Oordenkings uit Korinthiërs

Skrifoordenkings vanuit Korinthiërs

deur: Prof. Gerrit Smit

DIE GENADE EN VREDE VAN GOD IS MET JULLE

Lees: 1 Kor. 1:1-9

Genade vir julle en vrede… – 1 Kor. 1:3.

“Nie elkeen kry ‘n reis na Korinte nie”. Dit was in die ou dae ‘n spreekwoord wat in die Griekse én in die Latynse taal baie bekend was. Hieruit blyk dat Korinte as ‘n sentrum van vermaak en ontspanning gewild was. Elkeen wou daarheen gaan met vakansies. Daar was geen plesieriger stad om in gesien te word en die lewe te geniet as Korinte nie. Saam met die plesier was die onsedelikheid en afvalligheid van die heidendom kenmerkend aan hierdie groot stad.

Paulus begin sy eerste brief aan die jong gemeente in Korinte met ‘n groet (1 Kor. 1:3), waarin hy die gemeente vertroos met die wete dat God hulle seën te midde van die stryd wat hulle binne die heidense gemeenskap het. God se genade en vrede is aan hulle geskenk. Dit behoort hulle moed te gee om hulle getuienistaak in hierdie groot stad met vreugde uit te voer. Deur sy Heilige Gees is God se genade en vrede steeds elke dag by ons. Dit gee ons rigting in die rigtinglose wêreld en hoop wanneer die situasie waarin ons ons begeef hopeloos lyk. Vertrou dat God se genade wat Hy in Christus aan ons gee, ook jou lewe en gedagtes rigting gee.

Gebed: Here, ten spyte van al die aanslae wat die kerk beleef is dit wonderlik om te weet dat u genade en vrede ons bybly. AMEN


VERDEELDHEID IN DIE KERK

Lees: 1 Kor. 1:10-17

… ek vermaan julle, broeders… om almal eenstemmig te wees…– 1 Kor. 1:10a.

Dis so jammer dat daar deur die eeue in die Christelike kerke oor die wêreld heen verdeeldheid onder lidmate van is oor verskeie sake. Die meeste van die kere is dit as gevolg van lidmate se onvermoë om mekaar die hand te reik, of bloot net as gevolg van onvergewensgesindheid. In Korinte was die verdeeldheid as gevolg van vier groepe in die gemeente wat gemeen het dat elkeen van hulle die belangrikste is omdat hulle aan een of ander groep wat binne die gemeente gearbei het, sou behoort: of dit Paulus of Apollos (die medewerker van Paulus), Céfas (Petrus) of Christus is. Dit is mos logies dat nie een van die lidmate vir die Here meer aanvaarbaar is nie, maar dat almal vir Hom belangrik is. Christus behoort mos nie net aan sekere lidmate nie (vers 13).

Dis mooi as daar eensgesindheid in die kerk van die Here is, want dan kan almal saamwerk aan die uitbreiding van God se koninkryk in plaas daarvan om besig te wees om te kyk wat die een of die ander verkeerd doen. Dit is nie nodig dat gelowiges oor alles in die kerk saamstem nie: ons verskil tog van mening. Dit is wel nodig dat wanneer ons verskil, ons bereid is om met mekaar te praat, en toe te gee as ek verkeerd was. Is jou optrede binne jou gemeente so dat jy nie die oorsaak van onenigheid is omdat jy onwillig is om te vergewe nie? Die Woord spreek ons elkeen aan om vrede te soek binne die kerk van Christus en die kleinlikhede en onnodige twis te laat staan. Dit breek net ons getuienis na buite af en maak die taak van die kerk onnodig moeilik.

Gebed: Here, leer my om nederig te wees, sodat u geëer kan word deur my optrede in die kerk. AMEN


CHRISTUS – DIE KRAG VAN GOD

 Lees: 1 Kor. 1:18-31

…ons verkondig Christus wat gekruisig is, …Christus, die krag van God en die wysheid van God – 1 Kor. 1:23-24.

God kon besluit het om op verskeie maniere die mense te laat glo in sy Woord. Paulus sê: Die Jode sou wonderlike bomenslike tekens verkies het en die Grieke sou liewer wou gehad het dat alles mooi uitgeredeneer kon word, maar dit het God behaag om deur die prediking dié wat in Hom glo tot insig te roep. Wat vir die wêreld na wysheid lyk, is vir God steeds domheid, en die prediking wat vir die wêreldse mense na ‘n mors van tyd lyk is die middel wat God gebruik om die wat in Hom glo tot inkeer te roep.

Die gevolg van die prediking van Jesus Christus is dat mense, ook ek! tot inkeer kom en die slegte laat staan deur die Heilige Gees wat ons nuut maak. Dinge wat vir die wêreld aantreklik is, spreek my nie meer aan nie. Die wêreld is ook nie meer geïnteresseerd in my nie. My prioriteit is nie meer om ander mense gelukkig te hou nie maar om God se wil te soek. Dit alles is die gevolg van ‘n ruwe kruis op ‘n heuwel buitekant Jerusalem.  Daarom kan ons sê: die kruis het ewige waarde, en daarom moet dit ook ‘n ewige element in my lewe wees: nie maar net iets daar ver terug in die verlede of toe ek Jesus ontmoet het nie. Nee, hier en nou het die verkondiging van Christus krag want die mag van die duisternis sidder oor dit wat op Golgota gebeur het. Vir satan is die kruis slegte nuus, want daar het hy sy grootste nederlaag ooit beleef! Verkondig Christus, so word die werke van die duiwel teëgestaan.

Gebed: Here, help my om die volle betekenis van U kruis in my lewe te verstaan. AMEN


DIE GEHEIM IS UIT!

Lees: 1 Kor. 2:6-9

ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was… – 1 Kor. 2:7.

Die volk Israel was in die Ou Testamentiese tyd weggevoer in ballingskap na Assirië en later na Babilonië. Hulle het daar baie swaar gekry. Tydens die ballingskap het die hoop op die Messias wat sal kom om die volk te verlos van hulle vyande al hoe sterker begin groei. Hoe God se Plan tot openbaring sou kom, het hulle nie geweet nie, maar hulle het geglo dat God uitkoms sal bewerk. Christus was egter nie die Messias wat die Jode verwag het nie. Hy was nie ‘n politieke bevryder of rebel nie, maar ‘n geestelike bevryder. Vir die Jode was dit dwaasheid om te glo in ‘n Messias wat gekom het en nie bevry van die juk van die destydse heersers, die Romeine nie. Daarom het hulle Hom nie as Messias aanvaar nie, en Hom gekruisig. Vir die Jode wat ‘n politieke bevryder gesoek het, was die Plan ‘n geheim (vers 7 lees: bedek). Aanvanklik het die mense nie van God se plan geweet nie, maar hulle moes deur Christus se optrede en lering (en later deur die Woord) aflei dat Hy die gestuurde van God was. Niemand het verskoning as hulle Christus nie bely nie, want God het die versteekte dinge van die Ou Verbond in Christus kom duidelik maak. Sy opstanding was die bewys dat Hy nie bloot ‘n mens was nie, maar God. Nou is die geheim uit!

