Wat glo die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK)?

WAAROM DIE AP KERKE ?

Wanneer u lidmaat van ‘n plaaslike AP kerk word, mag dit nie gaan om wêreldse oorweginge nie.  As iemand byvoorbeeld wil lidmaat word bloot omdat hy/sy nie met ‘n vorige leraar oor die weg gekom het nie, bly dit ‘n vraag of so iemand regtig by ons hoort?

Die AP Kerke is Gereformeerde kerke (dit is: Bybelgetroue kerke) en binne die Gereformeerde kerkefamilie is dit ‘n beginsel dat jy jou moet voeg by dié kerkverband wat jy glo die suiwerste kerkverband is (N.Gb. Art. 28).  Dit beteken dat jy lidmaat moet wees by dié kerk waar jy glo die Here die Skrifgetrouste gedien word.

Reeds met die Hervorming is hierdie beginsel raakgesien en is daar onderskei tussen die ware en die valse kerk.  In die Nederlandse Geloofsbelydenis word dit duidelik uitgespel: Die drie merktekens van die ware kerk is die suiwere verkondiging van die Woord, die suiwere bediening van die sakramente  – soos Christus dit ingestel het, en die handhawing van die kerklike tug (Art. 29).  ‘n Kerk wat nie hierdie merktekens vertoon nie, is nie meer suiwer kerk nie, of moontlik selfs ‘n valse kerk.

 

Suiwere verkondiging van die Woord

Een van die eerste tekens waar ‘n mens kan sien dat ‘n kerk die suiwere pad verlaat, is as die Woordverkondiging nie meer suiwer is nie.  Wanneer ‘n kerk deur die Woordverkondiging en die kerkleer afwyk van wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het, kan hy nie meer aanspraak daarop maak dat hy ‘n Gereformeerde kerk is nie.

In die AP kerke is dit vir ons ‘n saak van groot erns om so Skrifgetrou as wat moontlik is te wees in ons prediking, ons kerkleer, by die neem van besluite, ens… Juis daarom onderskryf ons die Drie Formuliere van Eenheid en verwerp alle leringe wat daarmee in stryd is. Juis daarom verwerp ons die sogenaamde “Nuwe Reformasie” en “Skrifkritiek” en verklaar dat dit niks anders is as ‘n poging om die eeue-oue Skrifwaarhede te bevraagteken en ‘n subtiele poging om die gesag van die Skrif te ondergrawe.  Juis daarom verwerp ons enige vorme van leervryheid en verwag dat elke predikant en ouderling en lidmaat hulself gebonde sal ag deur Skrif en belydenis.  In leervryheid lê die dood van die suiwer kerk.

Die rede waarom die Skrif suiwer en in al sy konsekwensies verkondig moet word, is omdat die bediening van die Woord een van die sleutels van die hemelryk is (HK So. 31).  Daarom bedien die bedienaar van die Woord die gesag van God.  Hy spreek God se Woord en bedien sy gesag.  Deur die suiwere prediking word die hemelryk deur God self vir die regverdiges oopgesluit en vir die moedswilliges en ongehoorsames toegesluit.  Daarom moet die ouderlinge waak oor die verkondiging van die Woord sodat daar nie deur dwaalleer voorgegee word dat die lidmaat wat in sonde volhard, kan deel aan God se Ryk nie.

Deur die suiwere verkondiging van die Woord word die gelowige, wat maar steeds sondaarmens is, voor die regterstoel van God geplaas en word hy/sy opgeroep tot daaglikse berou en bekering.  So dien die prediking een van sy doelstellings.

 

Suiwere bediening van die Sakramente

Die vereiste wat die Skrif aan die bediening van die sakramente stel, is dat dit bedien moet word soos Christus dit ingestel het.  Enige ander bykomstighede mag nie geduld word nie.

Sakramente verkondig die werk van Christus op ‘n sigbare wyse. Ons leer in die Bybel net van twee sakramente, nl. die Doop en die Nagmaal.  Wat egter belangrik is, is dat die Bybelse instelling van hierdie twee sakramente gehandhaaf moet word.  Daarom doop ons in die AP kerke net met water, want die Here Jesus is so gedoop, en erken ons geen ander vorm van doop wat deur die mens uitgedink is nie. Verder moet die doop in die Naam van die Drie-enige God geskied en moet die kerk wat die doop bedien, die Drie-eenheid bely.  By die Nagmaal word slegs brood en wyn (en rooi druiwesap vir die wat verkies) gebruik, want die Here het die nagmaal so ingestel.  Enige poging om meer sakramente in te voer of om die sakramente te wysig of om ander kerklike handelinge sakramentele status te gee, is tekenend van ‘n kerk wat die gereformeerde (Bybelse) pad verlaat. Ons aanvaar nie die kindernagmaal nie.

Wat ook belangrik is om te onthou, is dat die sakramente nie suiwer bedien kan word as die Woordverkondiging nie suiwer is en as die ouderlinge nie suiwer toesig hou en waak oor die heiligheid van die sakramente nie.

