In die vorige artikel oor getalle in die Bybel, het ons gekyk na die getal drie en gesien hoe die derde dag deur die hele Skrif die patroon volg van God se redding. In hierdie artikel kyk ons na die getal ses. Die getal ses het deur die eeue allerhande spekulasie uitgelok. Mense het dit op pouse, presidente, rekenaarstelsels en strepieskodes van toepassing gemaak. Die gereformeerde eksegese probeer om hierdie soort speurwerk te vermy en die Bybel te lees vir wat dit is, naamlik God se openbaring. Die Bybel is nie ‘n kodeboek nie. Die getalle in die Skrif is teologiese boodskappe, nie towerformules nie. Maar dat ses iets in die Bybel sê, en iets baie spesifiek, kan ons ook nie ontken nie. Die getal ses vertoon in Bybelse en buite-Bybelse tradisies ’n gelaaide betekenis.
Pythagoras se idee?
Voor ons na die getal in die Bybel kyk, is dit belangrik om eers te vra waar ons nog van die getal ses lees? Sommige reken die idee van die simboliese betekenis van die getal 6 kom van die Griekse filosoof en wiskundige, Pythagoras, vandaan. Hy was bekend daarvoor dat hy voorspellings deur getalle en die stand van sterre en planete gewaag het. Pythagoras het die getal ses as die mees menslike getal beskou, wat met die assosiasie van manlik en vroulik te doen het. Hy het die getal 6 die getal van die “huwelik” en “harmonie” genoem. Dit is interressant, en hierop het Pythagoras gewys, dat die getal ses terselfdertyd gelyk is aan die som van sy delers (1+2+3=6) en aan hulle produk (1×2×3=6). Ses is die enigste getal wat so uitwerk. Pythagoras het 6 om dié rede ‘n dubbele volmaakte getal genoem. Hierdie kenmerk van die getal 6, het by die Grieke die gevolg gehad dat hulle 6 as die volmaakte getal verstaan het en nie sewe nie. Daarteenoor gebruik die Jode (en dienooreenkomstig die Ou Testament), deurgaans die getal 7 as die volmaakte getal. Die gebruik van die getal 6 was egter nie ‘n uitvinding van Pythagoras nie. Dit was reeds lank voor Pythagoras se tyd bekend – trouens, dit kom al in die boek Genesis voor. Dwarsdeur die antieke geskrifte, binne en buite die Bybel, word die getal 6 gebruik met ‘n simboliese betekenis. Al verskil die Grieke van die Jode oor watter getal die volmaakte getal is, het die Grieke saamgestem dat 6 die simboliese getal van ‘n mens is.
Sewe as die agtergrond van ses
Om ses te verstaan moet ons eers by sewe begin. Sewe is in die Skrif die getal van volheid en rus. Dit kom van die skeppingsweek waar God ses dae arbei en op die sewende rus (Gen. 2:2). Sewe word die getal van die verbond, van die volledige werk van God, en van die Sabbat. Wanneer Jesus sê ‘n mens moet sy broer sewentig maal sewe vergewe (Matt. 18:22), wys dit op volledige, voltooide vergifnis.
Die mens word op die sesde dag geskape
Die grondbetekenis van ses lê in Genesis 1. Op die sesde dag skep God die landdiere en daarna die mens na sy beeld (Gen. 1:24-31). Die mens is dus die ses-dag-se-skepsel. Daar lê ‘n besondere eer in. Die mens word laaste geskape, as kroon van die skeppingswerk, en die HERE verklaar self dat alles “baie goed” is (Gen. 1:31).
Maar daar lê ook ‘n beperking in. Die mens is op dag ses geskape, nie op sewe nie. Hy word ingesluit by God se rus, maar hy is nie die bron daarvan nie. Hy ontvang die Sabbat, hy maak dit nie. Daarom word ses deur die hele Skrif die getal van die menslike, die geskape en die afhanklike.
Die vierde gebod sê: “Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen, maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God” (Eks. 20:9-10). ‘n Samelewing wat net in “ses” leef en nooit by “sewe” uitkom nie, brand geestelik en liggaamlik uit. Dit is een van die waarskuwings wat ons gejaagde tyd moeilik wil hoor.
Ses as die getal van “kort van sewe”
Ses skiet in die Bybel altyd een tekort aan sewe. Ses is die dag voor die Sabbat, die dag voor die oorlog gewen word, die jaar voordat slawe vrygelaat word en die jaar voordat die grond moet rus en daar nie geplant mag word nie.
Wanneer die Skrif menslike trots en hoogmoed wil beskryf, gebruik dit dikwels herhaalde sesse. Goliat is die klassieke voorbeeld van die Ou-Testamentiese antichris. Hy is ses el lank, sy spiespunt weeg seshonderd sikkels yster, en sy wapenrusting word in ses dele opgenoem (1 Sam. 17:4-7). Die Hebreeuse teks laai die getal so op dat die leser moet hoor: hier staan menslike krag op sy hoogtepunt, en dit is steeds net ses, wat onvolmaak is.
Daniël 3 doen dieselfde met Nebukadnésar se goue beeld. Dit is sestig el hoog en ses el breed (Dan. 3:1). Mag en majesteit, ja, maar steeds onder die volmaakte syfer 7, die getal van God. Die beeld wat aanbid moet word, dra reeds in sy afmetings die merk dat dit minder is as die God van Israel.
