Mag ons God se seën oor enigiemand spreek enige tyd of is dit net vir Sy uitverkore kinders?

Die priesterlike seën van Numeri 6:225-26 was bedoel vir die volk Israel en nie die mense wat nie deel gehad het aan die verbond met God nie. Ons onderskei tussen die “algemene genade” van God en die “besondere genade” van God.

Onder die algemene genade merk ons dat God goeie dinge skenk selfs aan slegte mense, soos reën en materiële welvaart. God se besondere genade van die werking van sy Gees en die verlossing in Christus behoort egter slegs aan die gelowiges. Telkemale vind ons seënbedes in die Bybel (dink bv. Aan Paulus se gebede vir gemeentes aan wie hy briewe skryf) maar nooit word die seën uitgebrei na ongelowiges nie.

Inteendeel spreek God sy oordeel uit oor die nasies en die volke wat hulle harte verhard en nie tot bekering kom nie. Ons roeping is om die evangelie van Christus aan alle mense te verkondig in die verwagting dat die Gees die sal wederbaar wat aan die koninkryk van God moet behoort. Ons behoort egter nie die seën van God “goedkoop” te maak deur dit oor heidene uit te spreek nie.