Palestine in the time of Jesus – Hanson & Oakman

Oorsig deur prof. Gerrit Smit

Waaroor handel die boek?

Die geskiedenis, literatuur en teologie van die Nuwe Testament is die afgelope jare dikwels as tema vir publikasies geneem. Verskeie teoloë het selfs al gepoog om ‘n “model” vir die sosio-historiese interpretasie van die Nuwe Testament voor te stel. In hierdie werk fokus Hanson & Oakman op die laaste sowat 30 jaar se navorsing op die gebied van die sosio-historiese konteks van die Nuwe Testament en waarsku tegelykertyd teen ‘n veralgemening oor die sosio-wetenskaplike wêreld van die eerste Christene. Verskeie eksegetiese modelle vanaf die 17de eeu word in hierdie publikasie ondersoek in die lig van die winspunte en tekortkominge vir die verstaan van die Nuwe Testament. Vervolgens word bekende insigte oor die familiêre (kinship) stelsel van die Grieks-Romeinse beskawing in verband gebring met die leefwêreld van die Nuwe-Testamentiese gelowiges. Heelwat nuwe insigte oor die wyse waarop die kerk as familie of “groep” gefunksioneer het in die Nuwe Testament word deur Hanson & Oakman ondersoek. Die patriliniale-, matriliniale- en gedeelde-herkoms konsepte word netjies uiteengesit.

Hanson & Oakman fokus op etlike Nuwe-Testamentiese gedeeltes wat lig werp op die verstaan van die sosio-ekonomiese wêreld van die Nuwe Testament. Hoe leierskapstrukture en ekonomiese verdeling van rykdom deur die Grieks-Romeinse elite beskou is, asook die voorkoms van endogamie en eksogamie as statussimbool en handhawing van eer word behandel. Die redes waarom die gepeupel in verskeie opsigte die Romeinse owerheid wou onttroon, word ook ondersoek.

Vir wie is dit bedoel?

Hierdie is ‘n goeie inleiding op die sosio-kulturele wêreld van die Nuwe Testament vir enige ernstige Bybelstudent. Dit behoort een van die standaardwerke op elke teologiese student en predikant se rak te wees. Dit kan nie anders as dat studente in Grieks of die Nuwe Testament kennis neem van die inhoud van hierdie boek nie. Dit is beslis ‘n werk waarna jy dikwels gaan terugkom in die voorbereiding vir Sondag se preek.

Die boek is geskryf vanuit die histories-kritiese vertrekpunt, so konserwatiewe teoloë sal heelwat punte van kritiek kan uitwys, veral ten opsigte van die beskouing oor die historiese Jesus. Nietemin, is daar genoeg in hierdie boek om dit werklik baie leersaam te maak. As jy gewonder het hoe die Nuwe Testament sosio-histories inmekaarsteek, is hierdie die boek vir jou.