Die Teologie van die Koninkryk van God by Paulus (oorsigtelik)

Die Teologie van die Koninkryk van God by Paulus

Prof. Gerrit Smit

Vir Paulus is Jesus Christus Here. Hy is preëksistent, maar Hy word nederige dienskneg en daardeur verheerlik tot Here. Jesus is Here, wat heers en op gelyke vlak met God is. As Eersgeborene uit die dode waarborg Hy die toekomstige opstanding uit die dode vir die gelowiges. Christus is ook Hoof van die gemeentes as samebindende en aktiverende mag, maar Hy is ook Hoof wat heerskappy voer oor sy liggaam deur dit te beheer en te versorg. Deur Christus se verlossingswerk het Hy heerskappy verkry oor die wêreld en die bose magte. Dit beteken dat die gelowiges ontruk is aan die mag van die duisternis en gestel word onder die heerskappy van Christus. En waar Christus heers, daar is sy koninkryk. As Hoof regeer Hy en hou Hy alles in stand deur sy Voorsienigheid. Die koninkryk is vir Paulus ‘n teenswoordige werklikheid. Die kerk is die liggaam van Christus hier op aarde. Paulus se arbeidsveld staan ook in nouste verband met die koninkryk. Sy prediking is God se roepstem om in die koninkryk in te gaan. So word sy koninkryk gevorm en opgebou.

Die koninkryk van God is egter ook ‘n eskatologiese begrip. Hy gebruik die term “hemelse koninkryk” wat hy as einddoel vir homself stel. Die term “in Christus” of “in die Here” beteken om onder die heerskappy van Christus of God te wees. Net soos om deur die Gees beheers of oorheers te wees, so is die gelowige onder die mag en gesag van Christus en van God. Die “koninkryk” as term word deur Paulus veral verbind aan die teenswoordige, die koninkryk op aarde. Hier is Christus deur sy Gees saam met die Vader die Heerser oor sy koninkryk. Dit beteken verlossing, krag, liefde en vrede vir die onderdane.