Selfs Salomo se jaarlikse inkomste is, ten minste in die manier waarop die teks dit weergee, ‘n waarskuwing. 1 Konings 10:14 vermeld dat die gewig van die goud wat jaarliks na Salomo gekom het, “seshonderd ses en sestig talente goud” (22,6 ton – R56 miljard/jaar!) was. Hierdie besonderhede is in die lig van die teologiese bedoeling van die boek Konings, meer as bloot ekonomiese statistieke. Hoewel Salomo buitengewone rykdom en wysheid ontvang het, begin sy lewe juis op hierdie punt die tekens van geestelike verval toon. Die wet het in Deuteronomium 17:14–17 uitdruklik gewaarsku dat ’n koning nie groot hoeveelhede silwer en goud vir homself moes ophoop nie. Salomo oortree egter hierdie grens dramaties.
Die getal 666 word dus in die Ou Testament ’n simboliese aanduiding dat uiterlike prag nie noodwendig geestelike volheid beteken nie. Daarom is dit opvallend dat Salomo se rykdom juis met ’n drievoudige ses beskryf word.
Hierdie simboliek word verder nog meer insiggewend wanneer ’n mens Salomo se latere nadenke in Prediker lees. Die man wat byna onbeperkte rykdom besit het, kom uiteindelik tot die gevolgtrekking dat aardse plesier en besittings nie ware vervulling bring nie. Hy ontdek dat menslike prestasie, selfs op sy hoogste vlak, leeg bly sonder die vrees van God. Die 666 talente goud per jaar word daarom ’n waarskuwende beeld van die mens wat alles het, maar steeds onvervuld bly. Dit is die tragedie van die ses. Dit is ‘n menslike poging wat nooit uit homself sewe kan word nie.
Die teenoorgestelde sien ons in Johannes 2. By die bruilof in Kana staan ses klipkanne vir die Joodse reinigingsrituele (Joh. 2:6). Klip is gebruik omdat klip volgens Joodse reinheidsgebruike nie maklik onreinheid afgegee het soos kleipotte nie. Argeologies is baie sulke kliphouers in Jerusalem en Galilea ontdek, veral uit die eerste eeu. Maar, nêrens in die Ou Testament word voorgeskryf hoeveel klipkanne in ‘n huis moes wees nie. Ons weet Johannes skryf selde besonderhede neer sonder ‘n dieper boodskap. Die hele evangeliebeskrywing werk met tekens en simbole. Daarom meen verklaarders dat die ses kanne doelbewus genoem word om die onvolledigheid van die ou reinigingstelsel uit te beeld, totdat Christus die ware vervulling bring.
Die ses kanne in Johannes 2 het dus simboliese waarde:
- ses verbind met die menslike en onvoltooide, dit verwys na die water van uiterlike reiniging,
- Christus verander dit in wyn,
- die nuwe verbond vervul wat die ou stelsel nie kon voltooi nie.
Ses, nie sewe nie. Die ou bedeling, hoe goed bedoel ook al, is onvolledig. Christus laat juis die ses kanne vol vars wyn loop. Hy bring die volheid van die nuwe verbond, in ‘n stelsel wat steeds by ses vasgehaak het.
Openbaring 13 en die getal van die dier
Dit bring ons by Openbaring 13:18: “Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig.”
Let op die uitdrukking. Dit is die getal van ‘n mens. Johannes sê nie dit is die getal van die dier of die duiwel of van die antichris nie. Hy sê dit is ‘n mens se getal. Die antichristelike mag in die boek Openbaring is uiteindelik die menslike ryk wat homself in God se plek probeer stel. Sommige geleerdes wys daarop dat die Hebreeuse spelling van Nero Caesar getalsmatig 666 oplewer, en histories pas dit goed by die situasie van die eerste lesers wat onder die Romeinse keiserkultus moes leef. Maar die boodskap reik wyer as Nero of enige spesifieke keiser. Elke ryk en elke stelsel wat aanbidding van die mens eis, dra hierdie getal 666.
Drie sesse is die uiterste teken van menslike selfverheerliking. Die ses word herhaal sodat geen leser dit kan mis nie. Daar staan, in plaas van die volle sewe van die Drie-enige God, die onvolmaate ses-ses-ses. Dit lyk indrukwekkend. Maar dit bly tot in ewigheid een kort van sewe.
Die grootste afgod is die mens self
Calvyn skryf dat die menslike hart ‘n permanente afgode-fabriek is. Daar is geen tyd in die geskiedenis waarin die afgod nie uiteindelik die mens self is nie. Goliat, Nebukadnésar, Caesar, konings en die moderne staat verskil in vorm, maar nie in inhoud nie. Daarom is 666 nie ‘n kode wat ‘n mens op ‘n etiket, halaal, ‘n kredietkaart of ‘n strepieskode hoef te soek nie. Dit is die simboliese getal van die hart wat homself op God se troon plaas.
Die troos van Openbaring is dat die Lam in hoofstuk 14 op die berg Sion staan. Die getal sewe oorheers die hele boek met sy sewe gemeentes, sewe seëls, sewe trompette en sewe skale.
Slot
666 klink magtig totdat jy besef dit is net ‘n ses wat homself probeer koning maak. Die getal van die mens kan nooit die getal van die volheid wees nie. Die kerk wat dit verstaan, hou op om bang te wees vir die dier, en leef in dankbaarheid dat Christus die volmaate sewe is wat God belowe het.
Discover more from Tuis by gdssmit.com
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

