Die onderskeid tussen “kanoniek” en “apokrief”

Kanoniek en Apokrief

Prof. Gerrit Smit

Naas die 66 boeke wat ons in die Bybel vind, is daar ook ander geskrifte wat uit die tyd van die Ou Testament en selfs ook uit die tyd van die Nuwe Testament dateer. Hierdie boeke handel dikwels ook oor sake wat ooreenstem met dit wat ons in die Bybel vind, maar word nie in die Bybel gevind nie. Hulle word genoem die apokriewe boeke. Hulle word so genoem in onderskeiding van die boeke van die Bybel wat weer as die kanonieke boeke bekend staan.

Die woord “apokrief” kom van die Griekse woord “apokruphos” wat beteken: bedek of wegsteek. Dit slaan op die feit dat hierdie boeke nie in die kerklike samekomste gebruik is nie en daarom nie na vore of na die lig gebring is nie.

Die woord “kanoniek” is afgelei van ’n Egiptiese woord wat beteken: riet, maatstaf of norm. Kanoniek beteken dus dit wat voldoen aan die eis of norm. In hierdie geval is die bedoeling: dit wat voldoen aan die eis vir ’n heilige of geïnspireerde boek. Dit is die 66 boeke wat ons in die Bybel vind.

Christene kan gerus kennis neem van die inhoud van die apokriewe boeke. Hulle is dikwels baie leersaam en selfs interessant. Sommige van die apokriewe boeke stem ooreen met die kanonieke boeke, maar bevat gedeeltes wat nie in die Hebreeuse teks van die Bybelboek voorkom nie. Sulke byvoegings tot die Bybelboeke was geag apokriewe gedeeltes te wees wat nie in die kanonieke boeke opgeneem moet word nie. Sulke boeke word gewoonlik aangedui met die Bybelboek se naam en ‘n + teken agterna om aan te toon dat dit byvoegings bevat wat nie in die Hebreeuse teks voorkom nie. ‘n Voorbeeld hiervan is die boek Ester, wat in die Septuagint verskeie addisionele gedeeltes bevat by dit wat vir ons bekend is uit die kanonieke Hebreeuse Bybelboek. Die boek word aangedui met die benaming Ester+.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis maak in Artikel 6 voorsiening daarvoor dat die kerk wel uit hierdie boeke mag leer sover as wat dit met die kanonieke boeke ooreenstem. Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.

Een van die apokriewe boeke wat byvoorbeeld vir ons waardevolle inligting gee oor die toestand van Israel in die tussen-Testamentêre tyd (‘n tydperk van die geskiedenis wat nie in die Bybel opgeteken is nie) is die boeke Makkabeërs.

Die apokriewe boeke word ongelukkig deesdae dikwels gebruik om die Bybelse boeke te bevraagteken. Dit was nooit die bedoeling van die skrywers met die skryf van die boeke nie. Ons moet die apokriewe boeke eerder gebruik om ons te help om die diepte van die Woord van die Here beter te begryp eerder as om verskille te probeer uitwys en daarop te fokus. Dan kan die apokriewe boeke vir ons kennis van die Bybel baie waardevol wees.