Het ons ‘n Roomse Bybel?
Prof. GDS Smit
Ek kry gereeld die vraag of die Bybel soos ons dit vandag ken, dieselfde een is as wat die vroeg-Christelike kerk gebruik het en of die vroeë kerkvaders dieselfde Kanon (vergelyk die artikel hieroor elders in dié uitgawe) geken het as ons?
Daar word veral agterdog veroorsaak omdat die naam van keiser Konstantyn verbind word met die Bybel se aanvaarding. Dan Brown se Da Vinci Code en Baigent & Leigh se Holy Blood, Holy Grail skets Konstantyn as iemand wat die kerk misbruik het om politieke doelwitte te bereik. Hulle beweer dat hy die Sinode van Nicéa in 325 na Christus byeen geroep het onder valse voorwendsels, sodat ons vandag ‘n weergawe van Konstantyn se Bybel het, en nie die een wat in die vroeg-Christelike kerk voor die vierde eeu in gebruik was nie. Volgens hulle het Konstantyn by die Sinode van Nicéa al die tekste van die Nuwe Testament waarmee hy nie saamgestem het nie, laat verbrand en ‘n nuwe teks van die Bybel laat saamstel wat sedertdien in die kerke gebruik word. Vervolgens word Konstantyn ook deur ondersteuners van hierdie teorie verbind met die ontstaan van die Rooms-Katolieke kerk en die pousdom.
Hierdie idees oor Konstantyn is baie gewild op die internet en sosiale media en veroorsaak agterdog en verwarring oor die gesag van die Bybel, wat ons moet beantwoord ten einde die Bybel as Woord van God te kan aanvaar.
In hierdie artikel gaan ons kortliks fokus op die vraag of die Bybel wat ons vandag gebruik en die Bybel van die vroeg-Christelike kerk dieselfde is en die vraag probeer beantwoord of ons moontlik ‘n Roomse Bybel het?
Die invloed van Konstantyn (274-337 n.C.)
Die kerkvader Eusebius het ‘n waardevolle werk geskryf met die titel Vita Constantini waarin hy die geskiedenis van keiser Konstantyn opgeteken het. Konstantyn het die Romeinse Ryk oorgeneem as keiser in die jaar 312 n.C., hoewel hy reeds sedert 310 n.C. deur die soldate van sy vader, Konstantius, as Augustus verklaar is oor die Weste (te wete Engeland en Gallië of Frankryk).
Die tydperk voor Konstantyn keiser geword het, was ‘n bloedige tyd in die geskiedenis van die Romeinse Ryk. Diocletianus word keiser in 284 n.C. en besluit dat die beste manier om die Ryk te beskerm, is om dit in twee te deel (Ooste en Weste) onder twee Augusti en twee opkomende keisers. Dit was ook die begin van die ergste vervolging van Christene nog (genoem die Groot Vervolging van 303-311).
Ná Diocletianus se aftrede in 305 n.C. (en wéér in 308 n.C.) was die Ryk in chaos gedompel. Onderlinge gevegte en grensoorloë teen die Persiërs, die Hunne en Gote verswak die Ryk in so mate dat Konstantyn die hele Ryk maklik oorneem in 312 n.C. Konstantyn skryf sy oorwinning toe aan ‘n visioen van ‘n kruis wat hy in die hemel gesien het voor die veldslag van die Milvianus-brug in Rome waarop hy sy troepe opdrag gee om met ‘n Christelike simbool, die Christus-monogram (sien figuur) op hulle skilde die geveg in te gaan. In 313 n.C. vaardig hy die Edik van Milaan uit wat die Christene godsdiensvryheid gee en vervolging verban.
Figuur: Die “labarum” van Konstantyn – wat deur sy soldate in veldslae gedra is. Die teken stel die Griekse letters Rho en Chi voor wat ‘n simbool vir Christus in die vroeg-Christelike kerk was. Figuur geneem uit: https://en.wikipedia.org/wiki/Labarum
Kort hierna breek die Ariaanse stryd in die kerk uit oor die persoon van Christus. Die stryd oor die twee persone van Christus het begin tussen Arius en Athanasius van Aleksandrië. Die kerkvaders van die teologiese skool in Aleksandrië het voor die Sinode van Nicéa reeds bely dat Christus tegelyk God én mens was. Sommige geleerdes het egter die persone van Christus geskei en óf Sy Godheid óf sy mensheid aanvaar. Arius het gemeen dat Christus nie God en mens tegelyk kon wees nie. Hy het aanvaar dat Christus God kan wees, maar dat sy natuur nie dieselfde as dié van die Vader kan wees nie. Volgens hom was Christus derhalwe deur God geskep, en nie ewig nie. Weens die internasionale belang van die kwessie, besluit Konstantyn om ‘n groot kerklike Sinode byeen te roep om eenstemmigheid onder Christene oor die Ariaanse vraagstuk te kry.
