Preek oor die uitverkiesing

Ons moet oor die uitverkiesing preek

prof. Gerrit Smit

Lees: Hand. 20:17-38

Verkondig die volle raad

Lees: Hand. 20:27

Paulus vermaan die ouderlinge van die gemeente in Éfese om ag te gee op die hele gemeente waaroor die Heilige Gees hulle as opsieners aangestel het, dat hulle die gemeente moet versorg en die versoening van Christus nooit moet vergeet nie (vers 28). Hy herinner hulle dat hyself nie nagelaat het om die volle raad van God aan hulle te verkondig nie (vers 27).

Calvyn: Die uitverkiesing moet juis ten volle verkondig word sodat hy wat ore het om te hoor, dit kan hoor…Want soos godsvrug verkondig moet word sodat God na behore gedien kan word, so ook die uitverkiesing sodat hy wat ore het om te hoor, oor die genade van God in God kan roem en nie in homself nie (Inst. III.23.13, 77-79).

Met ‘n liefdevolle benadering

Lees: Hand. 20:29-32

Let op hoe liefdevol Paulus se afskeidswoorde aan hierdie ouderlinge is. Soos ‘n vader met sy eie kinders sou praat, bemoedig Paulus die ouderlinge om te waak teen die wrede wolwe wat onder die kudde sal inkom en die kudde nie sal spaar nie (vers 29). Die liefdesmotief bly die grootste dryfveer vir die verkondiging van die Evangelie. Sodat almal kan hoor en in die vreugde van Christus se versoening mag deel. Die apostels het tog die volle raad van God verkondig en al die luisteraars het nie tot bekering gekom nie. Die gelowige moet egter nie neersien op die ongelowige en die helse verderf oor hulle wens nie. Iemand sou seker kon preek: As jy nie glo nie, is dit omdat jy vir die verderf bestem is. Maar so uitlating sou nie alleen gevoelloos wees oor die eie sonde nie, maar traak-my-nie-agtigheid aanwakker as mense afgestoot word eerder as nader getrek word.

Om oor na te dink: Hoeveel liefdeloosheid is daar nie dikwels selfs onder uitverkorenes nie? Dis ‘n sonde wat nie net bely moet word nie, maar wat ons moet laat staan.