Daar is vandag nog baie mense wat nie die plan van God wil of kan sien nie. Ons moet nie moedeloos raak nie. Ons kan maar net aanhou vertel van Christus en die oortuigingswerk aan God oorlaat wat nog steeds volgens sy vaste Plan werk.

Gebed: Here, gebruik my om U geheime aan ander te vertel. AMEN.


CHRISTUS – DIE VERDERE OPENBARING VAN GOD

Lees: 1 Kor. 2:10-16

Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar… – 1 Kor. 2:10a.

Iemand wat doof is kan nie mooi musiek waardeer nie. Net so kan elkeen wat nie in God glo nie, nie sy verlossingsplan waardeer nie. Die wysheid van God se Plan om deur Christus die gelowiges uit die mag van die duiwel, die geestelike vyand te red, kan net verstaan word deur dié in wie die Heilige Gees woon. ‘n Mens kan mos net ‘n geheim ken as iemand dit oorvertel (sien vorige dagstuk). Die Heilige Gees openbaar die geheim van Christus se verlossing (letterlik: vertel dit oor) aan die kinders van God sodat hulle die Plan van God nie meer as dwaasheid sien nie, maar as ‘n wonderlike slim Plan van verlossing. God het Hom in die Ou Testament openbaar as die Vader wat alles geskep het en vir alles sorg. Nou openbaar Hy Hom verder in die Seun en die Heilige Gees – as ‘n Drie-enige God.

Omdat die Heilige Gees ons gedagtes nuut maak, word ons nou geestelike mense genoem, wat nie meer sondige dinge behoort te bedink nie maar dinge wat by kinders van God pas (geestelike dinge). Buiten die werking van die Heilige Gees in ons sal ons nie in staat gewees het om God te ken nie. Daarom lê dit buite die bevoegdheid van die mens om beterweterig te probeer wees oor God se Plan (vers 16). God weet wat Hy doen al verstaan die mens dit nie.

Gebed: Here, lei my om volgens u Plan te leef. AMEN.


DIS GOD WAT LAAT GROEI

Lees: 1 Kor 3:1-8

So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei – 1 Kor. 3:7.

‘n Baba groei as hy melk kry. Maar op ‘n stadium moet die baba vaste kos begin kry sodat hy voldoende kan groei. In die geestelike lewe werk dit net so. ‘n Mens kan nie by die maklike dingetjies van die Woord bly en aanvaar dat jy in die geloof sal groei nie. Nee, ‘n geloof wat groei is afhanklik van kos uit God se Woord – hoe meer hoe beter. Paulus sê dat hy nie met die Korintiërs kon praat soos met grootmense nie, omdat hulle nog kindertjies in die geloof is. ‘n Mens sou verwag dat hulle teen daardie tyd gegroei het tot toegewyde kinders van die Here, maar hulle was so besig om mekaar sleg te sê en te veroordeel, dat hulle nie agtergekom het dat hulle in die geloof stagneer nie. Die gemeente word vergelyk met ‘n boompie. Dit het vir hulle gegaan oor die een wat die gemeente geplant het, en die een wat natgemaak het, in plaas van die Een wat laat groei. God laat geloof groei. Christus is die belangrikste in elke gemeente – nie die dominee, of die ouderlinge, diakens of watter gemeentelid of watter suster ookal nie. Wie hulle mag wees, hulle is afhanklik van God. Dit is jammer dat baie lidmate so besig is om hulle eie koninkrykies te bou asof hulle iets is, dat hulle nie agterkom hulle is besig om die geloofstryd te verloor nie. Bly getrou aan Christus, dis Hy wat laat groei in die geloof.

Gebed: Here, laat my groei in die geloof, en nie in hoogmoed nie. AMEN


CHRISTUS – DIE FONDAMENT VAN DIE GELOOF

Lees: 1 Kor. 3:9-15

Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus – 1 Kor. 3:11.

‘n Gebou is net so sterk as wat sy fondament is. Dis belangrik vir die struktuur om gebou te wees op ‘n stewige fondament. In die Bybelse tyd was daar verskillende materiale waarmee die antieke mense gebou het: goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels (vers 12). Goud en silwer was gewoonlik gebruik in belangrike geboue soos tempels en paleise. Arm mense het hulle huise gebou met kleistene, en die dak oorgetrek met takke en hooi. Almal kon sien watter mate van status ‘n persoon het deur die materiaal waarmee hy sy huis gebou het. In die antieke tyd met al die vyande wat rondom Israel gewoon het, was hulle gewoond gewees om gereeld hulle huise te herbou nadat die vyande dit afgebrand het. Die kleihuisies moes heeltemal oorgebou word, terwyl dié wat met duurder materiale gebou het, slegs herstelwerk moes doen. Dit was dus op die langer duur beter om duurder te bou.

Die Woord leer ons in hierdie gedeelte dat ons geestelike lewe dieselfde beginsel handhaaf. Mense kan sien wie jy is deur die fondament waarop jy bou, en die materiaal wat jy gebruik. In ons geestelike lewe is Christus die fondament vir elke gelowige. Ons is ‘n gebou van Christus. Ons behoort om hierdie rede ons lewens te versier met goeie werke, sodat almal kan sien wie ons in Christus is. Wanneer ons op die proef gestel word, sal die goeie werke getuig dat ons ‘n standhoudende gebou is.

Gebed: Here, ek wil goeie werke doen, sodat u daardeur verheerlik word. AMEN.


DIE GELOWIGE IS GOD SE TEMPEL

Lees: 1 Kor 3:16-23

Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? – 1 Kor. 3:16.

In die vorige gedeelte het ons gesien dat belangrike geboue soos paleise en tempels in die antieke tyd met edelmetale versier is. Die gelowige word in vers 16-23 vergelyk met ‘n tempel. Dit bevestig dat gelowiges vir God baie belangrik is. Vir die antieke mense was tempels simbolies gesien as die woonplek van God. God woon dus in elke gelowige deur die Heilige Gees. Die Here het in die Ou Testament die Jode verbied om hulle tempel te onteer deur byvoorbeeld onheilige voorwerpe daarin te bring, en net so moet die Christene hulle daarvan weerhou om die kerk met verdeeldheid, twis en ander sondes te onteer.

