Begrafnisse in die gereformeerde tradisie

Ons moet versigtig wees wanneer ons begrafnisse reël, dat die geleentheid nie oor die persoon wat dood is gaan, eerder as die troos vir die wat agterbly nie. As jy al by ‘n begrafnis was, sou jy seker al beleef het dat party mense aandring dat die kis voor die kansel moet staan, hoe die lewensverhaal van die afgestorwene vertel word, verskillende sprekers aan die woord is wat ‘n afskeidsboodskap bring, soms is daar foto’s wat vertoon word en ‘n “gunsteling liedjie” wat gespeel word, party mense wil by die graf helium-ballonne met briefies loslaat, of wit duiwe of honderde skoenlappers vrylaat, in die kis die oorledene se “gunsteling-dinge” sit, soos sy/haar selfoon, sigarette, ‘n bottel brandewyn, ‘n visstok, of ‘n PlayStation. Gaste word versoek om nie swart aan te trek nie, maar eerder vrolike kleure en sandale, sondrag of kortbroeke. Na die tyd word ‘n piekniek in die park ter viering van die lewe van die afgestorwene beplan. Continue reading

Die teologiese motief van burgerskap en stryd in Filippense

Hierdie artikel ondersoek die teologiese motief van burgerskap en stryd in die Brief aan die Filippense. Teen die agtergrond van Filippi as ’n Romeinse kolonie word aangetoon dat Paulus doelbewus gebruik maak van bekende burgerlike, militêre en atletiese taal om die identiteit en roeping van die Christelike gemeente te beskryf. Die sentrale argument is dat burgerskap en stryd in Filippense as ’n geïntegreerde teologiese motief funksioneer. Die gebruik van πολιτεύεσθε in Filippense 1:27, στήκετε en συναθλοῦντες in 1:27, die gebruik van ἀγών in 1:30 en πολίτευμα in 3:20 vorm saam ’n deurlopende beeld van gelowiges as burgers van ’n hemelse koninkryk wat binne ’n aardse kolonie leef. Hierdie burgerskap bepaal hulle lojaliteit, onderlinge eenheid, volharding en openbare getuienis.

Filippense 2:5-11 vorm die Christologiese sentrum van hierdie motief. Christus is die Modelburger van die hemelse koninkryk, wie se heerskappy deur selfvernedering, gehoorsaamheid en die kruis heen tot verhoging lei. Die Christelike stryd word gevolglik nie deur geweld gevoer nie, maar deur eensgesindheid, nederigheid, gehoorsaamheid, volharding, lyding en getrouheid aan Christus.

Die artikel toon verder aan hoe hierdie taal in die vroeë kerk voortgeleef het by onder andere Klemens van Rome, Ignatius van Antiochië, Tertullianus en Polukarpus.

Die gevolgtrekking is dat die burgerskaps- en strydmotief ’n belangrike sleutel bied tot die verstaan van die eenheid van Filippense en tot die kerk se identiteit en roeping binne die samelewing.

Lees die artikel hier: Academia.edu of hier: Researchgate.net