Wat is “gereformeerd”?

GEREFORMEERDE BEGINSELS

Wat word met ‘gereformeerd’ bedoel?

Reformasie van die 16de eeu
Die groot kerklik-godsdienstige herlewing in Europa, is deur Luther in Duitsland begin (1517), met sy 95 stellinge teen die slotkerkdeur van Wittenberg. Dit bring ’n keerpunt in die bestaan van die Christelike kerk, waardeur ’n kerkbeskouing wat nie langer in die dwaalleer van die Rooms-Katolieke Kerk wou opgaan nie, gevestig is.

Ons bedoel met Gereformeerd die volgende:
“Hervorm volgens die beginsels van die kerkhervorming van die 16de eeu; Protestants, volgens die Calvinistiese beginsels.”

Die Reformasie (hervorming) staan op 5 beginsels.

‘n Gerformeerde kerk handhaaf hierdie beginsels:

Die Skrif alleen

Dit is die belydenis dat die Woord van God onfeilbaar is, omdat die Heilige Gees die “outeur” van die Bybel is. Dit bevat die volkome leer van die saligheid. Die belydenisskrifte stem met die Bybel ooreen en onderskryf die Bybel.  Ons is ‘n Gereformeerde kerk omdat ons die standpunt handhaaf van: Sola Sacra Scriptura – die Skrif alleen is die norm vir leer en lewe!

Geloof alleen

Dit is dat die gelowige nie op grond van enige werke voor God geregverdig kan word nie, want ons is van nature geneig om God en ons naaste te haat. God skenk die uitverkorenes egter die genade om Hom te kan liefhê, en in Hom te glo en die ewige lewe te kan erf. ‘n Gelowige weet dat hy/sy uitverkies is, want niemand kan na Christus gaan as die vader hom nie trek nie (Joh 6: 44).

Christus alleen

Alle mense is skuldig voor God en kan nie self betaal vir hulle sonde nie. Daarom het ons ‘n Saligmaker nodig. Hy moes waarlik God en waarlik mens wees, sodat Hy die sonde volkome kon dra. Christus is ons Middelaar, wat versoening bring tussen ons en God. Dit is alleen deur Christus, en nie deur die mens se werke of enige ander voorwaarde nie, dat die gelowige gered word.

Genade alleen

Dit is dat die mens gered word alleen deur die absolute genade van God. Die mens kan uit sy eie God nie liefhê nie. Daarom is die wedergeboorte vanuit die Heilige Gees noodsaaklik om die hart van die mens nuut te maak. Al is die gelowige uit genade alleen gered, eis die Woord dankbaarheid. Ons dankbaarheid word sigbaar in die nakoming van die opdragte van God. Ons dade van dankbaarheid word deur die Woord goeie werke genoem (HK vr 91).

Tot eer van God van God alleen

Die kerkhervormer Johannes Calvyn was baie gesteld daarop dat die hoogtepunt van die mens se totale bestaan moet neerkom op die eer van God alleen. Reformatories-wees beteken dus om die eer van God in alles te soek. Op die sterfbed van Calvyn het hy met sy linkerhand op die Bybel geleun en gesterf. Dit is ‘n voorbeeld vir elkeen van ons.