Hierdie gedeelte handel oor die liggaam van Christus (die kerk) wat rein gehou moet word. Dit geld ook die lewe van die gelowige oor die algemeen. Ons behoort te poog om altyd ons lewens so te hou dat die Heilige Gees wat in ons woon nie bedroef word nie. Christus het na die wêreld gekom om ons los te maak van die boeie van die sonde waaraan ons so maklik verslaaf kan raak. Elkeen van ons is dus ‘n tempel van God, waarin die Heilige Gees woon. So lei die Here ons om binne die kerk en daarbuite sy wil te doen.

Gebed: Here, dankie dat U in my woon. Maak hierdie tempel heilig vir U. AMEN.


DIE GELOWIGE IS ‘N DIENAAR VAN CHRISTUS

Lees: 1 Kor. 4:1-5

So moet ons dan beskou word as dienaars van Christus en bedienaars van die verborgenhede van God – 1 Kor. 4:1.

Paulus praat in die teksvers van hulle wat in die gemeente gearbei het. Hulle (Apollos, Petrus, Paulus) was slegs dienaars van Christus gewees wat God se geheime met die Korintiërs gedeel het. Hulle was nie in hulle eie diens nie, en het nooit aan sekere groepe binne die gemeente behoort nie. Hulle was niks meer en niks besonders nie. Slegs Christus moet deur hulle diens geëer word. Die gemeente is natuurlik in die versoeking om hulle te skaar by groepe in die gemeente vir of teen die dienskneg wat die Woord bring. Dit hoort nie so nie leer vers 5, want die oordeel kom God toe. Alhoewel die Here sekere diensknegte in die vorm van leraars roep om die Woord te verkondig, is almal van ons dienaars van God. In die Bybelse tyd moes ‘n slaaf net doen wat die meester sê, en hy moes die meester se belange op die hart dra. Verder was hy die besitting van die meester, wat met hom kon maak wat hy wou.

So is elke leraar wat die Woord van die Here verkondig maar net ‘n slaaf in die Here se diens, en kan niks anders doen as om die belange van die groot Meester op die hart te dra nie. Omdat die oordeel aan die Here behoort moet die gemeente nie die Here vooruitloop nie. Die Here sal bepaal wie getroue dienaars was.

Gebed: Ek is ook U dienaar. Maak my gewillig om U wil op die hart te dra. AMEN.


HOOGMOED – ‘N ANGEL WAT DIE KERK KAN DOODSTEEK

Lees: 1 Kor. 4:6-21

…sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ’n derde nie – 1 Kor. 4:6b.

In Korinte was hoogmoed die angel wat besig was om die gemeente dood te steek. Niemand was bereid om die minste te wees nie, en elkeen het gestaan op sy eie opinie. ‘n Mens kan baie maklik geheg raak aan sekere mense en hulle dan bevoordeel bo ‘n ander wat jy nie so goed ken nie, al is hulle verkeerd in hulle optrede. Dit het in die Korintiese gemeente gebeur. In plaas daarvan dat die gelowiges mekaar vermaan het om eerder te fokus op Christus, was elkeen besig om hom te skaar by vriende binne die gemeente – ongeag hoe verkeerd hulle standpunt mag wees. Iemand wat jou bygestaan het in ‘n moeilike tyd wek gewoonlik ‘n gevoel van lojaliteit by die mens. Die Woord waarsku ons dat ons nie so geheg moet raak aan mense binne die gemeente dat ons nie meer hulle sonde raaksien, en ons skaar by hulle al sou hulle verkeerd optree nie. Sulke dinge veroorsaak verdeeldheid in die kerk.

Dit gebeur dikwels dat lidmate dikmond by die kerk rondloop, of nog erger, dikmond by die huis sit en nie meer die kerk se aktiwiteite steun nie, omdat hy/sy voel dat hulle tenagekom is deur iemand in die gemeente. Paulus leer ons dat ons nie dikmond moet wees teenoor mekaar en so fokus verloor op ons taak binne die gemeente en ons ewige bestemming nie. Hoogmoed is die angel wat die kerk baie seer steek!

Gebed: Here, ek is ook maar geneig om te veel van myself te dink. Hou my nederig sodat ek op my roeping gefokus kan bly. AMEN.


PASOP VIR DIE SUURDEEG VAN ONREINHEID

Lees: 1 Kor. 5:1-13

Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ’n nuwe deeg kan wees – 1 Kor. 5:7.

In die heidense stad Korinte was dit vir die jong gemeente dikwels baie moeilik om te onderskei tussen reg en verkeerd. Vir die heidense Romeine was dit normaal gewees om prostitusie te bedryf by die tempels as ‘n blyk van eer aan die afgode. Die Korintiërs is mislei om te glo dat daar niks met sulke gedrag verkeerd sou wees nie, en hulle het selfs verder gegaan: daar was mans wat selfs gemeenskap gehad met hulle eie ma’s! Paulus is diep bedroef oor wat hy van die gemeente hoor. Hy wys daarop dat iemand wat hom skuldig maak aan hierdie heidense optrede summier uit die gemeente geban moet word (vers 5). Paulus praat met die lidmate wat hierdie voorvalle eerder wou ignoreer as om dit te hanteer. Hulle besef nie dat as een lidmaat ‘n slegte voorbeeld stel, dit soos suurdeeg deurwerk na die ander nie. Nauurlik kan niemand sondeloos wees nie, want alle gelowiges worstel met die sonde, maar sedeloosheid kan nie in die kerk geduld word nie. Terwyl die Korintiërs moet treur oor hierdie sedeloosheid is hulle eerder hoogmoedig (vers 2). Ons elkeen word in die lig van vandag se teks opgeroep om ons eie lewens te beoordeel, en deur die krag van die Gees die ou sondige dinge opnuut te los en ons met die nuwe suurdeeg te meng.

Gebed: Vader, ek is geneig tot sonde. Maak my daagliks nuut deur U Gees. AMEN.


 LIEFDELOOSHEID DOOD GETUIENIS

Lees: 1 Kor. 6:1-11

Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle jul nie liewer berowe nie? – 1 Kor. 6:7b.

