Hierdie artikel ondersoek die teologiese motief van burgerskap en stryd in die Brief aan die Filippense. Teen die agtergrond van Filippi as ’n Romeinse kolonie word aangetoon dat Paulus doelbewus gebruik maak van bekende burgerlike, militêre en atletiese taal om die identiteit en roeping van die Christelike gemeente te beskryf. Die sentrale argument is dat burgerskap en stryd in Filippense as ’n geïntegreerde teologiese motief funksioneer. Die gebruik van πολιτεύεσθε in Filippense 1:27, στήκετε en συναθλοῦντες in 1:27, die gebruik van ἀγών in 1:30 en πολίτευμα in 3:20 vorm saam ’n deurlopende beeld van gelowiges as burgers van ’n hemelse koninkryk wat binne ’n aardse kolonie leef. Hierdie burgerskap bepaal hulle lojaliteit, onderlinge eenheid, volharding en openbare getuienis.
Filippense 2:5-11 vorm die Christologiese sentrum van hierdie motief. Christus is die Modelburger van die hemelse koninkryk, wie se heerskappy deur selfvernedering, gehoorsaamheid en die kruis heen tot verhoging lei. Die Christelike stryd word gevolglik nie deur geweld gevoer nie, maar deur eensgesindheid, nederigheid, gehoorsaamheid, volharding, lyding en getrouheid aan Christus.
Die artikel toon verder aan hoe hierdie taal in die vroeë kerk voortgeleef het by onder andere Klemens van Rome, Ignatius van Antiochië, Tertullianus en Polukarpus.
Die gevolgtrekking is dat die burgerskaps- en strydmotief ’n belangrike sleutel bied tot die verstaan van die eenheid van Filippense en tot die kerk se identiteit en roeping binne die samelewing.
Discover more from Tuis by gdssmit.com
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
