Kaalvoet voor God

Wanneer Moses by die brandende doringbos kom in Eksodus 3, hoor hy hoe ‘n stem vir hom sê: “Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond” (Eks. 3:5). God openbaar daarmee iets van sy heiligheid, en terselfdertyd iets van die mens se nederige posisie voor Hom.

In die Skrif dra skoene ‘n simboliese betekenis. Skoene het te doen met besittings, ‘n uitdrukking van mag, is noodsaaklikheid vir reis, bewys status en het te doen met menslike selfstandigheid. Om jou skoene uit te trek voor God, beteken daarom dat jy jou eie aansprake laat vaar. Jy kom nie voor Hom as meester nie, maar as skepsel in afhanklikheid.

Moses by die brandende doringbos

Die bekendste voorbeeld is natuurlik Moses wat sy skoene moet uittrek in Eksodus 3. Nadat Moses uit Egipte gevlug het, het hy reeds veertig jaar lank in Midian gewoon. Hy was nie meer die prins van Egipte nie. Hy moes nog leer wat dit beteken om voor die heilige God te staan. God openbaar Homself as die “EK IS WAT EK IS” (Eks. 3:14). Die grond waarop Moses gestaan het, was heilig omdat God daar teenwoordig was.

In die Ou Nabye Ooste was dit algemeen dat mense hul skoene uittrek op plekke van besondere heiligheid of eerbied. Weens die stowwerige paadjies was die voete in kontak met vuil dinge en was daarom simbolies vir die gewone wêreld en die alledaagse menslike bestaan. Om kaalvoet te wees, was ’n teken van nederigheid en erkenning dat jy nou op ’n plek staan wat nie aan jou behoort nie en nie deur die stowwerige skoene aangeraak mag word nie.

Josua voor die Leërowerste van die HERE

’n Tweede voorbeeld kom voor in Josua 5:13–15. Net voor die aanval op Jerigo ontmoet Josua ’n Man met ’n onblote swaard. Wanneer Josua vra of Hy vir of teen Israel is, antwoord Hy: “Nee, maar Ek is die leërowerste van die HERE.” Daarna hoor Josua dieselfde woorde as Moses: “Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilig.”

Hier is ‘n parallel met Eksodus 3. Moses het dit gehoor net voor hy die opdrag kry om na Farao toe te gaan waarna die uittog uit Egipte plaasvind. Josua hoor dit aan die begin van die intog in Kanaän. Die boodskap is in beide gevalle dieselfde: die oorwinning behoort nie aan mense nie, maar aan God. Interessant genoeg moes Josua sy skoene uittrek terwyl hy besig is om gereed te maak vir die oorlog. Dit leer ons dat Israel nie Kanaän sou kon inneem deur blote strategiese vernuf of militêre mag nie. Hulle sou alleen slaag as God self voor hulle uitgaan.

Hier sien ons iets wat dikwels by ons mense teenwoordig is. Die mens wil dikwels planne maak en dan as nagedagtenis, God daarin ken. God draai dit egter om. Josua moes leer dat hy self by God se plan moes inval. Kaal voete voor God is daarom die teenoorgestelde van menslike selfverheffing.

Die priesterlike dimensie van kaal voete

Hoewel die Ou Testament nie eksplisiet noem dat die priesters kaalvoet was nie, bestaan daar sterk historiese aanduidings dat die priesters in die tabernakel en die tempel sonder skoene diens verrig het in die heilige ruimtes. Die opdrag dat die priester sy hande en voete moes was voordat hy die heilige dele betree, suggereer sterk dat die priesters kaalvoet was. Daar word ook nie spesifieke opdragte in Levitikus gegee oor die skoene wat die priesters moes dra nie, terwyl die priesterlike klere in besonderhede voorgeskryf word. Dit laat ons aflei dat die priesters nie skoene gedra het in die tempel nie. In baie antieke kulture van die Nabye Ooste het die priesters kaalvoete voor die altaar gestaan.

Die tabernakel en tempel was plekke wat afgesonder en heilig was. Alles daarin moes die heiligheid van God weerspieël. Die priester kon daarom nie optree asof hy gewone grond betree nie.

