Dis die Gees se werk

Alles hang van die Gees af

prof. Gerrit Smit

Lees: Hand. 16:9-24

Sou God die wil van dié wat verlore gaan kon verander om die soenverdienste van Christus deelagtig te word? Natuurlik sal Hy dit kan doen. Hy is almagtig en niemand kan aan God voorskryf wat Hy moet doen en wat Hy kan doen nie. Nou hoekom verander God dan nie die wil van alle mense sodat hulle almal in die ewige lewe kan deel nie?

Calvyn: Christus getuig dat die rede waarom Hy vir die apostels alleen die gelykenisse uitgelê het waarin Hy met die skare gepraat het, was omdat dit vir hulle gegun was om die verborgenhede van God te ken maar nie vir die skare nie.

God wil die uitverkorenes verlos

Lees: Hand. 16:14-15

Waarom laat God nie toe dat alle mense tot bekering om nie? Die antwoord is tweërlei: eerstens lê dit opgesluit in die sondeval. Omdat die mens die dood verdien, word sommige mense die voorwerp van God se genade. Die res gaan verlore. Die tweede rede is omdat God nie wil nie. Hier in Handelinge 16 het ons ‘n voorbeeld van so ‘n geval. Lidia, die purperverkoopster, word ‘n godsdienstige vrou genoem in vers 14. Sy was egter nog nie ingesluit in die verbond met Christus nie, omdat sy nog nie tot bekering gekom het tot die Evangelie van Christus nie. God open haar hart om ag te gee op die prediking van Paulus. Aan die ander kant lees ons van die vrou met die waarsêende gees wat Paulus-hulle lastig val met haar geskree: “Hierdie manne is dienaars van God…” (vers 17). Toe Paulus uiteindelik die bose gees beveel om uit die vrou te gaan, lees ons nie dat die vrou tot bekering gekom het nie. Ons kan aflei dat sy nie het nie. Sy was dus begenadig deur die Here toe die gees uit haar gedryf is, maar sy het nie soos Lidia die ewige lewe deelagtig geword nie. Alles hang van die Gees af.

Om oor te bid: Dank die Here dat ons as sy kinders die vreugde mag smaak om die ewige lewe deelagtig te word. Bid dat ons nie hoogmoedig raak hieroor nie, want God werk in wie Hy wil, sonder die mens se hulp.