Die dood van liberale multikulturalisme

Steve Turley in studio.pngDr. Steve Turley, Amerikaanse konserwatiewe kommentator en professor aan Eastern University, Pennsylvania het gister in sy nuutste video kommentaar gelewer oor die grondonteiening sonder vergoeding fiasko in Suid-Afrika wat elkeen gerus kan kyk.

Die ironie van die hele debakel volgens Turley is dat president Donald Trump deur die liberales afgemaak word as ‘n leuenaar omdat hy gevra het dat daar ondersoek gedoen moet word oor die situasie in Suid-Afrika rondom onteiening van grond en die moord op blanke boere, maar dat die liberales self erken dat onteiening sonder vergoeding toegepas moet word. Hieroor word Trump geroskam dat hy “wit meerderwaardigheid” verkondig.

Volgens Turley sou die redenasie van die liberale media daarop neerkom dat Trump ‘n rassis is omdat hy teen rassisme is?! Dit teken vir Turley die dood van liberale multikulturalisme omdat hulle opgehou het om liberaal (vry) te wees en omdat hulle liberale wêreldbeskouing reeds gesterf het. Hulle het dit self doodgemaak! Tans kom liberales se retoriek presies neer op dit waarvan hulle die konserwatiewes beskuldig: dat hulle vryheid van spraak vernietig en aanvoer dit is noodsaaklik om demokrasie te beskerm.

Turley se kommentaar lewer ‘n perspektief op die Suid-Afrikaanse Orwellianisme wat vernietig met die verskoning dat dit bou.

Lees gerus weer George Orwell se “Animal Farm” as jy dit op skool laas gelees het, en as jy nog nie het nie, waar was jy al die tyd? Jy kan die boek hier kry by Amazon of die DVD by Takealot. Laat jou kinders dit lees of skenk dit as sinvolle verjaarsdaggeskenke. Het ons al vergeet van die bekende waarskuwing van Orwell van wat gebeur as sosialisme oorneem: All animals are equal, but some are more equal than others?

Kyk gerus Turley se kommentaar hier: https://youtu.be/zrJByfuPcZQ

Afrikaanse Bybel vandag 85 jaar gelede in gebruik geneem

Ons lees vandag die Bybel in Afrikaans. So ‘n vertaling het nie sommer oornag ontstaan nie. Die “dringende behoefte aan ‘n Bybel in Afrikaans” is reeds in 1872 in ‘n artikel deur Arnolus Pannevis bepleit. Op 27 Augustus 1933 is die eerste amptelike vertaling van die Bybel in Afrikaans in gebruik geneem tydens ‘n feestelike geleentheid in Bloemfontein.  Vandag 85 jaar gelede!

En vandag is daar steeds werk aan Bybelvertalings in Afrikaans nodig. Die vertaling van die Bybel is ’n deurlopende taak van die kerk. Dit sal altyd tot by die wederkoms so wees dat die Bybel vertaal word. Alle tale verander met verloop van tyd. Daarom is dit nodig dat die Bybel voortdurend vertaal word. Ons kennis van die Bybelse tale verbeter en dit gee ons nuwe insigte in die verstaan van die Bybel. Bybelvertalings is nie volmaak nie, omdat dit mense is wat die vertaalwerk doen, en daarom is daar altyd moontlikhede om iets wat vertaal is beter te vertaal.

Ons is dankbaar dat die Vader dit so beskik het dat ons vandag 85 jaar van Bybelvertaling in Afrikaans kan vier en hoop dat die Bybel in Afrikaans nog deur die geslagte wat kom gelees en waardeer sal kan word.