Die Covid inenting en 666


Foto geneem van: goodquestionblog.com

In reaksie op my vorige artikels, is een van die argumente wat ek dikwels teëkom, soortgelyk aan die volgende: “Wat van die waarskuwing in Openbaring 13? Daar staan in vers 16 – 17: “…en hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hul regterhand en op hulle voorhoofde gegee word: sodat niemand kan koop of verkoop nie,…” Is hierdie inenting nie die merk van die dier nie, want mense word reeds verbied om te koop (restaurante, museums, ens)? … Satan gaan mense verlei en hulle gaan die merk gegee word sonder dat hulle weet omdat hulle soos skape agter die massas aanloop.

Inleiding

In die eerste plek verstaan ek dat mense baie skepties is oor enige iets wat die regering aanbeveel. Hulle rekord van hantering van sake op plaaslike- en regeringsvlak is om van skaam te word, om dit ligtelik te stel. Die wyse waarop die regering die pandemie gebruik het om inperkings in te stel en steeds vol hou daarmee (vandag al dag 511 van die inperkings), hoe kerke benadeel is deur eredienste te stop, om voor te skryf wat ons mag koop en verkoop en wanneer ons dit mag doen, die hele “oop skoene of toe skoene” belaglikheid in 2020 en soortgelyke dinge, is genoeg om enige vertroue wat mens kon hê in die regeerders van die dag te verloor – ek verstaan dit en deel die frustrasie en ek sal moet erken ek verwerk die inperkings waarskynlik slegter as die gemiddelde persoon! Om egter die regering van die dag te koppel aan die sukses, of nie, van die inentingsveldtog, gee heeltemal te veel krediet aan die keiser wat sonder die privaat sektor baie kaal sou wees.

Die Skrif stel gewoonlik 3 wyses waarop God se oordeel oor die mense kom aan die orde, naamlik deur die swaard (oorlog), pes (siektes) en hongersnood. Om God se hand in die Covid-19 pandemie te ontken of voor te gee dat hierdie ‘n natuurverskynsel is waarop die Bybel niks te sê het nie, is bloot dwaas. God spreek deur die pandemie baie hard met ons. Ek het hierdie argument al dikwels onder andere hier en in die prediking aan die orde gestel. Ons kan dus nie ontken dat daar belangrike lesse te leer is uit die mens se hantering van die pandemie, dat ons God se boodskap deur die pandemie moet soek en versigtig behoort te wees wanneer dit kom by ondernemings en beloftes van die staat nie.

Die vraag is egter: is spesifiek die toediening van die inentings die merk van die dier waaroor Johannes ons in Openbaring 13 waarsku?

Die merk van die dier is nie ‘n fisiese teken nie

Ek het onlangs gesien dat daar boodskappe die rondte doen wat die letters CORONA soos volg verklaar na aanleiding van die letter se plek in die alfabet:

C =   3

O = 15

R = 18

O = 15

N = 14

A =   1

6     66

As ons met die boek Openbaring werk soos hier bo, kan ons letterlik enigiets aan die merk van die dier koppel en die duiwel in byna alles identifiseer.

Ons moet in ag neem wat die aard van die Openbaring van Johannes is. Dit is in die eerste plek ‘n brief wat Johannes geskryf het aan 7 gemeentes onder leiding van die Gees en deur die openbaring van Christus bekend maak aangaande die dinge wat gou moet gebeur.

Die 7 gemeentes aan wie Johannes skryf, was nie fiktiewe gemeentes nie, maar 7 werklike gemeentes met werklike omstandighede van nood. Nietemin word die 7 gemeentes ook verstaan as verteenwoordigers van die universele kerk en daarom is die boodskap van die boek toepaslik vir die kerk deur al die eeue en nie net in die eerste eeu nie. Meeste geleerdes is dit eens dat Openbaring geskryf was tussen die regering van keiser Nero en keiser Domitianus. As mens die naam van keiser Nero in sy Hebreeuse getalwaarde bereken, kom die som op 666 uit (vergelyk die figuur hier bo). Een van die spesifieke uitdagings waarmee hierdie gemeentes gekonfronteer was, was die verskynsel dat die aanbidding van die keiser allerhande voordele ingehou het, onder andere ook ekonomiese voordele. Met verloop van tyd het keisers hulself beskou as gode wat as verteenwoordigers tussen die mens en die panteon kon optree en het hulle hulself regte toegeëin selfs oor lewe en dood. Domitianus was een van daardie keisers wat die keiseraanbidding tot ‘n hoogtepunt gevoer het sodat hy as’t ware beskou kon word as ‘n slegte vrou wat dronk is van die bloed van die heiliges (Openbaring 17:6). Die merk van die keiser was oral: in die argitektuur, op die muntstukke, in die godsdiens. ‘n Mens sou letterlik geen transaksie kon doen sonder om iewers met die merk van die keiser te doen te kry nie.

In die lig hiervan, was dit onmoontlik om te koop en verkoop as iemand nie met die keiser en sy kultus wil assosieer nie. Die merk van die dier was dus nie ‘n letterlike teken of merk nie, maar ‘n simboliese vereenselwiging met die bose en alles wat die heidendom versinnebeeld. Om die slawerny aan die bose te simboliseer, ontvang die volgelinge van die dier ‘n merk op hulle regterhand (die hand waarmee die werk gedoen word) en hulle voorkop (die setel van die denke) om aan te toon dat alles wat hulle doen en dink in diens van die dier staan.

Dwarsdeur die eeue staan die merk van die dier vir Christene as teken van die wanindruk wat onder die volgelinge van die draak bestaan dat hy absolute mag het, terwyl die bose ongetwyfeld sy mag oor sekere koninkryke, nasies en mense uitoefen en hoe dit vir Christene dikwels onmoontlik word om te oorleef midde in die onderdrukking van die bose en sy handlangers.

Is die inenting die merk van die dier?

Daar is wel Christene wat bekommerd is dat hulle onwetend die merk van die dier sal kry as hulle hul laat inent. Wees verseker dat die merk van die dier nie iets is wat mens per ongeluk kan kry of sonder dat iemand dit weet nie. Dit is ‘n merk wat mense se lojaliteit en diens aan die Satan simboliseer en as daar enige so fisiese merk is of was, sal gelowiges duidelik bewus wees wat dit is, wat dit behels en dit vermy, want die kenmerke van die merk is dat hulle Christus vervloek en troue diens aan Satan sweer deur die dier te aanbid (Openbaring 13:15).

Wees dus verseker daarvan dat nie ‘n mikroskyfie onder die vel, ‘n inenting of watter ontwikkeling in die toekoms mag kom, die merk van die dier kan bevat sonder dat Christene presies weet waarmee hulle te doen het en weet dat hulle daardeur Christus sou verloën nie.

Samevatting

Of iemand vir- of teen die neem van die inenting is, een ding is seker en dit is dat die inenting nie die merk van die dier is nie. Die Woord gee ons in Romeine 8:39 die troos dat niks ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.