 

Handhawing van die Kerklike Tug

Die handhawing van die kerklike tug is seker die een merkteken wat in die moderne eeu verwaarloos word.  Die humanistiese geroep om mekaar in liefde te verdra en mekaar se verskille te aanvaar, het ook tragies oorgespoel na die kerke van die Here.

Wanneer ‘n kerk openlik die sonde in sy midde verdra en die ouderlinge die sondaar nie aanspreek en vermaan om terug te keer na die weg van gehoorsaamheid nie, versaak daardie kerk sy roeping.

Tug het in hierdie bandelose eeu waarin ons leef onmisbaar geword.  Wanneer die Woord en sakramente suiwer bedien word, maar geen tug in die gemeente toegepas word nie, kan daar nie sprake wees van ‘n suiwer kerk nie.

Omdat tug ‘n liefdesaksie is waarin die bandelose sondaar weer teruggebring moet word na die gemeenskap met die Here, is ‘n kerk waarin geen tug bestaan nie, ‘n kerk waarin die liefde van die Here nog nie tot volle ontplooiing gekom het nie.

 

Die AP Kerke glo:

  • Ons glo in die Drie-Enige God
  • Ons glo dat Jesus Christus alleen die Weg, die Waarheid en die Lewe is en dat geen mens gered kan word, behalwe deur geloof in Jesus Christus nie.
  • Ons glo dat God Hom op twee maniere aan die mens openbaar, naamlik deur die skepping en deur die Skrif. Dit is nie moontlik om God alleen deur die skepping te leer ken nie. Die skepping getuig van Hom, maar deur die Skrif leer ons Hom ken.
  • Ons glo dat Christus werklik opgestaan het uit die dood en dat Hy sigbaar opgevaar het na die hemel.
  • Ons glo dat Christus weer sal kom aan die einde van die tyd om oor die wêreld te oordeel.
  • Ons glo dat die Heilige Gees wedergeboorte, geloof en bekering in die hart van die mens bewerk, en dat die mens nie uit vrye wil God aanneem of verwerp nie.
  • Ons glo dat saam met die kerk deur die eeue in die leer van die algemene belydenisskrifte, naamlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Athanasius en die Geloofsbelydenis van Nicéa.
  • Ons glo saam met die kerke van reformatoriese afkoms in die besondere belydenisskrifte, wat bekend staan as die drie formuliere van eenheid. Hierdie geskrifte is die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leërreels.
  • Ons glo dat daar slegs twee sakramente deur Christus ingestel is, naamlik die doop en die nagmaal.
  • Ons glo dat God ‘n verbond van genade met die mens van die skepping af gesluit het, waarin Hy sy genade aan die mens openbaar en gehoorsaam eis.
  • Ons glo dat God verskillende volke geskep het en dat Hy deur sy genade die wel en weë van volke, tale, nasies en koninkryke bestuur.
  • Ons verwerp die beskouing dat een volk oor ‘n ander moet heers of dat sekere volke meerderwaardig is en ander minderwaardig is.
  • Ons glo dat elke gelowige die reg het om God in sy eie taal te aanbid.
  • Ons verwerp die standpunt dat ‘n mens in tale moet kan praat, siekes moet kan gesond bid of enige wonder moet kan verrig as teken dat jy die Heilige Gees het.
  • Ons verwerp die standpunt dat die kerk op die Saterdag eredienste moet hou omdat dit sondig is om dit op Sondae te doen.
  • Ons verwerp die standpunt dat die kerk ‘n sosiale instelling is wat moet verander na die behoeftes van mense. Ons beskou die kerk as die vergadering van God waartoe ons geroep word en daarom moet die kansel in die middel van die kerk wees wat as simbool dien dat die Woord van God in die kerk sentraal staan.
Algemeen
  • Die AP Kerk onderskryf nie die Israelvisie nie en het dit in ‘n sinodebesluit openlik verwerp. Ons het ons eie volk, kultuur en taal lief, en glo dat God dit vir ons beskik het. Ons haat egter nie ander volke nie en glo nie dat ons beter as enige ander volk is en daarom alleen aanspraak mag maak op die genade van God nie.
  • Ons het ‘n sendingbeleid en besef dat ons daartoe geroep is.  Die AP Kerk is nie teen sending nie, en glo dat dit ‘n opdrag in die Skrif is dat alle lidmate geroep is om aktief aan sending en evangelisasie deel te neem. Om te weier om sending te doen is ons insiens sonde.
  • Ons is in die AP Kerk tans in die geseënde posisie dat ons teoloë en predikante nie verskillende teologiese denkrigtings navolg nie. Ons laat ook nie predikante in die kerkverband toe as daar enige twyfel bestaan oor hulle suiwerheid van leer en Skrifbeskouing nie.
  • Ons staan en val by die Bybel as geïnspireerde Woord van God.
  • Ons stel ons teenoor alle vorme van hiërargie in die kerkregtelike opset. Christus alleen is die Hoof van die kerk. Op grond hiervan glo ons alle ampte is gelykwaardig. Om dié rede is geen mens die hoof van die AP Kerk nie.