Die gebruik van hoofletters in die Messiaanse tekste van die Ou Testament

deur prof. Gerrit Smit

Inleiding

Die verskyning van die 1983-Bybelvertaling het by baie gelowiges ’n diep gevoel van teleurstelling ontlok. Twee sake het veral onder kritiek deurgeloop, naamlik die gebruik van die dinamies-ekwivalente vertalingsmetode, asook die vervanging van hoofletters met kleinletters in persoonlike voornaamwoorde wat op Christus betrekking het. Die verwagting het ontstaan dat ’n meer bronteks-georiënteerde vertaling hierdie probleme sou aanspreek. Tog het dit geblyk dat die gebruik van kleinletters in Messiaanse verwysings voortgesit was, wat opnuut spanning veroorsaak het. Dit is die agtergrond tot die ontstaan van die Bybel; Direkte Vertaling (2020) met hoofletters.

Waarom ‘n Ou Testament met hoofletters nodig was?

Die debat oor hoof- en kleinletters is nie bloot ’n stilistiese aangeleentheid nie. Dit raak twee teologiese lyne. Eerstens funksioneer hoofletters in verwysing na Christus as ’n uitdrukking van eerbied teenoor die tweede Persoon van die Drie-eenheid. Tweedens impliseer die gebruik van kleinletters dikwels ’n bepaalde hermeneutiese standpunt, naamlik dat Ou-Testamentiese tekste nie direk Messiaans is nie, maar eers deur die Nuwe Testament so geïnterpreteer word.

Hierdie tweede punt is die kern van die saak. Indien die Ou Testament nie self van Christus getuig nie, word die klassieke Gereformeerde praktyk van Christusprediking vanuit die Ou Testament problematies. Die gaan dus nie bloot net oor hoe ons die tekste vertaal nie, maar dit gaan ook oor wat ons bely oor die openbaring van Christus in die Bybel.

Die Ou Testament as getuienis van Christus

Die Nuwe Testament self lewer getuienis oor die Christologiese karakter van die Ou Testament.

Die volgende uitsprake is hier van besondere belang:

Joh. 5:39 – Die Here Jesus sê: Julle ondersoek die Skrifte,… en dit is dié wat van My getuig.
Mat. 21:42 – Jesus sê vir hulle: Het julle nooit die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword.
Mat. 26:54 – Die Here Jesus sê: Hoe sou die Skrifte dan vervul word dat dit so moet gebeur?
Mat. 26:56 – Maar dit het alles gebeur, dat die Skrifte van die profete vervul sou word.
Mark. 14:49; Joh. 13:18; 17:12; 19:24, 28, 36 – soortgelyke formulerings.
Mark. 12:10 – Het julle nie ook hierdie Skrifwoord gelees nie…?
Luk. 22:37 – Want Ek sê vir julle dat dít wat geskrywe is, nog aan My vervul moet word…
Luk. 24:27 – En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.

Hierdie uitsprake bevestig dat die Ou Testament nie bloot ’n voorlopige dokument is wat later herinterpreteer word nie, maar dat dit inherent Christologies is. Die sleutelwoord in Lukas 24:27 is “uitgelê”. Uitleg veronderstel dat die inhoud reeds in die teks teenwoordig is. Christus voeg nie nuwe betekenis by nie, maar openbaar die bestaande betekenis.

Dieselfde beginsel geld in:

Joh. 20:9 – Want hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dode moes opstaan nie.
Hand. 17:2,3 – …gespreek uit die Skrifte en dit uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly…
Rom. 1:1-3 – …wat Hy tevore beloof het deur sy profete in die heilige Skrifte, aangaande sy Seun…

Die patroon is konsekwent. Die Nuwe-Testamentiese verkondiging is nie ’n herinterpretasie nie, maar ’n vervulling en ontsluiting van die Ou Testament.

Hermeneutiese implikasies

Indien die Ou Testament werklik van Christus getuig, volg daaruit ’n belangrike hermeneutiese gevolgtrekking. Waar tekste eksegeties duidelik op die Messias betrekking het, moet dit ook in die vertaling weerspieël word. Die gebruik van hoofletters vir “Hy” en “Hom” is dan nie ’n toevoeging tot die Skrif nie, maar ’n erkenning van die Skrif se eie bedoeling.

Die alternatief, naamlik die gebruik van kleinletters met voetnote, skep ’n skeiding tussen teks en betekenis. Dit plaas die Messiaanse interpretasie buite die teks self, terwyl die Nuwe Testament dit juis binne die teks plaas.

Die argument vanuit die brontale

’n Gereelde beswaar is dat Hebreeus en Aramees nie hoofletters gebruik nie. Hierdie argument hou egter nie stand nie. Dieselfde geld vir eiename, goddelike titels en selfs sinne se begin, wat alles in Afrikaans aangepas word volgens taalreëls.

Afrikaans ken die gebruik van eerbiedshoofletters. Volgens die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls word benamings wat eerbied uitdruk, met hoofletters geskryf. Hierdie beginsel kan dus nie bloot linguisties wegredeneer word nie. Ons kan dit uit die geskiedenis kultureel, taalkundig en teologies motiveer.

Tradisie en teologiese identiteit

Die gebruik van hoofletters in Messiaanse verwysings al jare lank gewortel in die Gereformeerde tradisie. Om hierdie gebruik prys te gee ter wille van internasionale tendense, is om ’n stuk teologiese identiteit prys te gee.

Die argument dat ander tale dit anders doen, is nie normatief nie. Vertaling vind altyd plaas binne ’n bepaalde geloofsgemeenskap, met eie oortuigings en praktyke.

Historiese ontwikkeling van die hooflettervertaling

Sedert 2009 het daar binne kerklike strukture doelbewuste pogings ontstaan om ’n hooflettervertaling van die Direkte Vertaling in Afrikaans te ontwikkel. Die Werkgroep vir Hoofletters in die Ou Testament het ’n omvangryke taak aangepak, waarin duisende tekste geïdentifiseer is waar hoofletters volgens eksegetiese oorwegings gepas sou wees.

Die proses is bemoeilik deur uiteenlopende teologiese standpunte, beperkte hulpbronne en organisatoriese uitdagings. Tog het die projek voortgegaan, gedryf deur die oortuiging dat Christus nie net in die Nuwe Testament teenwoordig is nie, maar in die hele Skrif. Die produk van hierdie oortuiging vind ons in die Bybel: Direkte Vertaling (2020) Hoofletteruitgawe.

Samevatting

Die kernvraag is: Getuig die Ou Testament self van Christus? Indien die antwoord ja is, dan moet ons vertaling dit weerspieël. Die gebruik van hoofletters erken dat die Skrif een is, en dat die openbaring een lyn volg, van belofte tot vervulling. Om dit te ontken, selfs implisiet, raak die hart van Skrifgesag.