Die liggaam is nie vullis nie

Die liggaam is nie vullis nie

prof. Gerrit Smit

Lees: 1 Kor. 6:12-20

Die weeropstanding sal in dieselfde liggaam plaasvind wat ons nou het. Dit sal egter ‘n verheerlikte liggaam wees. Hierdie feit maak die liggaam nie onbelangrik asof dit sal vergaan terwyl die siel ewig lewe nie. Onder die Griekse filosowe was daar geleer dat, omdat die liggaam vergaan, die mens maar met die liggaam kan doen wat hy/sy wou. Die heidene het gedink onsedelikheid tas die liggaam aan en nie die siel nie, daarom maak dit nie saak hoe mens leef nie (vgl. 1 Thes. 5:23).

Calvyn: Ek toon slegs aan dat alles wat nou in ons die hemel onwaardig is, geen hindernis vir die weeropstanding is nie (Inst. III.25.7, 11-12).

Die liggaam kan oorbeklemtoon word

Lees: 1 Kor. 6:19

Die gesondheid van die liggaam word ‘n bron van finansiële rykdom vir menige. Daar is die spa’s en saunas en gimnasiums en allerlei oefeninge om die liggaam sy jeugdigheid en soepelheid te laat behou. Liggaamsbates word verseker vir uitspattige somme geld. Vir die moderne mens, selfs vir menige hoër- en laerskoolkind het die liggaam geen geheime meer nie.  Die uiteinde van dit alles is dat die mens beoordeel word volgens sy liggaam.  Dis óf te vet óf te maer. Mense dink jy is hoe jy lyk.

Die liggaam is nie weggooigoed nie

Aan die ander kant moet die liggaam nie afgemaak word asof dit nie vir God belangrik is nie. Christus het in die vlees na die aarde gekom en Hy het vir ons na die vlees gely en gesterf. Dit maak ons – met ons liggame! – so waardevol.  Ons mag ons liggame nie oneerbiediglik laat gebruik vir allerlei doeleindes wat Christus bespotlik maak nie.  Die Heilige Gees sal nie tuis kan wees in onheilige harte nie. Ons liggame is God se blyplek.  Daarom sal God dit vlekkeloos bewaar word tot die wederkoms. Die liggaam sal op die laaste dag opstaan in die nuwe lewe.

Om oor te bid: Vra die Here om u te lei om na liggaam en siel vir Hom ‘n tempel te wees.

Ons vernederde liggaam sal verheerlik word

Lees: Rom. 8:1-17; 1 Kor. 6:20

Dat die liggaam wat ‘n tempel van God genoem word die prooi van vertering sal wees, sonder die hoop van die opstanding, sou daarop neerkom dat die liggaam nie die ledemate van Christus kan wees nie. Dit sou ongerymd wees.

Calvyn: Christus het opgestaan: was dit deur vir Hom ‘n nuwe liggaam te maak? Nee, soos Hy vooraf gesê het: “Breek hierdie tempel af en Ek sal dit in drie dae weer opbou”. Hy het die sterflike liggaam wat Hy tevore gedra het, weer ontvang (Inst. III.25.8, 75-78).

Dieselfde liggaam

Lees: Rom. 8:11; 1 Kor. 6:20

Ons leer uit die Skrif dat die liggaam van die mens met kuisheid en heiligheid verbind word. Die prys van die verlossing is uiteraard ook die opstanding van die liggaam. As Paulus in 2 Kor. 6:4-7 verwys na al die leed wat hom liggaamlik aangedoen is, sou dit nie rym dat sy liggaam al die littekens dra van gehoorsaamheid aan Christus en waarin hy Christus verheerlik het, terwyl die beloning op die gehoorsaamheid, naamlik die kroon van die lewe, die liggaam ontneem word nie.

Tog anders

Lees: Filip. 3:21; Rom. 8:10-13

Die gewoonte om te begrawe het nie sy oorsprong in bygeloof nie. Waarop was begrafnisgebruike anders gerig, as dat die gelowige voorgangers  daarvan bewus was dat ‘n nuwe lewe op die liggame wat hulle begrawe het, gewag het? Deur die aanskouing van die graf, wat alles bederf en vernietig, word ons oë opgehef van die verganklike aarde na die hemel, waar die hernuwing aanskou kan word. Christus verwys na die vrou wat sy voete gesalf het. Sy het ‘n besondere plig gedoen, want sy het dit gedoen met die oog op sy begrafnis (Mt. 26:10 vv). Die liggaam sal anders wees, maar nie onherkenbaar nie. Dit sal ook nie ‘n nuwe liggaam wees nie, slegs ‘n verheerlikte liggaam (Filip. 3:21).

Om oor na te dink: Wat dink u: maak dit saak of iemand veras word of begrawe word?