“Wie van ons sal as ons rusie in die huis het, iemand van die straat af roep om die rusie op te los? Ek glo niemand nie, want dit sal vir ons te groot skande wees, want wat in ons huise gebeur is privaat en word nie op straat verkondig nie” (Homilia ad Cor xvi.6). So het Chrysostomos, een van die kerkvaders van die vierde eeu na Christus gewaarsku oor gelowiges wat mekaar na die wêreldse hof neem. Dit het in Korinte gebeur dat mense wat nie met mekaar oor die weg kon kom nie, mekaar na die wêreldse regbank geneem het. Chrysostomos sê dis nie net ongewens nie, dis ‘n skande vir die kerk. Beteken dit dan dat as ons nie gelukkig is met die reg in die kerk nie, dat ons maar eerder skade moet ly? Chrysostomos sê ons moet dit maar aanvaar en verder kyk as die aardse, na die hemelse waar reg en geregtigheid sal seëvier.

Paulus leer die Korintiërs dat hulle bereid moet wees om te dien, en nie altyd gereed moet wees om mekaar te verkla by die wêreldse regters nie. Want wat dink die wêreld van die Christene as hulle liefde verkondig, maar nie eers huishoudelike sake in liefde kan oplos nie? Nee, kom ons wees maar die minste, al beteken dit verlies van aardse goed, want wanneer ons liefdeloos teenoor mekaar optree, maak ons ons getuienis na buite leweloos. Kom ons leer eerder om meer geduldig en met meer liefde teenoor mekaar op te tree.

Gebed: Here, liefde en verdraagsaamheid teenoor my naaste is wat ek vandag vra. AMEN.


JOU LIGGAAM IS NIE DREK NIE

Lees: 1 Kor. 6:12-20

Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort – 1 Kor. 6:20.

In die Griekse- en Romeinse filosofie was daar ‘n gebruiklike spreekwoord: voedsel is vir die maag en die maag vir die voedsel. Hierdie spreekwoord het vir hulle geslaan op die sedelike lewe. Hulle het gesê dat ‘n mens nie drange en begeertes sou hê as jy dit nie moes uitleef nie. Dit beteken vir die Grieke dat ‘n mens die reg het om sedeloos te lewe. Die liggaam is dus onbelangrik, net die siel is belangrik.

Vir die jong Christene in Korinte was hierdie spreekwoord baie gerieflik om enige sonde te regverdig. Hulle het egter vergeet dat die liggaam ook vir God belangrik is en nie net die siel nie, want Hy het beide gemaak. Christus het aan die kruis gesterf, nie net vir die siel nie, maar sodat die mens met sy liggaam ook aan Hom behoort (vers 20). Ons moet vlug vir onsedelikheid want die liggaam is nie vir die Here onbelangrik nie. In ons optrede en gedagtes, ja, maar ook in ons kleredrag, musiek, ons juwele en versierings en vriendekring moet ek elke dag vra of die Here wat my duur gekoop het, verheerlik word daardeur of oneerbiedig word. Vir die wêreld lyk iemand wat soos ‘n sedelose mens aantrek, sedeloos, ongeag wat in jou hart leef. Daarom dat die Woord hier soveel klem lê op die uiterlike wat in ooreensteming met God se Woord moet wees. Ons moet nie lyk en praat en optree soos heidene, as ons in waarheid kinders van God is nie. Dit gee elkeen van ons ‘n groot verantwoordelikheid om ook met ons liggame God te verheerlik.

Gebed: Here, ek wil alles wat ek het, ook my liggaam aan U wy. AMEN.


EER GOD DEUR JOU HUWELIK REIN TE HOU

Lees: 1 Kor. 7:1-24

Julle is duur gekoop; moenie slawe van mense word nie – 1 Kor. 7:23.

Paulus wys weer op die feit dat ons duur gekoop is (Sien 1 Kor. 6:20). Hierdie keer met betrekking tot die huwelik. Die Christene van Korinte het gedurig voor versoekings te staan gekom.  Die stad het selfs onder die mense van daardie tyd bekend gestaan vanweë die onsedelikheid en godsdienstige prostitusie wat daar hoogty gevier het.  Die probleme het waarskynlik ontstaan toe sommige Christene, nadat hulle reeds getroud was, Christene geword het en toe wou skei van hulle heidense huweliksmaats.  As sulke persone nou hulle vrouens verlaat en hulle van seksuele omgang moet weerhou, loop hulle die gevaar om in die onsedelikheid van Korinte opgeslurp te word. Paulus sê nie in vers 1 dat ‘n mens moet trou of nie moet trou nie, maar hy wys daarop dat die wat getroud is, mekaar moet liefhê, en die wat nie getroud is nie, nie in onsedelikheid moet verval as gevolg van menslike behoeftes nie (vers 9).

Ook die huwelik behoort aan Christus. Hy het die huwelik kom nuut maak, sodat die sukses van ‘n huwelik nie afhang van die aantal jare wat ‘n egpaar getroud is nie, maar of hulle mekaar nader aan die Here lei of nie. Die gelowige is duur gekoop deur die prys wat Christus aan die kruis betaal het. Daarom moet ons nie ons laat verslaaf aan wat mense doen en sê nie, maar wat God se Woord ons leer. Dit geld die soort films, boeke, en materiaal waarna ons kyk. So hou ons ons gedagtes rein vir ‘n huwelik wat God behaag.

Gebed: Here, ons vra dat U ons huwelik rein sal hou, en die liefde vir mekaar brandend. AMEN.


MOENIE DIE SWAKKES LAAT STRUIKEL NIE

Lees: 1 Kor. 8:1-13

…pas op dat hierdie vryheid van julle nie miskien ’n struikelblok word vir die wat swak is nie – 1 Kor. 8:9.

In Korinte was dit bykans onmoontlik om nie afgodsvleis te eet nie. Die diere is gewoonlik geslag en dadelik in die heidense tempels ingeneem om deur die heidense priesters geseën te word, waarna dit dadelik op die mark langs die tempel verkoop is. ‘n Deel van die vleis is gewoonlik gaargemaak en onder die dak van die voorportaal van die tempel verkoop. Alle vleis was dus afgodsvleis. Almal wat vleis geëet het, moes dit dus in die heidense tempel gaan koop. Nou kon dit gebeur dat ‘n gelowige verby die tempel loop en ‘n ander gelowige daar sien vleis eet, en aanstoot neem (vers 7,10). So laat die een wat gekoop het die ander struikel. Om dit te voorkom sê Paulus dat as jy weet daar is mense wat aanstoot neem, jy dit eerder glad nie moes koop nie (vers 13).

Ons nader nou die Kerstyd. In hierdie komende paar weke gaan baie van ons partytjies hou en eet- en drinkgoed geniet. Die Woord praat vandag met ons oor die gelowige se vryheid. Dit plaas egter steeds die verantwoordelikheid op elke gelowige se skouer om so te leef dat hy/sy nie ‘n medebroeder of –suster wat swak in die geloof is laat struikel nie. Dit is nie hulle wie se geloof te klein is nie, maar hulle wat maklik aanstoot neem wanneer ‘n saak lyk of dit die Here nie eer nie. Wanneer ons eet en drink moet die Here se eer ons steeds voor oë bly (vers 9). ‘n Mens kan so eet en so drink dat dit nie net aanstoot gee omdat jy as ‘n Christen bekend staan nie, maar ook God oneerwaardig wees.