Hierdie beginsel loop deur die hele Ou Testament. God is nie sommer net “pappa” nie. Hy is Vader. Hy is die Drie-enige, heilige God wat totaal anders is, wat afgesonder is van sonde en onreinheid haat.

Die sosio-kulturele betekenis van skoene

In die antieke wêreld was skoene ook ’n teken van status en eiendomsreg.

In Rut 4:7 lees ons dat Boas sy sandaal uitgetrek het en oorhandig het as bevestiging dat hy as wettige losser vir Rut optree en die erfgrond by Naomi oorkoop. Die skoene het dus besitreg en gesag oor eiendom gesimboliseer. Psalm 60:10 gebruik hierdie beeld wanneer God sê: “…op Edom werp Ek my skoen.” Dit dui op God se heerskappy oor Edom en dat Hy oor hulle heers ten spyte van hulle hoogmoed. Teen hierdie agtergrond kry Moses se handeling nog groter betekenis. Voor God moet die mens sy “regte” neerlê. Niemand besit die heilige grond nie. Niemand beheer God se teenwoordigheid nie. Die mens staan kaalvoet voor Hom.

Verder was kaalvoete dikwels verbind aan iemand wat rou, of ‘n teken van vernedering of bewys van afhanklikheid. Jesaja moes drie jaar lank kaalvoet loop as teken van God se oordeel (Jes. 20:2–4). Dawid loop huilend en kaalvoet oor die Olyfberg tydens Absalom se rebellie as teken van rou (2 Sam. 15:30) en as teken van ontbloting voor God.

Moderne mense verstaan soms die Bybelse inhoud van heiligheid moeilik. Ons leef in ’n kultuur waar God dikwels baie familiêr en gemaklik voorgestel word en selfs informeel aangespreek word. Die Bybel teken egter ’n ander prent van God se heiligheid. God is liefdevol en genadig, maar Hy is terselfdertyd ook ‘n verterende vuur (Heb. 12:29).

Wanneer mense in die Skrif met God gekonfronteer word, sien ons nie dat oppervlakkigheid vir God aanvaarbaar is nie. Jesaja roep uit: “Wee my, ek is verlore!” (Jes. 6:5). Petrus sê: “Gaan weg van my, Here, want ek is ’n sondige man” (Luk. 5:8). Johannes val soos ’n dooie voor Christus neer in Openbaring 1:17.

Die uittrek van skoene is daarom ‘n teken van ‘n nederige hart.

Christus en die heilige teenwoordigheid van God

Die diepste vervulling van hierdie tema lê uiteindelik in Christus. In die Ou Testament moes mense weg bly van heilige grond of kaalvoet wees voordat hulle dit betree. Onder die nuwe verbond bring Christus ons nader aan God. Tog beteken dit nie dat God minder heilig is nie. Inteendeel, in Christus sien ons die volle heerlikheid van God. Deur die bloed van Christus wat ons sondes toemaak, ontvang gelowiges vrymoedigheid om in God se teenwoordigheid in te gaan (Heb. 10:19–22). Maar hierdie vrymoedigheid mag nooit ‘n oppervlakkige familiariteit word nie. Dit moet eerbiedige vrymoedigheid bly. Die kerk verloor iets belangrik wanneer ons aanbidding so gemaklik raak dat dit nie meer ‘n teken is van God se heiligheid nie.

Kaal voete voor God herinner ons daaraan dat aanbidding nie oor menslike vertonings gaan nie. Dit gaan oor ‘n ontmoeting met die heilige God. Die mens kom nie as magtige na God nie, maar as nederige aanbidder.

Slot

Die moderne kerk het weer nodig om die heiligheid van God te ontdek. Dit is nie die soort preke wat mense wegdryf van Christus nie, maar preke wat oor die heiligheid van God praat sodat die gemeente voor sy troon kan buig. Want eers wanneer die mens leer om sy skoene uit te trek, verstaan hy iets van wat aanbidding werklik is.


Discover more from Tuis by gdssmit.com

Subscribe to get the latest posts sent to your email.