Die lering van die apostels (Didaché)

Die Didaché

prof. Gerrit Smit

Die inleiding van die Didaché (uitgespreek as: “di-da-gê”) gee die naam van die geskrif weer as ΔΙΔΑΧΗ ΤΩΝ ΔΩΔΕΚΑ ΑΠΟΣΤΟΛΩΝ (die lering van die twaalf apostels). Die volledige titel van die geskrif is egter: Die bevel van die Here aan die heidene deur die twaalf apostels.

Outeurskap
Die outeur noem nie sy naam iewers in die geskrif nie. Dit is egter nie moontlik dat dit werklik uit die pen van die twaalf apostels kon kom nie, en vandaar is die geskrif pseudepigrafies (onder ‘n skuilnaam geskryf).

Doel
Die outeur se doel met die brief was om die nasies/heidene ‘n oorsig te gee oor die leer van Christus soos wat die apostels dit aan die kerk oorgelewer het. Die Didaché is een van die oudste buite Bybelse geskrifte rondom die tyd van die Nuwe Testament wat ons tot ons beskikking het. Die dokument gee ons ‘n oorsig oor die besondere aard van die vroeg-Christelike kerk en die ontwikkeling van dogmas (leerstellinge) in die eerste twee eeue na Christus. Die Didaché kan eintlik gelees word as ‘n ou Kerkorde – ‘n dokument wat reëls stel van hoe sake in die kerk gereël behoort te word.

Ontdekking
Die Didaché is na alle waarskynlikheid iewers tussen 100-150 n.C. geskryf. Die Didaché was vir ‘n tyd lank bekend in die vroeg-Christelike kerk maar het iewers na die tweede eeu in onbruik geraak en mettertyd vergete geraak. Dit was onbekend tot 1883. Dit is toe eers van ‘n Griekse papirusmanuskrip gepubliseer in Jerusalem.

Inhoud

Die geskrif word verdeel in 16 hoofstukke en twee hoofdele. Die eerste hoofdeel (hoofstukke 1-10) gee verskillende liturgiese instruksies en die tweede deel (hoofstukke 11-15) bestaan uit dissiplinêre uitsprake en bevele. Dit blyk uit die eerste deel van die geskrif dat die dokument as kategesemateriaal gebruik was in die vroeg-Christelike kerk. Hierin word die kategumene (die persone wat kategese ontvang) gewys op die twee weë – een van die lewe en een van die dood en dat daar ‘n groot verskil is tussen die twee weë. Die een bestaan uit liefde vir God en die naaste en die ander bestaan uit al die wêreldse begeertes en valsheid.

Die geskrif bevat ook verder ‘n aantal gebede (veral hoofstukke 91-10). Belangrike inligting oor die wyse waarop die vroeg-Christelike kerk die nagmaal beskou en gevier het, kom ook in die geskrif voor.

Van die belangrikste teologiese temas wat ons in die Daidaché vind, is: belydenis, kerklike hiërargie, barmhartigheid, eskatologie en ekklesiologie.

Griekse teks
Die Griekse teks van die Didaché kan hier gevind word.