Recovering the Reformed confession – R. Scott Clark

Oorsig deur prof. Gerrit Smit

Waaroor handel die boek?

R. Scott Clark van die Westminster Seminary California is nie oral ewe gewild nie as gevolg van sy standpunt oor die twee-ryke leer. Maar as jy hierdie boek begin lees, kan jy nie ophou nie. In hierdie werk vra Clark: wat het geword van die gereformeerde teologie, en sy getrouheid aan die Skrif in die praktyk? In twee frases stel hy twee uiteenlopende en gewilde benaderings tot kerkwees in die hedendaagse gereformeerde kerke aan die kaak. Die een loop die pad van ‘n onegte godsdienstige sekerheid en die ander loop die pad van ‘n onegte godsdienstige belewenis. Vervolgens let Clark op die vreugde van konfessioneel wees en wys die leser op die weg van die 16de -18de eeuse reformasie en sy siening waarheen die reformasie in die 21ste eeu moet stuur.

Clark behandel die uitverkiesingsleer binne gereformeerde konteks en meen dat “uitverkiesing-alleen” nie die toets vir “gereformeerd-wees” moes wees nie, hoewel baie kerke en teoloë tot vandag hierdie maatstaf aanlê om iemand se “gereformeerdheid” te toets.

Hy sluit die werk af deur te vra: wat het geword van die tweede diens op ‘n Sondag? Hierdie afdeling is ‘n baie insiggewende gedeelte om prinsipieel oor die plek van die aanddiens in die gereformeerde kerke te dink.

Clark lewer in die boek felle kritiek op die hermeneutiek van John Frame, wat ek dink nie regverdig is nie. Verder sal leraars in die huidige gereformeerde tradisie in sekere opsigte nie baie gemaklik wees met Clark se baie eng beskouing van die erediens en liturgie nie, maar nogtans beslis die moeite werd om oor na te dink wanneer jy die vraag moet antwoord: waarom doen ons kerk wat ons doen, en bely ons wat ons bely?

‘n Boek wat jou beslis aan die dink gaan sit deur die vraag: hoe gereformeerd is ek? Dit is ‘n werk wat leraars binne die reformatoriese tradisie baie waardevol sal vind.