Die uitverkiesing word verdraai

Moenie die uitverkiesing verdraai nie

prof. Gerrit Smit

Lees: Efés. 1:3-23

Die uitverkiesing word verdraai as mense alle erns en ywer om goed te doen, laat wegval.

Calvyn: Hulle lieg in elk geval nie heeltemal nie, want daar is baie varke wat die predestinasieleer met hulle onrein belasterings besoedel en alle vermanings en teregwysings…ontwyk (Inst. III.23.12, 8-9).

Groter eerbied

Lees: Efés. 1:4-6

Dis duidelik dat Paulus hier in Efésiërs leer dat God wel die gelowige uitverkies het en dat die mens uit die genade van God leef. Die Skrif leer ons dat ons met eerbied en godvresendheid oor hierdie groot raaisel in God se Raadsplan moet dink en praat. Die uitverkiesing moet nie gebruik word om ons hoogmoedig te maak nie. Die uitverkiesing moet ook nie as verskoning gebruik word om agteroor te sit en niks te doen nie. Die doel is eerder om bewus te wees van God se groot genade aan die mens en die grootsheid van die offer van Christus om ons sonde op Hom te neem, sodat ons nie deur God veroordeel word nie.

Groter dankbaarheid

Lees: Efés. 1:11-14

Dié wat die uitverkiesing teëstaan, meen dat die mens in die lig van die uitverkiesing sorgeloos kan voortgaan met sy/haar lewe. Want sou hulle uitverkies wees, sal hulle sondes hulle nie uiteindelik uit die hemel hou nie. Paulus plaas egter ‘n swaar klem op die rede waarom die mens uitverkies word, naamlik tot sy eer (vers 4) en tot lof van sy heerlikheid (vers 12). Ons word dus uitverkies om ‘n heilige en onberispelike lewe te lei.

Om oor te bid: Dank die Here dat die uitverkiesing ons nie lou maak in die stryd teen die bose nie, maar eerder krag gee om teen die versoekings te stry. Bid die Here dat Hy jou wysheid sal gee om sy uitverkiesing te verstaan.