Die regte pad of die maklike pad? ‘n Voorbeeld uit die boek Daniël

Prof. Gerrit Smit

Dit is 399 v.C. Die plek: Athene, Griekeland.

Die filosoof Sokrates word deur die jong manne van die stad beskuldig dat hy die gode minag en dat hy die jong manne aanmoedig om in opstand te kom teen die regering van die stad.

Toe hy voor die regter gebring word, het die jong manne allerhande leuens oor Sokrates opgemaak en uiteindelik het die regter hom die doodstraf gegee. Hy moes ‘n mengsel van gif drink. Sy volgelinge onder wie die later baie bekende filosoof Plato, het hom gesmeek om die nag voor sy teregstelling uit die stad Athene te vlug, maar sy antwoord was dat hy dit nie kan doen nie, want hy het sy lewe lank sy volgelinge geleer om gehoorsaam te wees aan die gesag van die owerheid en dat dit in stryd met sy beginsels sou wees om nou te vlug. Die volgende dag het hy voor 500 mense in Athene die gif gedrink as vonnis en so het hy aan sy einde gekom.

Deur eeue heen moet mense keuses uitoefen vir die maklike pad of die regte pad.

Sokrates was ‘n heidense filosoof wat nie enige kennis van die ware God gehad het nie en tog was sy beginsels vir hom so belangrik dat hy bereid was om sy lewe te gee as om terug te gaan op dit wat sy volgelinge deur sy lewe geleer het. Maar Sokrates se beginsel in hierdie geval het gedraai om sy eie eer en die voorbeeld wat hy vir ander gestel het. Hoe sou ek en jy die saak hanteer het?

Ons vind in Daniël 3:1-30 ‘n soortgelyke voorval.  Maar hierdie keer is dit Joodse manne, vriende van Daniël, wat uit die stad Jerusalem deur die Babiloniese ryk in 586 v.C. geneem is om as ballinge in Babilon te woon. Die keuse is egter baie moeilik – kies die maklike pad en leef of kies die weg wat teen die koning se besluit gaan, en dra die gevolge.

Die gevolg van die keuse in hierdie geval is baie duidelik – ‘n vuuroond. En tog word die afskrikmiddel van die heidene nie ‘n rede om teen hulle beginsels te gaan nie. God het hulle geleer dat daar maar net een God is en dat jy nie voor ander gode mag buig nie. Eintlik is die keuse eenvoudig, buig en leef of staan by die beginsel en sterf. Maar die getuienis van die drie vriende van Daniel word ‘n geleentheid om nie net hulle geloof in God te bely nie, maar ook oor God se voorsienigheid ‘n belydenis af te lê (verse 17-18). As God hulle wil red, sal Hy, maar selfs al doen Hy dit nie, kán hulle nie die koning se bevel gehoorsaam nie!

God sou kon besluit om nie die jong manne te red nie, soos Hy al dikwels in die geskiedenis gedoen het wanneer belydende gelowiges hulle lewe moes gee vir die koninkryk van God. En Daniël se 3 vriende is terdeë bewus van hierdie werklikheid – dat God mag het om te red, maar dat Hy nie verplig is om te red nie.

Hierdie belangrike beginsel moet ook in die tyd waarin ons leef vir my en jou troos gee. God se voorsienigheid beteken eenvoudig dat Hy in alles aan ons voorsien en vir ons sorg. Maar dikwels sluit God se voorsienigheid nie liggaamlike genesing of verlossing in nie. Dikwels sluit sy voorsienigheid swaarkry in! As Hy beloof dat Hy met ons is, sluit dit nie uit dat daar dikwels in ons lewe beproewing sal wees en dat ons dikwels keuses sal moet maak tussen die regte pad en die maklike pad nie. Baie maal is God se verlossingsplan nié ‘n verlossing van die tydelike nood nie, maar eerder die verlossing van die siel van die mens. Deur siekte, beproewing en lyding, kan ons ‘n getuienis lewer teenoor die heidense wêreld oor God se versorging al sou Hy nie ‘n wonderwerk stuur om ons van die tydelike lyding te verlos nie. In die geval van Daniël se vriende was dit daardie dag nodig dat God deur ‘n wonderwerk aan die heidene sy grootheid en mag bewys. Daarom het Hy ‘n engel gestuur om hulle te verlos en uiteindelik lei dit tot ‘n belydenis deur die owerhede dat daar geen God groter is as die God van Sadrag, Mesag en Abednego nie.

