Die pastor van Hermas

deur prof. Gerrit Smit

Wie was Hermas?

In die meeste weergawes van die teks word slegs verwys na die “Die herder” of “Die pastor”. Die boek handel oor Hermas, die held van die verhaal. Die “pastor” of “skaapwagter” is ‘n heilige voorganger of leraar, wat met Hermas kommunikeer oor lesse wat die kerk moet leer. In sommige werke word Hermas en die Pastor met mekaar verwar asof dit dieselfde persoon is, maar dit is duidelik uit die aard van die boek en sy inhoud dat so ‘n verwarring uit onkunde ontstaan en nie omdat daar verwarring oor die verskil tussen die twee karakters in die boek is nie. Die boek vertel afwisselend van visioene wat Hermas sou gehad het, en weer oor Hermas se persoonlike lewe en geskiedenis.

Die Pastor van Hermas word tradisioneel in 3 dele verdeel, naamlik Visioene, Bevele en Gelykenisse. Die probleem hiermee is egter dat die eerste deel nie net visioene bevat nie, en die gelykenisse bestaan uit sedelesse wat deur middel van allegorieë geleer word en is nie werklik almal gelykenisse nie.

Datum

In Hermas 4,3 word die hoofkarakter beveel om die boek Openbaring te neem en twee kopieë daarvan te maak en aan Klemens te oorhandig wat dit sal stuur aan naburige gemeentes. Die verwysing na Klemens is ongetwyfeld na Klemens van Rome. Die fragmente van Muratori (einde van die tweede eeu) meld dat Hermas geskryf is toe sy broer Pius leraar van Rome was. Dit sou die ontstaan van die boek tussen 140-150 n.C. plaas. Dit is moontlik dat die eerste deel van die boek geskryf was ongeveer 96 n.C. tydens die bediening van Klemens van Rome en die tweede deel van die boek geskryf was in die tyd van Pius (ongeveer 150 n.C.).

Die plek van die Pastor van Hermas in die Patristiek

Die Pastor van Hermas word tradisioneel tussen die Apostoliese Vaders geplaas, maar is in werklikheid eerder ‘n apokriewe boek met kenmerke van apokaliptiek.

Waaroor die boek handel?

In die eerste deel van die boek ontvang Hermas visioene met boodskappe aan die kerk, wat aan hom voorgehou word as ‘n ou matrone, en geleidelik die ouderdom “afgooi” om in die vierde visioen as ‘n jong bruid tevoorskyn te kom. Die tweede deel bestaan uit 12 bevele en 9 gelykenisse. In die derde deel word ‘n verdere 10 gelykenisse gevind. Die Pastor van Hermas behandel die volgende teologiese temas: boetedoening, die pre-eksistensie van Christus (dat Hy voor die grondlegging van die wêreld af God is), die kerk as eerste geskape wese, die doop en allerlei etiese sake.

Die Griekse teks van die Pastor van Hermas

Die Griekse teks van die Pastor van Hermas is onder andere beskikbaar in Paul Migne se Patrologiae Cursus Completus, Patrologia Graeca (PG), volume 2. Die Griekse teks van Migne is hier beskikbaar.