Volhard tot die einde

Die volharding van die heiliges

prof. Gerrit Smit

Lees: Filip. 1:3-11

Christus bevestig dat diegene wat deur die Vader aan Hom gegee is tot die ewige lewe toe bewaar sal word (Joh. 10:27).

Calvyn: Die ervaring leer self ons voldoende dat die roeping en die geloof van weinig waarde is as volharding nie daar bykom nie – en dit is iets wat nie almal te beurt val nie (Inst. III.24.6, 25-27).

Hy het die goeie werk begin

Lees: Filip. 1:6

Ons hoef nie onseker te wees oor ons verkiesing nie, al is dit waar dat nie almal in die kerk volhard in die wedloop van die geloof nie. Paulus maak hierdie uitspraak oor God wat die goeie werk in die gelowige begin het van toepassing op almal in die gemeente al is dit nie aan hom bekend wie uitverkies is nie. Paulus bid vir die gelowiges dat hulle volharding nooit sal ophou nie en dat hulle liefde meer oorvloedig mag word (vers 9), in die wete dat die versoeking nie die gelowiges bedreig nie, maar die ongelowiges.

Hy sal dit voleindig

In vers 6 bring die apostel die menslike volharding in verband met die Goddelike beskerming. Hieruit leer ons dat die mens nie maar bloot ‘n passiewe instrument in God se hand is nie, maar dat die mens moet volhard in die werk wat God in hom/haar begin het. Die goeie werk is deur die genade in die gelowige begin en dit sal ook deur die genade van God in die gelowige voleindig word. God laat nie toe dat die werk wat Hy gedoen het om die wil te verander, die hart nuut te maak en die genade te gee, tot niet gaan nie. God eksperimenteer nie om te kyk wie sou aan die einde kon volhard nie. Nee, Hy voer sy Raadsplan uit! God is nie ‘n mens wat halwe werk doen nie. Daarom kan die apostel Paulus vrymoedigheid neem om die gemeente op te roep om in die leer van Christus te volhard omdat God hulle daartoe in staat stel.

Om oor te bid: Bid die Here vir krag om in die gesonde leer te volhard.