Hoe reël ek ‘n begrafnis?

Reëlings vir Begrafnisse

prof. Gerrit Smit

VOORDAT u reël met ‘n begrafnisondernemer vir ‘n datum en tyd van ‘n begrafnis, moet u die kerkkantoor kontak en uitvind watter datums die leraar, orreliste, koster en kerkgebou beskikbaar is. Die leraar is met beperkte opdrag in die gemeente en is nie enige tyd beskikbaar vir begrafnisse nie.

Teks en tema

Die teks en tema vir die begrafnisdiens word deur die leraar self bepaal. Familie is welkom om ‘n versoek te rig oor ‘n spesifieke teks of tema, maar dit kan nie gewaarborg word dat die leraar die versoek kan nakom nie.

Kerkgebou

Die kerkgebou is gratis beskikbaar vir persone wat meelewende gemeentelede was en hulle direkte familie. Nie-lidmate is ook welkom om die kerkgebou te gebruik vir begrafnisse, maar daar is ‘n fooi betaalbaar.

Koste

‘n Begrafnis is ‘n privaat aangeleentheid. Die kerklike amptenare (leraar, orreliste, koster, klankman) word nie deur die kerkraad vergoed vir hierdie dienste nie. Dit is die verantwoordelikheid van die familie van die afgestorwene om die kerklike amptenare te vergoed vir hulle dienste teen ‘n vasgestelde tarief. Die tariewe is nie buitensporig nie. U kan die kerkkantoor kontak vir inligting oor die tariewe.

Verversings

Die susters van die gemeente voorsien verversings by begrafnisse van lidmate (toebroodjies/tee/koffie). Indien die familie verkies om eie verversings aan te bied, of om iets anders as toebroodjies te bedien, is u welkom. Die koste daarvan is egter vir die familie se rekening. Skakel asb. met ons kerkkantoor vir inligting oor die verversings by ‘n begrafnis.