Gebed: Here, lei my om wanneer ek eet en drink, my geloofwaardigheid as Christen te behou. AMEN.


HOEVEEL VERDIEN ONS DOMINEE?

Lees: 1 Kor. 9:1-14

So het die Here ook vir die wat die evangelie verkondig, bepaal dat hulle van die evangelie moet lewe – 1 Kor. 9:14.

Paulus was ‘n geleerde man wat ‘n baie goeie salaris kon verdien as hy wou. Hy het egter verkies om in diens van die Here getrou te wees aan sy roeping, en die rykdom verruil vir ‘n sukkelbestaan. Baie van die lidmate in Korinte het gevoel dat Paulus ‘n onnodige finansiële las vir die gemeente was terwyl hy hulle bedien het. Paulus wys die gemeente daarop dat hy nie enige van hulle enigiets gekos het nie, maar dat hy gewerk het as tentmaker om hulle juis nie tot las te wees nie. Maar buitendien sou hy kon aanspraak maak op versorging van die gemeente se kant, want die arbeider is sy loon werd (vers 12-13). In die gereformeerde kerke word die leraar nie ‘n salaris aangebied nie, maar ‘n traktement. Dit beteken dat die gemeente die leraar vra om hulle geestelik te bedien, met die ooreenkoms dat hulle hom sal trakteer om sy verpligtinge na te kom. Die Woord sê vir ons dat dit reg is as die leraar vir sy dienste vergoed word, en dat die gemeente nie daaroor moet murmureer asof dit ‘n onnodige las op hulle plaas nie. Die Here het immers die leraar voltyds geroep in sy diens, en daarom behoort hy uit die verkondiging van die Evangelie te leef, soos iemand anders diens doen op ander terreine van die samelewing teen vergoeding (vers 7). Dit behoort dus vir elke gemeente ‘n voorreg te wees om hulle leraar te trakteer, sodat hy hulle voltyds met die Woord kan bedien.

Gebed: Here, ons wil dankie sê vir ons leraar wat U geroep het om ons gemeente te bedien. Wys ons hoe ons hom in sy werk kan ondersteun. AMEN.


HARDLOOP OM DIE PRYS TE WEN

Lees: 1 Kor. 9:15-27

Hardloop só dat julle dit (die prys) sekerlik kan behaal – 1 Kor. 9:24b.

In die tyd van die Nuwe Testament was die Romeine die wêreldheersers. Hulle was versot op sport. Die beeld van ‘n sportman was ‘n baie bekende een vir die lesers van Korinte. Elke jaar is daar ‘n Ismiese spele (amper dieselfde as die Olimpiese spele vandag) gehou. Vir die wenners was daar ‘n lourierkrans op die kop geplaas. Dit was ‘n groot eer om hierdie krans te ontvang. Vooraf het die atlete hard geoefen en die regte dieët gevolg om uitermate goed te kan presteer.

Paulus vergelyk ons geestelike lewe met dié van die atleet, wat op die baan hardloop. Anders as die atleet in die Ismiese spele, hardloop die gelowige om ‘n prys te ontvang wat nie verlep na ‘n dag of twee nie (vers 25). Hulle hardloop om die ewige lewe te ontvang. Die atleet wat voor die wenstreep tou opgooi het verloor, al het hy hoe hard geoefen, of sy liggaam hoe hard gedryf. Net dié wat die wenstreep haal, het gewen. Anders as in die geval van die Ismiese spele is daar in die geloofswedloop nie net een wenner nie. Nee, elkeen wat die wenstreep haal aan die einde van sy lewe met Christus aan sy kant, het die ewige prys verkry. Dit is die genade van God wat die gelowige hierdie wengeleentheid gee. Hardloop jy ook so op die geloofspad dat jy seker is jy sal aan die einde van jou lewenspad wen?

Gebed: Here, ek wil die geloofspad voluit hardloop. Gee my die uithouvermoë om nie uit te sak nie. AMEN.


WIE DIEN JY?

Lees: 1 Kor. 10:1-22

En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie – 1 Kor. 10:20b.

Die Heidelbergse Kategismus leer ons dat afgodediens beteken om enigiets of –iemand in die plek van God te stel. So iemand is besig om met die duiwels gemeenskap te hou. Om met die duiwels gemeenskap te hê beteken dat jy besig is om die bose se dinge te doen, te bedink en te leef in plaas van die dinge van God. Afgodediens is ‘n gevaar vir elke mens, want dit kom in baie verskuilde vorms voor. Alles in ons lewe het die potensiaal om vir ons belangriker te word as God, as ons nie die Gees se leiding het nie. Enigiets wat vir die mens belangriker word as sy/haar verhouding met God kan vir die mens ‘n afgod word: geld, fliek, nagklubs, sport, stokperdjie, televisie, drank, selfs jou eie man/vrou. Ons leer in hierdie teksgedeelte vandag dat ons moet wegbly van plekke of situasies waar God nie die Eerste is nie.

As jy deur uit die fliek of die nagklub weg te bly en in stede daarvan jou skoolmaat saam te neem na die jeuggeleentheid hom of haar vir Christus kan win, het jy self niks armer geword nie en het jou skoolmaat ‘n ewige lewe ryker geword. As u die televisie afskakel om eindelik weer eens diepgaande te gesels met u kinders, ‘n kind wat dalk reeds besig was om onverskillig te raak en u wen daardie kind vir God se koninkryk – hoe groot is dan dié wins in vergelyking met die offer wat u daarvoor gebring het. As u besluit om ter wille van u vriend waarvan u weet dat hy/sy met drank nie perke ken nie, self ook glad nie meer drink nie, om hom te help in sy moeisame stryd teen die dranksug – dan was die prys wat u daarvoor moes betaal niks in vergelyking met die wins in Christus se koninkryk nie

Gebed: Here, bewaar my van afgodediens. AMEN


IS ALLES GEOORLOOF?

Lees: 1 Kor. 10:23-11:1

Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar nie alles stig nie – 1 Kor. 10:23.

Is alles werklik vir die gelowige geoorloof? Is dit wat die Woord ons leer? Beteken dit dat ‘n gelowige maar kan doen wat hy/sy wil en dink wat hy/sy wil sonder voorbehoud?

