Klemens van Rome (?-101 n.C.)

Klemens van Rome (sterf 101 n.C.)

deur: prof. Gerrit Smit

Kopiereg voorbehou

Klemens van Rome se lewe

Die inligting tot ons beskikking oor die lewe van Klemens van Rome is afkomstig van die latere kerkhistorikus, Irenaeus (Adv. Haer. 3,3,3). Ons is nie seker oor die geboortedatum van Klemens nie, maar hy het gesterf in die jaar 101 n.C. Sommige werke gee die tydperk wat hy as leraar gedien het in die gemeente van Rome as 88-99 n.C. Hierdie verskil kom in by die feit dat almal nie rekening hou daarmee dat daar ‘n fout in die berekening van die jaartal gekom het, en dat die huidige jaartal volgens die Gregoriaanse kalender eintlik 4-6 jaar uit is nie. Indien die berekening reggestel word, blyk dit dat Klemens in 101 n.C. gesterf het.

Ons weet baie min van die lewe van Klemens van Rome. Ons weet dat hy persoonlik bekend was met Petrus en Paulus, en die latere kerkvaders is dit eens dat die verwysing na Klemens in Filippense 4:3, as Paulus se medewerker, na Klemens van Rome verwys.

Sommige meen op grond van Dio Cassius se getuienis dat Klemens die konsul Titus Flavius Klemens was, wat as martelaar gesterf het in 95/96 n.C. Daar is egter geen historiese getuienis wat hierdie aanname staaf nie. Die verwysing na die martelaar Klemens, is waarskynlik na ‘n vierde eeuse martelaar met die naam Klemens.

Sy werke

Klemens is bekend vir spesifiek twee werke wat hy geskryf het, naamlik ‘n eerste brief aan die gemeente in Korinte en ‘n latere homilie, wat meestal bekend staan as die tweede Korintiër-brief van Klemens.

Teks van Klemens van Rome se werke

Klemens van Rome se werke was oorspronklik in Grieks geskryf. Die Griekse teks word vandag gevind in Lightfoot se werk, The Apostolic Fathers of in Paul Migne se werk, Patrologiae Cursus Completus: Patrologiae Graeca, volume 1.

Migne se uitgawe van Patrologiae Graeca met Klemens van Rome se Griekse teks, kan tans gevind word by die volgende skakels:

Migne, Patrologiae Graeca volume 1

Migne, Patrologiae Graeca, volume 1b

Migne, Patrologiae Graeca, volume 2a

Die dele kan gratis as e-boeke afgelaai word, maar die teks kan nie gekopieer word nie.

Kopieerbare Griekse teks

Kies die skakel vir ‘n Griekse teks wat kopieerbaar is vir gebruik in vertalings en aanhalings (teks voorberei deur prof. GDS Smit)

Klemens van Rome se eerste brief aan die Korinthiërs – Clem. Rom. Ep. ad Cor. 1

Klemens van Rome se homilie/tweede brief aan die Korinthiërs (Clem. Rom. Ep. ad Cor. II)