Vir leraars en ander belangstellendes, sal die volgende inligting hopelik van waarde wees.
Die nuutste Griekse Nuwe Testament, die Editio Critica Maior (ECM) se teks op die Sinoptiese evangelies (Markus) is onlangs beskikbaar gestel. Ek het reeds in 2019 hier verwys na merkwaardige tendense wanneer die Nestlé-Aland 27 (NA27) vergelyk word met die Nestlé-Aland 28 (NA28). Die NA 28 verskil van vroeëre kritiese uitgawes van die Griekse Nuwe Testament in die tekskritiese aparraat se variante lesings wat ook die Bisantynse tekste in ag neem en verder is die tekskritiese aparraat gebaseer op die samehangende genealogiese model, of die sogenaamde “coherence based genealogical method” (lees hier meer daaroor).
In dié uitgawe van die ECM het die Duitse Bybelgenootskap variante lesings van die Westerse teks (die Bisantynse teks) by die bekende tekskritiese apparaat van die Griekse Nuwe Testamente, wat gebaseer was op die Alexandrynse tekste, bygewerk. Indien iemand weer herinner moet word oor die tekstradisies en hoe dit in die tekskritiese wetenskap inpas, kyk weer na hierdie referaat van my wat ek in 2017 gelewer het. Op bladsy 18 gee ek ‘n skematiese voorstelling van die tekstradisies. Die werk is nog nie afgehandel nie, maar toon reeds baie insiggewende tendense in die tekskritiese wetenskap aan wat vorentoe vir ons positief kan wees wanneer nuwe Bybelvertalings gedoen word aangesien dit die Westerse tradisie ook in ag neem.
Wat die teks van Markus betref, is daar 33 verskille tussen die ECM en die NA28. Die meerderheid van die wysigings, naamlik 20, neem die lesing van die Bisantynse tekstradisie. Daar is ‘n verdere 126 plekke in die ECM se teks van Markus, wat beide lesings van die Alexandrynse tekste én die Bisantynse tekste weergee met ‘n aanbeveling dat die Bisantynse lesing die beter lesing is.
Die nuwe verwikkelinge in die Griekse Nuwe Testament, wys net weereens daarop dat die sogenaamde Textus Receptus (TR) uitgawes van Erasmus, en die verskillende uitgawes van die TR wat hierna verskyn het, wat almal gebaseer was op Desiderius Erasmus se Griekse Nuwe Testament, nie die mees betroubare lesings verteenwoodig nie. Die verwikkelinge noodsaak natuurlik ‘n herwaardeing vir die Bisantynse tekstradisie, en wys ook dat die tendens om die Alexandrynse tekste as oudste en mees bestroubare lesings te aanvaar, ook nie sonder meer kritiekloos aanvaar kan word nie. Soos die Bisantynse tekste meer-en-meer in die kollig kom, word die betroubaarheid van hierdie tekstradisie al hoe duideliker.
Dit bring vir ons nuwe geleenthede in terme van toekomstige Bybelvertalings na vore en hopelik sal ons nog eendag ‘n Afrikaanse Bybelvertaling sien wat gebaseer is op die Bisantynse tekstradisie. Die ECM beweeg al reeds in daardie rigting om die waarde van die Bisantynse tradisie te erken.