Nee, net soos in die geval van 1 Kor. 6:20 het ons in hierdie gedeelte weer te doen met ‘n antieke spreekwoord wat bekend was in die Korintiese gemeente. Die heidene het die spreekwoord: alles is my geoorloof gebruik om hulle sedelose lewens te regverdig. Paulus, onder leiding van die Heilige Gees antwoord die Korintiërs oor hierdie spreekwoord by die heidene en sê: alhoewel dit ‘n bekende spreekwoord is, is nie alles nuttig nie, en nie alles gepas nie (vers 23). Die gelowige moet onthou dat alles aan God behoort, omdat hy alles gemaak het (vers 26).

Dit plaas ‘n besondere verantwoordelikheid op die gelowige om onder leiding van die Heilige Gees te lewe ooreenkomstig God se Woord, want ook die mens behoort aan die Here. Die Woord herinner ons telkens daaraan dat alle mense verantwoording sal doen van hulle werke voor die regterstoel van God en die mens nie daarom maar kan doen soos hy wil, asof enigiets geoorloof (aanvaarbaar) is nie. Om Christus na te volg (11:1) beteken vir Paulus juis om die goeie lief te hê, en weg te vlug van die kwaad. In alles wat jy doen en sê moet jy vra: Here, wat wil u hê moet ek doen? So is jy nie ‘n oorsaak van struikeling vir ‘n medebroeder of –suster, vir jou kinders, kleinkinders of vriende nie.

Gebed: Here, lei my dat ek nie ‘n struikelblok is vir hulle vir wie ek ‘n voorbeeld moet stel nie. AMEN.


WIE DRA DIE BROEK?

 Lees: 1 Kor. 11:2-16

Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou… – 1 Kor. 11:3.

Die vrae rondom hoofbedekkings in hoofstuk 11 lyk miskien vir ons onbenullig, maar dit het groot probleme geskep in die kerk, aangesien die antieke kulture skerp daaroor verskil het. Geen Joodse vrou het in die openbaar verskyn sonder dat haar kop bedek was nie. Slegs sedelose vroue het só verskyn. Die Griekse vroue was egter gewoond daaraan om sonder enige hoofbedekkings in die openbaar te beweeg. Die Korintiërs vra Paulus om sy opinie uit te spreek. Hy antwoord dat dit die kerk baie skade sou doen binne die heidense samelewing wat sterk manlik georiënteer was as die vroue nie hulle mans onderdanig is nie. Dit beteken nie dat vroue minderwaardige gelowiges is nie. By die Here is daar mos nie aanneming van persoon nie (Rom.2:11). In die Bybelse grondtekste kan hoof ook “eerste” beteken. Christus is die Hoof omdat hy die eerste in die kerk is. Die man is die hoof van die vrou deurdat hy die eerste is van die mense wat geskep is. Die vrou moet die man eerbiedig, nie as minderwaardige teenoor die man nie, maar in erkenning dat hy die draer van gesag binne die huis en die gemeenskap is. Christus bly die eerste en belangrikste in die gemeente. Die Woord beklemtoon in hierdie gedeelte dat dit in die Christelike samelewing nie vir die man en vrou nodig is om te wedywer oor wie die belangrikste en beste posisie beklee nie, maar dat elkeen eerder moet besef hy/sy het ‘n besondere verhouding met Christus die Hoof van die gemeente.

Gebed: Here, help man en vrou om elkeen ons besondere taak binne die kerk met nederigheid uit te voer. AMEN


IS JOU GESINDHEID REG?

 Lees: 1 Kor. 11:17-34

Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink – 1 Kor. 11:28.

Die nagmaal is ’n sigbare simbool van die evangelie—van die feit dat Christus vir ons sondes gesterf het.  Daarin val die klem op sy dood en die oorwinning oor en versoening van sonde.  Dit dui op die eenheid en gemeenskap wat daar onderling tussen gelowiges is, en ook tussen die gelowige en Christus. In Korinte was daar ryk lidmate wat nie wou deel aan die nagmaal nie, omdat hulle geglo het dat hulle beter is in God se oë as die arm bekeerde slawe. Vir laasgenoemde was die nagmaal weer ‘n geleentheid om ‘n behoorlike ete te geniet, iets wat hulle nie geken het nie. Die Woord leer ons dat ons eerder ons eie gesindhede op die proef moet stel as ons medelidmate s’n by die gebruik van die nagmaal. By die nagmaal bevestig ons as kerk dat ons deel het aan die liggaam en die bloed van Christus. Ons noem dit dan ‘n gemeenskapsmaaltyd. Ons sê daardeur dat ons mekaar aanvaar en liefhet, soos Christus ons liefhet en aanvaar. In die Kerstyd is ons geneig om so te let op die blydskap van die koms van Christus, dat ons soms vergeet sy sending was eintlik ‘n hartseer sending: Hy moes kom ly en sterf vir ons gruwelike misdade teen God. Ons moet met die oog op sy lyding ons gesindheid binne die kerk beoordeel en seker maak dat ons die nagmaal binnegaan met liefde en vergewensgesindheid. Want soos Christus my vergewe het, so moet ek bereid wees om ander te vergewe. Is jou gesindheid so?

Gebed: Here, kerstyd verkondig u liefde vir my. Dankie dat u my sondes vergewe. AMEN.


ONS HET MEKAAR NODIG

Lees: 1 Kor. 12:1-31

Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik – 1 Kor. 12:27.

Ons het tot dusver gelees hoedat daar sommige gemeentelede in Korinte was wat gedink het dat die fokus in die kerk deurentyd op hulle moet val, op al húlle indrukwekkende gawes en op die baie voortreflike dinge wat húlle vir die Here doen. As gevolg hiervan het die soeklig algaande weg van God na individuele gelowiges begin verskuif wat vir hulleself sterstatus in die gemeente toegeëien het.  Op die ou end het hierdie toedrag van sake ‘n verskeurde kerk tot gevolg gehad, ‘n liggaam wat in duisende stukke geruk is met al die neuse op ‘n hoop, so ook al die bene, hande, voete en ore.

En as Paulus sy pen opneem en hierdie brief skryf, reageer hy op die selfgesentreerdheid van sekere Christene deur vir hulle op die nuutmakende werk van die Heilige Gees te wys.  Hy is die Een wat daarin spesialiseer om liggame wat in die intensiewe eenheid op sterwe lê, weer gesond te maak en van voor af aanmekaar te sit. Die een gelowige is nie beter as die ander nie, en een het nie die reg om te aanvaar dat die kerk sonder hom/haar sou doodbloei nie. Ons het almal mekaar nodig (vers 14-17). Ten einde ons toe te rus vir ons taak van Godsverheerliking en ons medegelowiges tot diens te wees, oorhandig die Gees aan elkeen van ons afsonderlik een of meer genadegawes. Alle gelowiges besit die gawe van geloof. Jy het ook ander gawes van die Gees ontvang. Ontdek jou gawes en gebruik dit in diens van God tot opbou van die gemeente, die liggaam van Christus.