Soms kom ons by ‘n kruispad in ons lewe waar ons soos so baie voor ons die keuse moet maak vir die regte pad of die maklike pad. In een van sy boeke vertel die Rektor van die Wheaton Universiteit in die VSA, wat self ‘n professor in Teologie is, van ‘n lidmaat van sy gemeente wat ‘n klein besigheid gehad het. Die besigheid het nie baie kliënte gehad nie en een van die enigste groot kliënte wat die besigheid gehad het, het eendag net voor die belastingjaar afsluit in sy besigheid ingekom en ‘n groot bestelling geplaas. “Maar”, het die kliënt gesê,  “as jy die faktuur nou uitmaak, gaan ek vir hierdie belastingjaar moet belasting betaal op hierdie aankoop. Maak die faktuur uit vir die nuwe belastingjaar. Jy verloor niks en ek wen heelwat”. Die eienaar van die besigheid het toe geantwoord dat hy dit nie kan doen nie – behalwe vir die feit dat dit onwettig is, is dit nie eerlik nie en hy is bereid om eerder die besigheid te verloor as om so oneerlik te wees. Die kliënt was volgens hom eers baie kwaad maar antwoord toe, “dit is seker beter om besigheid te doen met iemand wat jy weet jou nie sal kul nie omdat hy ‘n Christen is as om die paar dollar te wen”.

Vir hierdie besigheid het die besluit om die regte pad te kies en nie die maklike pad nie, goed uitgewerk. Maar dit is maar die uitsondering. Meestal sal dit vir jou moeilike gevolge hê as jy besluit om eerder aan God gehoorsaam te wees as aan mense. Maar dit is die regte pad – selfs al is jou lewe in gevaar. Dit is die beginsel wat die Woord in Daniël 3 vir ons leer – vertrou dat God in jou lewe in beheer is en vir jou alles voorsien – plaas jou vertroue op Hom en Hy sal vir jou sorg as jy ter wille van die regte pad die maklike pad bedank. En selfs al sou dit vir jou gevolge inhou soos vir Daniël se vriende, beloof God om jou die kroon van die lewe te gee.

Soos baie mense in die geskiedenis word ek en jy dikwels ook verkeerdelik, en selfs onskuldig gebrandmerk vir iets wat ons nie gedoen of gesê het nie. Die maklike pad is om in opstand te kom en te vergeld. God gee in sy Woord egter die voorbeeld van die regte pad.

Wat van Sokrates geword het, al was hy ‘n baie slim filosoof en is sy naam in ons geskiedenisboeke opgeteken, kan ons aflei dat al het hy besluit om eerder by sy beginsels te bly en daarvoor te sterf, hy nie God geken het nie. Sy beginsels het dus oor sy eie eer gegaan. Vir Daniël se vriende was hulle eer nie so belangrik as gehoorsaamheid aan die enigste ware God nie. En hulle keuse het gehoorsaamheid aan God bewys. Ek en jy het dieselfde God wat ook vir ons sorg. Al sou hy in tye van nood nie ‘n wonderwerk stuur om jou te verlos nie, vertrou dat Hy steeds vir jou sorg. Omdat ons die ware God dien en ons eer nie belangriker is as gehoorsaamheid aan God nie, kan jy altyd die regte pad in jou lewe kies en nie die maklike pad nie.