Die Sinode van Nicéa (325 n.C.)
In die Da Vinci Code voer Dan Brown aan dat Konstantyn die geleentheid tydens die Sinode van Nicéa misbruik het om die teks van die Bybel te verander en die Nuwe Testament in donker geheime vergaderings saam te stel sodat die Bybel wat ons vandag het, ‘n korrupte weergawe uit Konstantyn se tyd is.
In antwoord hierop moet ons egter onthou dat die teks van die Nuwe Testament nie die saak was waaroor die Sinode van Nicéa gehandel het nie. Dit het gehandel oor teologiese kwessies in die kerk waaroor die kerk uitsluitsel moes kry om onderlinge verskille op te los. Die uiteinde van hierdie Sinode, was die Geloofsbelydenis van Nicéa, een van die algemene belydenisskrifte van die kerk.
Maar die vraag moet tog beantwoord word of Konstantyn die Nuwe Testament verander het of saamgestel het tydens die Sinode van Nicéa? Een van die belangrikste bewyse wat ons het dat die teks van die Nuwe Testament nié by Nicéa verander is nie, is die feit dat ons vandag verskillende Nuwe-Testamentiese tekste het wat dateer uit die tyd voor Konstantyn. Die tekste van die Nuwe Testament wat dateer uit die tyd voor die vierde eeu na Christus toon geen sulke veranderinge of korrupsie in vergelyking met die tekste na Nicéa nie. Dit bewys dat Dan Brown, Baigent & Leigh en ander wat beweer dat ons ‘n korrupte weergawe van die teks van die Bybel het, se samesweringsteorieë histories onbetroubaar is.
Die vasstelling van die Kanon
‘n Belangrike saak ten opsigte van die vasstelling van die Bybel (Kanon) is dat die kerk sedert sy ontstaan en hierna die opskrifstelling van die Nuwe-Testamentiese geskrifte onder leiding van die Heilige Gees, die Bybel as Woord van God gehad, geleer en oorgelewer het. Die Nuwe Testament het dus reeds minstens drie eeue in die kerk bestaan voor die koms van Konstantyn. Dit was trouens nie die Sinode van Nicéa wat die sewe-en-twintig boeke van die Nuwe Testament amptelik as Kanon aanvaar het nie, maar die Sinode van Kartago in 397 n.C. – 60 jaar na Konstantyn se dood. Ons is nie eens seker of die boeke van die Nuwe Testament bespreek was tydens die Sinode van Nicéa nie.
Liberale teoloë wil graag onsekerheid oor die teks van die Bybel skep om sodoende aan te toon dat die Bybel die produk van mense is en mense se woorde oor God is en nie God se Woord aan mense, soos die kerk deur die eeue heen bely nie.
Vir die liberale teoloë is die sogenaamde Evangelie van Thomas en die Evangelie van Judas, wat afkomstig is uit die kring van die tweede eeuse dwaalleer van die gnostici kwansuis ‘n meer betroubare weergawe van Jesus van Nasaret as die tekste van die Nuwe Testament, aangesien die tekste van die Nuwe Testament deur die eeue verander is. Volgens diegene het ons ‘n korrupte weergawe van die Bybel, wat onder invloed van Konstantyn en die Rooms-Katolieke kerk oorgelewer is en ‘n weergawe van Jesus gee as God én mens, iets wat hulle meen nie Jesus of die apostels van Jesus bely het nie.
Samevatting
Daar is histories geen bewyse dat Konstantyn insae gehad het in die vasstelling van die teks van die Nuwe Testament nie. Trouens, die teks van die Nuwe Testament was eeue voor Konstantyn reeds in gebruik en hierdie tekste word gereeld aangehaal deur die kerkvaders wat lewe voor die Sinode van Nicéa. Die aanhalings uit die Nuwe Testament van die voor-Niceense kerkvaders kom ooreen met ons Bybel. Die agterdog oor die betroubaarheid van die teks van die Bybel, en veral dié van die Nuwe Testament, staan in diens van die liberale teologie wat die Bybel as Woord van God bevraagteken en as blote mensewerk wil afmaak.
Ons bely daarenteen in die Nederlandse Geloofsbelydenis (N.Gb.) in artikel 3 die volgende: “Ons bely dat hierdie Woord van God nie gestuur of voortgebring is deur die wil van ‘n mens nie, maar die heilige mense van God, deur die Heilige Gees gedrywe, het dit gespreek…” en vervolgens in artikel 7 van die N.Gb. “…dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkomelik bevat en dat alles wat die mens moet glo tot saligheid, daarin genoegsaam geleer word”.
Ons het dus nie ‘n Roomse Bybel of “Konstantynse Bybel” nie. Ons glo God het sy Woord deur die eeue heen suiwer bewaar sodat die Bybel wat ons besit, met dié van die eerste Christene ooreenstem.