Mercersburg Theology – Brad Littlejohn

Oorsig deur Prof. Gerrit Smit

Waaroor handel die boek?

Die Protestantisme word vandag van alle kante bedreig. Liberaal, evangelies, gereformeerd, charismaties – noem maar op – die kerk verloor sy unieke identiteit in die wêreld. Die kerk word rondgespoel tussen die branders van sektariese subjektivisme en verstokte rasionalisme, die tweeling-boeties van die Verligting. Die Princeton-teologie se poging om die herlewingsbewegings van die 1800’s binne Gereformeerde raamwerk te hou, het dikwels te veel van ‘n individualistiese geur gehad. Vanaf 1843 het die Mercersburg-teoloë, onder John Nevin en Charles Hodge, gepoog om ‘n antwoord te bied op die versplintering van die kerke onder die invloed van die sekulêre individualisme en die invloed van die modernisme op die kerke, veral in Europa en die VSA.

John  Nevin was van mening dat die Skrif ‘n ekklesiosentriese Reformasie voorskryf. Dit behels dat die kerk ‘n meer sentrale rol in die geloofslewe van die Christen behoort te speel en dat Christene behoort te besef dat die Nuwe Testament swaar klem lê op die gelowige se betrokkenheid by ‘n plaaslike kerk teenoor die hedendaagse neiging om te sê: “Ek kan die Here net so goed by my huis dien”. Littlejohn wys daarop dat die gelowige nie die Here net so goed by die huis kan dien nie, en dat die kerk ‘n belangrike rol speel in die geloofsgroei van elke gelowige. Hy wys daarop dat die katolieke (algemene) kerk van die Ou Testament na die Nuwe Testament een en dieselfde kerk is, aangesien God sy kinders binne die verbond roep reeds lank voor die Nuwe Testament. In wese het die katolieke kerk reeds by die skepping sy ontstaan gehad. Deur die eeue het die kerk egter verander deur verskillende filosofiese invloede. Littlejohn wys die teoloog op die besondere bydrae van Nevin en die Mercersburg-teoloë deur te fokus op ‘n sakramentele beskouing oor die lewe: dit is dat die kerk en die Woord van God op alle terreine van die lewe ‘n rol behoort te speel in die samelewing en nie tot die privaat sfeer verban moet word nie. Die Mercersburg-teologie dien vir Littlejohn as ‘n spieël waarteen reformatoriese kerke hulself behoort te spieël en te vra: Is ons nog Gereformeerd? Dit is trouens een van die belangrikste vrae vir kerke vandag.

Vir wie is dit bedoel?

The Mercersburg Theology and the Quest for Reformed Catholicity is spesifiek bedoel vir predikante, teoloë en gelowiges binne die reformatoriese bediening. Die boek bied ‘n besondere oorsig oor die historiese aksentverskuiwings wat binne die teologie van die 12de eeu na Christus plaasgevind het, en hoe dit aanleiding gegee het tot die reformasie. Die boek dui ook aan hoe die reformasie se semper reformanda beginsel, dikwels in Gereformeerde kerke gebruik word as verskoning vir verandering van struktuur en liturgie, maar dat so ‘n verandering nie altyd die hart van die reformatoriese oproep tot voortdurende suiwering eerbiedig nie.

Die boek kan waardevol wees vir gelowiges oor die algemeen, maar die gedeelte oor die filosofiese strominge van die Verligting en die opkoms van die rasionalisme kan dalk bietjie “swaar teologies” wees vir iemand met min teologiese kennis. Hierdie boek sal veral vir leraars ‘n besondere waardevolle werk wees om van kennis te neem.