Gebed: Here, lei my om u eer daagliks te soek AMEN.


GROTER LIEFDE AS CHRISTUS S’N IS DAAR NIE

Lees: 1 Kor. 13:1-13

En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde – 1 Kor. 13:13

Kerstyd praat ons baie oor liefde. God het jou en my so liefgehad dat Hy sy Seun vir ons gegee het (Joh. 3:16). By die eerste lees van 1 Kor. 13 kom jy al agter dat die liefde waarvan Paulus hier praat iets anders is as die sentiment of emosie van welwillendheid wat ons soms liefde noem. Hierdie liefde is die liefde wat broeders en susters vir mekaar behoort te hê. Dit is dieper en ernstiger; dit is sterker as blote emosie. Wanneer ons kyk na al die eienskappe wat Paulus opnoem, weet jy dat dit beslis nie altyd maklik of lekker sal wees nie. Dis nie ‘n speletjie vir kinders nie, sê Paulus in vers 11, jy moet volwasse wees om so lief te hê.

Teen die agtergrond van die sedelike verval in Korinte was liefde nie meer gesien soos God dit bedoel het nie. Mense is vandag nog verward oor die woord liefde. In ons samelewing word liefde en wellus dikwels verwar. God se liefde straal na buite en bereik ander mense, in teenstelling met wellus wat na binne gekeer is en slegs op eie bevrediging konsentreer. Ware liefde sien jy nie op televisie waneer mense kamtig erg is oor mekaar nie. Ware liefde is nie die liefde wat ‘n mens sien in sepies en films nie. Ware liefde is onselfsugtig en vra nie: ‘wat kan ek kry?’ nie, maar ‘wat kan ek gee?’ Ware liefde is om om te gee vir ander se gevoelens en behoeftes en probleme. So het Christus ons liefgehad, selfs tot die dood toe. Groter liefde as hierdie bestaan nie. Wees lief soos Hy liefgehad het.

Gebed: Here, Kersfees dink ons aan u liefde vir ons. Lei ons om self ook onvoorwaardelik lief te hê. AMEN.


JAAG DIE LIEFDE NA

Lees:  1 Kor. 14:1-25

Jaag die liefde na… – 1 Kor. 14:1.

In Korinte was daar lidmate wat die gawe besit het om in vreemde tale te kan praat, ander kon mense gesond bid, ander weer kon profesieë uitlê. Hulle was baie trots op hulleself omdat almal dit nie kon doen nie. Dit het hulle baie belangrik laat voel in die kerk. Paulus neem kennis van hierdie verskynsel, maar maan hulle dat dit nie ‘n rede is om trots te wees op hulleself nie; dit kom dan van die Heilige Gees af. In elke geval is die liefde die belangrikste gawe om te besit. Hy sê dat hy self soms in tale gepraat het (vers18-19), maar dit nie in die gemeente hoort nie, omdat mense te vinnig op hulself begin roem in plaas daarvan om die fokus op God se genade te laat val. Almal hoef nie in tale te kan praat nie, maar almal moet liefhê. Die liefde is die gawe by uitnemendheid om na te jaag (vers 1). Daar is vandag nog baie groepe wat daarop aanspraak maak dat hulle in tale kan praat, mense gesond kan maak, duiwels kan uitdryf. Ons moet weet dat dit nie belangrik is om dit te kan doen, of nie te kan doen nie, maar dat die liefde die belangrikste gawe is wat die Here van elke gelowige eis. Soms word die mense vandag net so hoogmoedig soos die Korintiërs as hulle beweer dat hulle dié soort bonatuurlike gawes kan doen. Of dit regtig gebeur of nie, daaroor kan ons nie oordeel nie. Ons is wel skepties, omdat ons weet dat daar al baie bedrog oopgevlek is met al hierdie soorte wonders. Kom ons jaag die liefde na, want dit is wel die grootste gawe.

Gebed: Here, u eis van my om lief te hê. Ek wil gehoorsaam wees daaraan. AMEN.


ORDE IN DIE EREDIENS

Lees: 1 Kor. 14:26-40

Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan – 1 Kor. 14:40.

1 Kor. 12-14 is eintlik ‘n gedeelte wat ons saam moet lees. Hoofstuk 14 vat die hele gedeelte oor die besondere genadegawes saam met die afsluiting in 14:26-40 oor die orde in die erediens. Die Here is ‘n God van orde. Reeds in die Ou testament lees ons hoedat hy die volk Israel bevele gee oor hoe Hy gedien moet word, hoe die offers hanteer moet word en wanneer sekere sake aanvaarbaar is en wanneer nie. Levitikus gee ons baie van hierdie inligting. Die Here wil hê dat die erediens ordelik moet verloop, sodat die mense nie op hulleself fokus nie, maar diep onder die indruk kom van God se teenwoordigheid en sy liefde vir sy gemeente. Die Korintiërs word deur Paulus gemaan dat al hierdie genadegawes waarop hulle roem nie in die gemeente bo die ordelikheid gestel moet word nie. Want, sê hy, “God is nie ‘n God van wanorde nie” (vers 33).

Die eredienste in die Gereformeerde kerke is so ingerig dat die gelowiges diep onder die indruk van God se teenwoordigheid moet kom. God praat met die gemeente en dan praat die gemeente weer met God deur hulle sang en gebede. Paulus sê nie in hierdie gedeelte dat ons manier van kerkwees verkeerd is of reg nie, maar dit geld wel dat God orde in die erediens eis, sodat ons na Hom kan luister en nie mekaar verhef nie.

Gebed: Here, ek wil U dien op ‘n ordelike manier, want U is ‘n God van orde. AMEN.


GENADE ALLEEN

Lees: 1 Kor. 15:1-11

Maar deur die genade van God is ek wat ek is – 1 Kor. 15:10a.

