Wat gebeur as jy doodgaan?

Die siel bestaan intussen bewustelik voort

prof. Gerrit Smit

Lees: Openb. 20:1-6

Calvyn: Aangesien die Skrif oral beveel dat ons in afwagting van die koms van Christus moet wag en die kroon van die heerlikheid tot dan uitstel, moet ons intussen tevrede wees met die perke wat van Godsweë aan ons voorgeskryf is, naamlik dat die siele van die godvrugtiges … tot die geluksalige rus toetree.

Die siele sit op die troon

Lees: Openb. 20:4

Wanneer ons sterf, sluit ons aan by die regverdiges. Ons en die heilige voorgangers vorm die onsigbare kerk selfs na ons dood. Die heiliges lewe en hulle sit op trone, maar waar is Christus? Hy is in die hemel, waar Hy op die troon sit aan die regterhand van God. Hy het alle mag in die hemel en op die aarde. Die vaste vertroue dat Christus hier teenwoordig is en die gelowiges troos, vorm die basis van die Christelike hoop. Ons sal saam met Christus wees en saam met Hom regeer. Oor hulle het die tweede dood geen mag nie, want die Lam het reeds die dood oorwin.

En in die tussentyd?

As ons siele nie die liggaam oorleef nie, wat is daar dan wat by God teenwoordig is, as ons van die liggaam geskei word? Ons is by die siele van die regverdiges versamel. Dit is nie geoorloof om te wonder oor die toestand van die siel in die tussentyd nie. Baie mense kwel hulle erg oor die plek waar hulle hul sal bevind van hul sterfdag tot die wederkoms. Dis nie vir ons bekend nie. Wat ons wel uit die Skrif weet, is dat ons Here Jesus Christus vir die kwaaddoener by sy kruisiging gesê het: “Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Lk. 23:43). Of Hy bedoel het dat die siel dadelik oorgaan na die Paradys, en of Hy bedoel het dat daar vandag redding gekom het vir die kwaaddoener, word nie in die Skrif gesê nie. Miskien is dit voldoende om saam met Calvyn te sê: “Dis dwaas en onbesonne om dieper ondersoek na onbekende dinge in te stel as wat God ons toelaat om te doen”.

Om oor na te dink: Wat word van die verworpenes se siele tussen hulle sterfdag en die wederkoms?