Afrikaans 100: Taal as gawe van God
Geskryf deur prof. Gerrit Smit

Die Taalmonument in Paarl
(Foto geneem vanaf: https://southafrica.co.za/taalmonument-paarl.html)
Op 8 Mei 2025 vier ons die honderdjarige herdenking van Afrikaans as amptelike taal. Die erkenning van Afrikaans as amptelike taal op 8 Mei 1925 het status verleen aan Afrikaans as dié inheemse taal wat binne dekades sou ontwikkel van “kombuistaal” tot wetenskapstaal. Vanjaar se viering bied ‘n geleentheid om stil te staan by die waarde van taal in die lig van die Skrif.
In ons tyd word taal dikwels bloot as kommunikasiemiddel beskou en vir baie maak dit nie saak in watter taal gekommuinkeer word nie, solank mense mekaar verstaan. Die Bybel beskou taal egter nie slegs as ‘n kommunikasiemedium nie, maar as ‘n goddelike gawe én as ‘n middel waardeur God Homself aan die mens openbaar.
In hierdie artikel wil ek kortliks fokus op die Bybelse betekenis van taal deur twee gebeure in die heilsgeskiedenis aan te dui wat met taal te doen het: die toring van Babel en die gebeure van Pinkster tydens die uitstorting van die Heilige Gees.
Die Bybel begin met God wat spreek. God kon die skepping op enige manier skep, maar Hy kies om dit te doen deur te spreek: “Laat daar lig wees! En daar was lig” (Gen. 1:3). God skep dus deur slegs te spreek.
Taal is nie ‘n menslike uitvinding nie, maar is deur God geskape. Die vermoë om Hom te dien deur taal en met mekaar te kommunikeer word aan die mens geskenk. God spreek met die mens deur taal. Taal is dus ‘n gawe van die Drie-enige God en dien as die voertuig waardeur Hy Homself aan mense openbaar.
In Genesis 11 lees ons die gebeure van die toring van Babel, wat ‘n poging van die mens was om God se orde omver te werp en ‘n naam vir hulself te maak (Gen. 11:4). As straf, en om die menslike arrogansie aan te spreek, verwar God hulle taal: “Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar, sodat die een die taal van die ander nie kan verstaan nie” (Gen. 11:7). Die gevolg was vervreemding en verdeeldheid deur middel van taal. Taal, wat eens verenig het, word ‘n middel tot vervreemding. Hier sien ons hoe taal, wanneer dit uit sy Godgegewe konteks verwyder word, ‘n instrument van skeiding en misverstand kan word.
Teenoor Babel staan Pinkster. In Handelinge 2 word die Heilige Gees uitgestort, en die apostels spreek in verskeie tale, sodat elkeen die wonders van God in sy eie taal hoor (Hand. 2:6–11). Waar taal in Babel tot vervreemding gelei het, bring die Gees op Pinksterdag Christus se Evangelie deur middel van taal en Hy maak dit moontlik dat mense God in verskillende tale kan aanbid en in sy kerk verenig word. Hierdie gebeurtenis maak iets bekend van God se bedoeling met taal: om Sy Naam bekend te maak en mense nader aan Hom en mekaar te bring deur as gemeentes saam te kom en in hulle tale God se Naam te loof en na sy Woord te luister. Pinkster herstel, in beginsel, die Babel-verlies: taal word weer ‘n middel tot gemeenskap met God.
Die aanvaarding van Afrikaans as amptelike taal in 1925 moet in hierdie breër raamwerk verstaan word. Afrikaans is nie net ‘n kommunikasiemiddel nie, maar ‘n draer van kultuur, geloof en identiteit. In die geskiedenis van die Afrikaanse kerke het hierdie taal ‘n belangrike rol gespeel in die verkondiging van die Evangelie, die vertaling van die Bybel, en die liturgiese lewe van gemeentes. Taal is die medium waardeur geloof gevorm, gebede gebid, en die Woord en Christelike leer oorgedra word. Daarom moet die Afrikaanse taalgemeenskap ons taal nie bloot as nog een van die baie kommunikasiemiddele van ons tyd beskou, asof dit terloops gekom het nie, maar voortdurend terugkeer na die vraag: Hoe heilig ons ons taal en gebruik ons hierdie taal tot eer van God en die opbou van ons naaste?
Die kerk het dus ‘n profetiese taak in die kultuur en in die samelewing: om taal te heilig, nie deur dit as heilig op sigself te verklaar nie, maar deur dit as draer van die waarheid, Bybelse liefde en goddelike regverdigheid te gebruik. Wanneer ons taal in diens staan van die waarheid, word dit ‘n instrument in diens van God se Koninkryk. Wanneer dit aangewend word om Bybelse geregtigheid en goddelike vrede te bevorder, getuig dit van die Heilige Gees se werking. Die uitdaging bly om ons taal nie aan ideologieë van die tyd te onderwerp of as politieke speelbal te gebruik nie, maar as gawe van God wat aan ons geskenk is om God daarmee te loof en mekaar te dien.
Waar die sonde taal tot verwarring gebring het, herstel die Gees taal as ‘n middel van verstaan en geloof. Die viering van Afrikaans se eeufees bied die geleentheid om in dankbaarheid oor hierdie erfenis te herbesin.
Mag Afrikaans, soos op Pinksterdag, altyd ‘n taal wees waardeur mense die “groot dade van God” kan hoor.