Ek slaan my oë op na die berge…

Skriflesing: Ps. 121: 1-8
Teks: Ps. 121: 1-2

Hoe maklik gebeur dit nie dat ons moedeloos word nie? Dink hoe moedeloos word ons jongmense as hulle jare gestudeer het, duisende rande se studieskuld het, en as hulle aansoek doen vir die hoeveelste werk, kry hulle nie waarna hulle soek nie. Hoe baie van ons mense verlaat die land om groener weivelde elders te soek? Hoe maklik gebeur dit dat ons sê: Ons weet nie meer hoe ons die pad vorentoe gaan loop nie; ons is bekommerd oor die toekoms van die kerk, van die land, van my gesin.

In Ps. 121 vind ons die belydenis van die sorg van die Here in dialoogvorm. Ps. 121 is ‘n bedevaartslied – dit is ‘n lied wat deur die Israeliete gesing is, wanneer hulle van ver stede af na Jerusalem gekom het, om die feesdae van Israel te vier. Langs die pad was daar gevare wanneer hulle die nag moes oorslaap: daar was vyande, rowers, wilde diere en siektes. Rondom hulle is berge. Vir die heidene was die berge nie net gewone rotse nie, hulle het gesê – die berge is die woonplek van die gode. In vers 1 sê die psalmdigter: ek kyk na hierdie berge, sal ek hulp kry van die gode wat daar bly, soos die heidene leer? Sou ek in my bekommernis my vertroue stel in die sg. “berggode” waarvoor die heidene buig? Sou ek vertrou op ander dinge behalwe die Here, om my uit my situasie te help, want vir ons voel dit asof ons nou alleen is.

Terwyl ons worstel met vrae oor die toekoms, terwyl ons vasgevang word in ons daaglikse bekommernis oor die branstofprys, die barbaarsheid van boosdoeners in ons land, die gevare wat ons bedreig, kan ons onsself maklik identifiseer met hierdie digter. Ja, kan ons sê, “waar sal my hulp vandaan kom?”

My hulp, so verklaar baie mense deur hulle optrede, kom van daardie dobbelhuis wat elke nou en dan ‘n nuwe miljoenêr maak; dis die plek waar ons nou die tekort in ons finansies gaan regstel. My hulp kom van die kompetisie waarvoor ek ingeskryf het, want ek kan dalk ‘n blink nuwe motor wen, en ek het ‘n nuwe een nodig, die Here moet net verstaan. Of so hoor ons mense praat: ek stel nie my vertroue op ander dinge nie, maar ek koop elke week my lotery kaartjie, en dan sê ons: ek koop dit mos nie om ‘n miljoen te wen nie, my R 2-50 gaan vir barmhartigheid.
Wie probeer ons ‘n rat voor die oë draai? Sal enige hulp buite die Here kan wees?

In vers 2 kom die antwoord van die psalmdigter as hy sê: Nee, ek weet my hulp is van die Here. Hy is die God wat so groot was dat Hy die hemel en die aarde gemaak het( vs. 2), hoekom sal Hy my klein probleempie nie kan oplos nie? Ons hulp is van die Here wat die Hemel en die aarde geskape het. Ons hoef in wanhoop ons oë op te slaan na die wêreld en die moedeloosheid van ons tyd, en dink dat daar vir ons hulp is nie. Dit is nie ons veiligheidstelsel by die huis of ‘n sterk bankbalans wat veiligheid aan die gelowige verseker nie, maar die nabyheid van die Here in ons lewens.

Hy sê in vers 3: ek kan vannag rus, want ons bewaarder slaap nie. In alles wat ek doen is die Here die een wat my lei (vers 3 – Hy kan jou voet nie laat wankel nie).

Is ons bekommerd oor die toekoms van ons kerk? – ons is mos Christus se kerk, en Hy belowe dat Hy sy kerk bewaar. Is ons bekommerd oor ons lewens, of ons werk het – Ons behoort mos aan Hom, Hy bewaar ons. Natuurlik beteken dit nie dat dit altyd net goed sal gaan met ons nie. Wanneer die psalm geskryf word, is die gelowige wat dit skryf in lewensgevaar – maar hy weet die Here beskerm hom.

Die Here wil ons vandag troos deur hierdie psalm en ons daaraan laat dink dat Hy ons altyd beskerm. Soos ‘n skaduwee ‘n mens volg, maak nie saak of ons hom daar wil hê of nie, so sê vers 5 is die Here soos ‘n skaduwee altyd by ons. Deur sy Heilige Gees is God hier by ons teenwoordig, sodat die bekommernisse wat ons het, ons nie kan oorweldig nie, want ons hulp is van die Here.

God se genade en voorsiening is al wat ons het. Deur Christus se sterwe en opstanding het ons die versekering dat God ons nie alleen los nie, en dat ons hulp van Hom af kom. Toe ons in die grootste nood was-vasgevang in die mag van die sonde, het Hy vir ons sondes betaal. Vandag kan ons steeds die sekerheid hê dat ons hulp van die Here kom.

As ons luister na die Woord van die Here in Ps. 121 dat ons hulp alleen van Hom is, besef ons: as God nie met ons is nie kan geen skepsel help nie, as God met ons is, kan niks ons van Hom skei nie. Vers 7 sê: Hy sal ons hele lewe bewaar. Al voel dit of alles rondom ons vergaan, die Here is ons bewaarder (vers 4-5 leer dat Hy nie slaap nie, en dat Hy altyd met ons is). Christus is die hoof van ons lewens. As ons val is Hy daar om op te tel (vs. 3). Hy sal ons lei tot in die dood, al is ons soms so kleingelowig en bekommerd.

Daar is geen sekerheid in hierdie wêreld, geen vastigheid, as ons dit nie soek in Jesus Christus ons Here nie. Ons weet in bekommernis, ons hulp is van die Here, Hy sal voorsien, en Hy sal bewaar. Kom ons as gemeente slaan ons oë nie op na die heidene en die afgodediens en die wêreld se soeke na geluk nie, omdat ons weet: My hulp is van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Kom laat ons dankbaar wees vir die wonderlike voorreg wat die Here ons gee om Hom te mag dien, en dat Hy ons op ons lewenspad bewaar. In Jesus Christus het ons die versekering dat God sy kerk bewaar, en elke gelowige styf in sy hande vashou, sodat niks ons van sy nabyheid kan skei nie.

In Ps. 121 word ons weer daarop gewys dat ons nie moet vergeet dat dit die Here is wat ons lewens in sy hande hou nie. Hy is die God op wie ons behoort te vertrou, en nie die wêreld met hulle verleiding en onsekerheid nie. In die ballingskap was die volk in ‘n situasie waar mense hulle dood gesoek het, en tog was die Here hulle bewaarder. Die Here is ook ons bewaarder. Daarom kan ons met moed leef, hoef ons ons nie te bekommer oor die wêreldse dinge wat onhanteerbaar word nie – God bewaar sy kinders. Moedeloosheid oor die toekoms hoort nie by ‘n gelowige nie, want God se Gees is by ons. Hy bewaar ons, en ons kan tot Hom bid vir moed op die pad vorentoe.
AMEN