Het reuse regtig bestaan?

Ek wil graag weet of reuse regtig in die Bybelse tyd bestaan het. En enige verse in verband met reuse?

Reuse word op ‘n paar plekke in die Bybel genoem, bv. Gen. 6:4; Jos. 12:4; Deut. 3:11; Deut. 9:1-2; Num. 13:30-33; 2 Sam. 21:9 om ‘n paar plekke te noem.

Reuse in die Bybel was nie, soos ons uit die kindersprokies onthou, so groot soos huise en bome nie. Hulle was gewone mense maar wat ‘n genetiese afwyking getoon het, wat hulle abnormaal laat groei het sodat hulle baie groter as die gewone mense was. In sekere gevalle weet ons ook van volke by wie die liggaamsbou baie groter was as die ander volke van die tyd. Daar is bv. in Egiptiese grafte sketse ontdek van mense wat uitermate groot gebou was. Argeoloë aanvaar dat dit wel ‘n ware weergawe is van reusagtige mense (reuse) met wie die Egiptenare soms in konflik gekom het.

In die geval van Goliat was hy ongeveer 3 meter lank! Hy was dus baie groot in vergelyking met die gewone mense van die tyd. Daarom word na hom as ‘n REUS verwys. In die opgrawings wat gedoen is in die Bybelse lande is daar heelwat argeologiese bewyse dat daar wel abnormaal groot mense in die tyd van die Bybel geleef het. Soortgelyk is daar strukture wat vandag nog staan wat nie anders kon ontstaan as dat abnormaal groot mense die strukture opgerig het nie (Stonehenge is ‘n voorbeeld van so ‘n struktuur).

Daar is dus Bybelse en argeologiese bewyse dat reuse (of abnormaal groot mense) wel in die geskiedenis voorgekom het.