Ignatius van Antiochië

Kopiereg voorbehou

Ignatius van Antiochië

deur: prof. Gerrit Smit

Ons het nie baie inligting oor die lewe van die kerkvader Ignatius nie. Ignatius was die tweede opsiener (leraar) van die gemeente in Antiochië. Hy is onder die regering van Trajanus (98-117 n.C.) ter dood veroordeel om as martelaar te sterf in die Romeinse sirkus. Hy is deur wilde diere in die arena in Rome verskeur.

Ons het vandag 7 van Ignatius se briewe wat behoue gebly het. Ignatius was oppad van Sirië na Rome onder Romeinse bewaking toe hy briewe aan die gemeentes in Efese, Magnesië, Tralles, Filadelfië en Smirna geskryf het. Hierdie gemeentes het langs die pad afgevaardigdes gestuur om hom te ontmoet en aan hulle het hy die briewe oorgegee. Nog ‘n brief was persoonlik gerig aan Polukarpus, die opsiener van die gemeente in Smirna. Die sewende brief was gerig aan die Romeine.

Die werke van Ignatius

Die briewe van Ignatius was gerig aan die gemeentes wie se afgevaardigdes hom langs die pad ontmoet het terwyl hy as gevangene oppad was na Rome om ‘n marteldood te sterf. Die briewe se inhoud roep die gemeentes op om getrou te bly aan hulle roeping om Christus as Verlosser te aanbid en dank die gemeentes vir hulle belangstelling in, en voorbidding vir Ignatius. ‘n Groot deel van die briewe handel oor sy verwagte martelaarskap en sy vertroue op die goedheid van God.

Een van die belangrikste temas in die briewe van Ignatius is dié van die Goddelike ekonomie: dat God die mensdom en die wêreld verlos van die mag van die prins van hierdie wêreld. Hierin beskryf Ignatius telkemale hoe God die mensdom deur die Juaïsme voorberei het op die koms van Christus en hoe Hy (d.i. Christus) die vervulling van die beloftes van die Ou Testament is.

Ignatius is die kerkvader wat die bekende tema, naamlik “die navolging van Christus”, wat vandag algemeen in kerklike kringe gebruik word, aan die kerk voorgestel het.

Griekse teks van Ignatius se briewe

Die Griekse teks van Ignatius se briewe kan hier gevind word:

Migne, Patrologiae Graeca, volume 5