God roep jou

God roep die uitverkorenes op sy tyd

prof. Gerrit Smit

Lees: Hand. 9:1-9

Nie al die uitverkorenes word van hul geboorte af geroep nie. Party skape word groot binne die verbond van God en is van die begin af in sy skaapkraal ingesluit. Ander word eers later tot sy kudde geroep.

Calvyn: Voordat hulle by die hoogste Herder versamel word, dwaal hulle verspreid in die algemene woestyn rond en hulle verskil niks van ander nie behalwe dat hulle deur God se besondere barmhartigheid beskerm word sodat hulle nie in die laaste afgrond van die dood instorm nie (Inst. III.24.10, 4-8).

Uitverkies, maar nog nie geroep nie

Lees: Hand. 9:3-4

Saulus was ook voor die grondlegging van die wêreld uitverkies om deel te hê aan God se kudde. Maar wie sou dit kon sê op hierdie tydstip in sy lewe waar hy besig is om die volgelinge van Jesus met ywer te vervolg en tereg te stel? Wie sou kon raai dat hierdie toeskouer van die marteling van Stefanus eendag saam met die uitverkorenes in die hiernamaals tot eer van die Lam sou sing? Dis die wonder van God se uitverkiesing – dat Hy genadig is ver bo wat mense glo moontlik is.

Dis hard om teen die prikkels te skop

Lees: Hand. 9:5

Dat die uitverkorenes voordat hulle deur die Gees tot inkeer geroep word nie tot die uiterste en hopelose goddeloosheid gevoer word nie is beslis nie enige ingebore goedheid van die mens nie. Dis omdat God hulle saligheid in die vooruitsig stel en daarom oor hulle wag hou. En as hulle die dag geroep word, word hulle soos Paulus van die afgrond van die verderf teruggeruk. Dit gebeur egter op God se tyd. In die tussentyd kan ons ernstig voorbidding doen vir die see van ongelowiges wat dalk nog die genade van God mag ontvang.

Om oor na te dink:
Wie ken u wat teen die prikkels skop? Net God sou kon sê of hy/sy uitverkies is. Genadetyd is nog nie verby nie. Is dit nie tyd dat u ‘n afspraak maak en gaan praat nie?