In alle lande is daar mense wat nie in Christus glo nie. Die hartseer is dat daar ook in alle kerke lidmate is wat nie glo nie, maar wat maar deel van die kerk is omdat hulle die agterdeur oophou om te doop, te trou en begrawe te word. Ander mense gee net doodeenvoudig voor dat hulle glo. Omdat ons nie in die harte van mense kan sien wat hulle bedoeling is nie, aanvaar ons dat almal wat aan die kerk behoort opreg is. Ons weet dit nie, God alleen weet. In Korinte was daar ook lidmate wat aan die kerk behoort het om eie gewin of omdat dit ‘n heerlike sosiale bymekaarkomplek was. Hierdie mense is eintlik vyande van die kerk en van die evangelie. Paulus was ook eens op ‘n tyd ‘n vyand van die kerk gewees toe hy nog ‘n Fariseër was, maar die Here het hom op ‘n dramatiese wyse tot insig gebring op die pad na Damaskus. Hy het daarna baie hard gewerk vir die kerk. Dit was deur God se genade wat hy geroep is tot inkeer.

Alle ware gelowiges deel in hierdie genade van God. ‘n Mens is nie outomaties ‘n kind van God as jy in die kerk groot geword het nie. Die Heilige Gees moet in jou leef, en jou nuut maak, dan behoort jy aan God. Die vraag is: Glo jy in Christus? As jou antwoord ja is, kan dit net die Heilige Gees wees wat jou oortuig het. Deur God se genade is jy wat jy is: sy kind.

Gebed: Here, wat ek is, is net genade. Niks het ek verdien. Ek wil opreg dankbaar wees daarvoor. AMEN.


EK GLO IN DIE OPSTANDING VAN DIE DODE

Lees: 1 Kor. 15:12-34

…as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof – 1 Kor. 15:14.

Die afgelope paar jare is daar baie deur kerkmense bespiegel oor die opstanding van Christus. Sommige teoloë meen dit is ‘n vergissing, ‘n storie opgemaak deur die dissipels om hulle verleentheid weg te steek oor hulle Meester gekruisig is.

Die Woord leer ons vandag dat as iemand die opstanding van Christus ontken, daardie persoon nie aanspraak kan maak op die geloof nie, want waarin glo hy dan? So iemand se geloof is nutteloos, en beteken niks. In die twaalf artikels bely ons Sondae dat ons in die opstanding van die liggaam glo. Omdat Christus opgestaan het, weet en glo ons dat ons ook sal lewe. Ons vergeet dikwels dat die kruis sonder die opstanding die einde van ons geloof sou wees. Die evangelie volgens die apostels het aanvanklik die opstanding as die kern van Christus se sending na die aarde gesien, en nie die kruisiging nie. Lees gerus Paulus se preke in Handelinge (2:29-32; 3:14-15; 4:10; 5:30). Die kruis was gesien as die Jode se moorddaad uit jaloesie, die opstanding was evangelie! Die probleem waarmee in die Ou Testament geworstel word is die dood. Vir sonde was die bring van verskillende offers die oplossing; vir die dood was daar geen oplossing nie. Jesus het gekom om die nood van die mens te verlig – dit is die mag van die dood.

Ons deel nou in sy opstanding. Dit is die blye boodskap. Ons moenie verwar word deur mense wat ontrou word aan die geloof en die opstanding van Christus ontken nie.

Gebed: Here, ek glo in U opstanding. Sonder hierdie vertroue sou my geloof nutteloos wees. AMEN.


DEUR CHRISTUS IS DIE DOOD SE ANGEL VERNIETIG

Lees: 1 Kor. 15:35-58

Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? – 1 Kor. 15:55.

Die dood is oorwin, sy angel kan nie meer seermaak nie (vers 55). Al bring die dood van ‘n geliefde baie pyn en hartseer, weet ons as gelowiges dat ons nie bang hoef te wees vir die dood nie, want die dood is net ‘n poort of deurgang na die ewige lewe toe. Christus het reeds die pad na die ewigheid geloop. So het Hy die weg vir sy kinders oopgemaak. Hierdie ewige lewe erf ons slegs deur die opstanding van Christus ons Verlosser. Deur Adam het die sonde in die wêreld ingekom, en deur Christus word die sonde weer uit die gelowige se lewe weggeneem. Daarom word Christus die tweede of laaste Adam genoem (vers 45). In hierdie lewe ken ons nog die juk van die sonde en siekte, maar daar sal ‘n dag kom wanneer dit vir ewig verby is.

Ons geestelike liggaam sal anders lyk as die vleeslike: dit sal nie gebind wees aan natuurwette nie; dit sal onverganklik wees omdat tyd nie meer ‘n rol speel nie; die fisieke gebreke en ander kwale sal nie meer wees nie; ons sal nie meer sonde doen nie.

Die Here gee ons ‘n verantwoordelikheid om, terwyl ons nog op aarde is, ons lewe so in te rig dat Hy verheerlik word, en ander mense nadergetrek word deur ons voorbeeld. Wanneer ons die dag in die hemel kom, hoef ons ons nie meer te bekommer oor die aardse nie.

Gebed: Vader, saam met die kerk roep ons uit: Kom, Here! Dit is ons begeerte om by U te wees. AMEN.


STAAN STERK IN DIE GELOOF

Lees: 1 Kor. 16:1-24

Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk – 1 Kor. 16:13.

Aan die einde van ‘n jaar is dit die gewoonte van mense om na te dink oor die afgelope jaar se lief en leed. Paulus kyk in sy slotwoorde aan die gemeente van Korinte na die toekoms en roep die gemeente op: Wees op julle hoede vir die versoekings van die duiwel, staan sterk in julle geloof, gedra julle soos ‘n sterk volwassene in die geloof (vers 13–vry vertaal). Hierdie woorde vorm ‘n pragtige samevatting vir die hele brief. Op die vooraand van ‘n nuwe onbekende jaar, roep die Here jou om vir ‘n oomblik stil te word en te dink aan die genade wat jy die afgelope jaar beleef het. Ja, daar was die hartseer, maar die Here het jou daardeur gedra; daar was die bekommernisse, maar God het jou versterk. Daar was ook mooi dae gewees. En in die begin van die nuwe jaar kom die oproep: “Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk”. Ons weet nie wat vir ons voorlê in die onbekende jaar 2006 nie, maar ons weet: ons God bly in beheer hierdie jaar.

Wees ‘n man hierdie jaar: sterk in jou oortuigings, onwankelbaar in jou optrede, flink en fier in die bestryding van die bose en die verdediging van die goeie. Laat alles, volstrek alles deur liefde oorheers word (vers 14).

Ons het die afgelope maand ‘n reis deur die antieke Korinte onderneem. Die Here het met u ook gepraat. Luister daarna en doen dit! Mag die Here u en u geliefdes in hierdie nuwe jaar seën. 1 Kor. 13:23: “Die genade van die Here Jesus Christus sy met julle!”

Gebed:  Here, dankie vir ‘n jaar van geloof, hoop en liefde. Lei ons die nuwe jaar soos U wil. AMEN.