Die Teologie van die Koninkryk van God in Matteus, Markus en Lukas

Die Teologie van die Koninkryk van God in die Sinoptiese Evangelies (Matteus, Markus en Lukas)

Prof. Gerrit Smit

Baie publikasies verskyn deesdae oor die “wederkoms” van Christus, en dit wil lyk dat as iemand baie geld uit ‘n boek wil maak, hy oor die wederkoms skryf. Daar is egter baie publikasies wat mense meer deurmekaar maak, en ver van die waarheid staan. Hierdie artikel probeer om ernstig, maar nugter oor die koms van die Koninkryk te dink, soos wat die Nuwe-Testamentiese skrywers ons leer…

Die Sinoptiese Evangelies bring die gedagte van die “koms” van die koninkryk. Hierdie koms ontplooi hom in drie fases:

i. die koninkryk het gekom (want waar Jesus is, daar is die koninkryk),

ii. die koninkryk sal kom (as ‘n voltooiing en afsluiting met verlossing en oordeel as hoofkomponente in die openbaring van die heerlikheid van Christus),

iii. maar ‘n tussenperiode skei en verbind hulle as ‘n derde fase (die koninkryk is teenwoordig en toekomstig omdat Jesus met sy verlossing deur sy dood en sy opstanding en hemelvaart en deur sy Gees die tussentyd vul).

Die koms van die koninkryk kan nie losgemaak word van die koms van die Seun van die Mens nie. Saam met Jesus kom ook die koninkryk. Van die Menseseun word gesê dat Hy gekom het en ook dat Hy sal kom, maar dat Hy as Menseseun Homself openbaar tussen die eerste en die tweede koms.

Dus die koninkryk het gekom onder andere deur die openbaring van Christus se mag oor die bose, deur sy ander dade van genesing, verlossing, en uitsprake dat Hy die vewagte Messias is. Ook die werke van sy uitgestuurde dissipels moet verkondig dat die koninkryk gekom het. Die koninkryk sal kom en dit bring finale verlossing vir die Godsvolk en finale oordele oor die Bose en sy volgelinge.

Die koninkryk tussen koms en koms is ‘n teenwoordige werklikheid. Dit leer ons onder andere uit die koninkryksgelykenisse. Dis ‘n dinamiese werklikheid van God wat regeer, ook in en oor die geskiedenis. Dit raak dus die daaglikse lewe. Die gelykenisse wys elkeen heen na die koms van die koninkryk en nie die koninkryk self nie, en na die krag wat daar agter sit. Die Menseseun is in heerlikheid by die Vader en Hy regeer en hierdie heerskappy het ewigheidskonsekwensies, want nou is die tyd van beslissing.

Ook in hierdie tyd, hierdie stuk geskiedenis, werk die Heilige Gees, is Christus by, rig die Vader die weë. By Jesus is daar geen nabye verwagting van die koms nie, want veel moet nog gebeur. Maar terselfdertyd is by Jesus ook geen ver verwagting van die koms nie, want die dringende waaksaamheidsbevel is onmiddellik van krag.Die hede het reeds van nou af sy beslissende invloed op die toekoms.

Belangrik is ook die rol van die mens in die koms van die koninkryk. Die mens is nie toeskouer nie maar medespeler, opgeneem in die diens van die koninkryk en in die voltrekking van sy groot heilswerk, die koms van die koninkryk.