinaïwoestyn, Kaïro, Luxor, mummies, farao’s, piramides besoek, kerke in vryheid en kerke onder vervolging deur die Islam; onder andere deelgeneem aan argeologiese opgrawings in Gorasin, Galilea en vele meer. Hier onder is hoogtepunte van die Egipte besoek…

Iemand vir wie ek omgee het betrokke geraak by ‘n kultus of sekte…

Ek kry vanoggend die volgende vraag van iemand wat moedeloos is omdat iemand vir wie hulle baie omgee betrokke geraak het by ‘n sektegroep en nou alle waarhede van die Bybel bevraagteken. Wat moet ons in so ‘n geval doen?

In die eerste plek moet ons ‘n dwaalleer of sekte beskou as ‘n standpunt wat in stryd is met die Bybel. Ons sal dus onsself moet ingrawe in die Bybelse antwoorde op die sake waarin die sekte dwaal om ‘n behoorlike en aanvaarbare antwoord reg te hê.

Maar dit is ook belangrik om te besef dat ‘n mens iemand wat by ‘n sekte betrokke is baie moeilik oortuig van die dwaalleer: sektes is geneig om hulle volgelinge se kennis oor ‘n onderwerp so te indoktrineer en bestaande waarhede so af te breek, dat die volgelinge mettertyd begin glo dat net hulle reg is. En wanneer hulle teenkanting kry, is dit presies wat hulle verwag want, so glo hulle, “dit is die duiwel wat probeer om hierdie ‘waarheid’ met leuens te vul”. Een van die klassieke kenmerke van ‘n sekte is die werkswyse waarin bestaande kennis gewysig moet word, bv. Christelike feesdae word beskou as heidens, of Christelike simbole word as verdag beskou, of Christelike gebruike word bevraagteken, Bybeltekste of -vertalings word verdag gemaak, ‘n persoon beskou homself as die primêre stigter of leier van die groep, en hou daarvan om na homself te verwys as die “stigter”, of “profeet” of “eerste”.

Prakties is daar ‘n paar dinge wat ons moet en nie moet doen nie:

  • Moenie toelaat dat die persone wat by die sekte betrokke is, met jou redeneer oor Bybelse waarhede nie. Neem die Skrif as enigste norm en bewys jou standpunt uit die Skrif.
  • Behou kontak sover moontlik. Dit bly ‘n mens se ouers/kinders/familie, en al is hulle op ‘n dwaalspoor is die reaksie wat hulle verwag, dié van verwerping. Indien hulle verwerp word, versterk dit hulle idee dat hulle die waarheid beet het, want die wêreld is nou teen hulle.
  • Probeer om nie oor kerklike sake te redeneer nie.
  • Indien die gesprek wel oor kerklike sake handel, stel die waarheid van die Bybel op ‘n kalm manier en moenie uitgelok word om kwaad te word nie. Mense wat betrokke is by sektes hou daarvan om ander uit te lok om hulle humeur te verloor.
  • Wees op hoogte van die feite. Maak bv. seker waarom jy glo wat jy glo.
  • Gebruik die gesprekke as ‘n geleentheid om te bevraagteken wat hy/sy glo. Vra bv. logiese vrae, soos: as julle ‘n probleem het met die datum van hierdie fees, en julle dit nie verstaan nie, dink julle die kerk deur die eeue heen was so onkundig? Is dit nie dalk julle wat nie verstaan nie? As Christus alleen die weg en die waarheid is, maak dit saak as die fees op hierdie of daardie manier gevier word? Hoekom? Hoekom nie?
  • Feitlik alle sektegroepe het een-of-ander messias buiten Christus. Probeer om te bepaal wie dit is, en wys op die feit dat alleen Christus die weg is.
  • Baie mense sluit by sektes aan omdat hulle teleurgestel is in die kerk. Sektes trek mense deur hulle omgee en warmte, maar versmoor mense se gesonde verstand met valse gerustheid en twyfel oor die dinge wat hulle tot dusver as waarheid aanvaar het. Die enigste manier om met dwaalleer te werk is om konsekwent die waarheid voor te hou en te glo dat die Gees met die verstand en die hart werk.
  • Hou aan om vir hulle te bid. Die gebed van ‘n regverdige het groot krag.