‘n Oorsig oor die belang van kennis van die gebruike van die Bybel

Prof. Gerrit  Smit

(Hierdie is ‘n verwerking van verskeie bronne se oorsig oor die gebruike van die Bybel. Sien lys van aanbevole werke onderaan)

Die gebruike en gewoontes van die Bybel is vir ons soms baie vreemd. Ons verstaan partykeer baie moeilik wat sekere dele in die Bybel bedoel omdat ons nie die mense van die Bybelse tyd se manier van dinge doen verstaan nie. Ons is verwyder van kultuur, tyd en plek van die Bybelse mense. Dit is tog baie belangrik dat ons weet hoe die mense in die Bybelse tyd oor sekere dinge gedink het en hoe hulle geleef het. Sodoende verstaan ons die boodskap van die Bybel, wat eerste aan daardie mense gerig was, baie beter.

INLEIDING

Alle kulture word gekenmerk deur sekere sosiale waardes. Elke kultuur het hulle eie manier om die realiteit waarin die mens leef so te orden dat die belang van die individue en die groepe binne daardie kultuur prioriteit verdien. Al is die realiteit waarin ‘n sekere groep leef dieselfde realiteit as die waarin ‘n ander groep leef, verskil die kulturele interpretasie van die werklikheid van kultuurgroep tot kultuurgroep. Dit veronderstel verder dat daar in elke samelewing sekere kulturele kenmerke is wat een spesifieke groep onderskei van ‘n ander. Hierdie kulturele opvattings kan ons ook noem: gewoontes en gebruike.

Die probleem wat die moderne leser het wanneer daar met die antieke tekste gehandel word, is dat die teks, hetsy Bybels of buite-Bybels, is geskryf aan spesifieke mense in spesifieke omstandighede met ‘n spesifieke boodskap en spesifieke konteks. Dit beteken dat die moderne leser nie maar bloot na die antieke tekste wat ons tot ons beskikking het, kan gaan en daaruit afleidings maak vanuit die konteks van ‘n moderne verstaan nie. Die antieke teks moet binne sy antieke konteks gelees en verstaan word. Stander & Louw maak die opmerking dat: “Een van die grootste probleme wat Christene ervaar wanneer dit by die Bybel kom, is die kwessie van betekenis, m.a.w. hoe verstaan ’n mens dit wat jy lees.” Wanneer daar met die antieke teks gehandel word, word daar dus telkemale gevra: wat was die omstandighede van die oorspronklike skrywer(s), asook wat was die omstandighede van die oorspronklike ontvangers. Alhoewel daar in die afgelope paar jaar ‘n ontwaking was in die belangstelling van die moderne eksegete oor die waarde van die sosiale gebruike van die antieke kulture, is dit tog ‘n studieveld wat nog redelik braak lê.

Dit is belangrik dat mens besef dat jy jou moet inleef in die situasie van die antieke mens. Die kultuur van die antieke mense was ryk en divers. In die sogenaamde Vrugbare Halfmaan tussen die Middellandse See en die Persiese Golf, was daar ’n groot verskeidenheid van kulturele gebruike: die lewenswyse van die armes was nie dieselfde as die lewenswyse van die rykes nie; die lewenswyse in die warm vallei van die Jordaanrivier het verskil van die lewenswyse op die koel berge rondom Jerusalem; die lewenswyse in die somer het verskil van die lewenswyse in die winter; die lewenswyse van ’n nomadiese herder het verskil van die lewenswyse van ’n besigheidsman in die stad; en in ’n land wat dikwels in ’n oorlogstryd gewikkel was, was die lewe anders tydens die besetting deur die Assiriërs, as tydens die besetting deur die Grieke en die Romeine. Ons kan ook aanneem dat die kulturele opvattinge van die Chrstene drasties verskil het van die nie-Christene.

BYBELSE GEBRUIKE EN GEWOONTES IS VIR ONS ONBEKEND

Sommige gebruike, gewoontes en praktyke uit Bybelse tye is vir die hedendaagse mens onbekend en onverstaanbaar. Die ruil van ‘n sandaal by die lossingsprosedure (Rut 4:6ev), seremoniële wassing (Mark 7:3ev), die hoofbedekking (1 Kor 11:4), ‘n koei se as in reinigingswater (Num 19 – die sogenaamde “gebruik van die rooi koei”) is enkele voorbeelde. Die godsdienstige, sosiale en kulturele agtergrond van die Nabye Ooste en Mediterreense gebiede moet hierby verreken word. Antieke en moderne gebruike, sosiale strukture of gedragspatrone kan nie heen en weer en oor eeue oor verskillende kulture uitgeruil word nie.

KENNIS VAN GEBRUIKE EN GEWOONTES VAN DIE BYBEL IS BAIE BELANGRIK

Die regte verstaan van gebruike en gewoontes in die Bybelse tyd help ons nie net om ‘n beter insig in die antieke mens se leefwêreld te kan hê nie, maar help ons as moderne lesers in besonder om die teks wat ons lees op ons eie leefwêreld te kan toepas en verder die teks met verantwoordelikheid te kan verstaan om sodoende die “regte” boodskap van die Bybel af te lei.

Die skrywers van die Bybel het nooit hulself losgemaak van hul gebruike, gewoontes, opvattings en leerstellinge van die tyd as hulle Bybelse gedeeltes geskryf het nie. Daarom is dit baie belangrik om die antieke tekste te verstaan binne die konteks van die gebruike en gewoontes wat in die besondere tyd geheers het.

Dit gebeur gereeld in die hedendaagse samelewing dat iemand meen sy/haar woorde is buite verband aangehaal of buite konteks verstaan. Ons hoor gereeld dat prominente figure meen dat hulle verkeerd verstaan is en dat hulle die woorde wat aangehaal is, nie bedoel het soos wat dit deur iemand anders geïnterpreteer is nie. Iemand kan dieselfde woorde van ‘n ander aanhaal, maar dit gebruik in ‘n ander sin, ander verband, of ander agtergrond en die woorde kan ander betekenisse hê as wat die persoon wat dit oorspronklik gebruik het, dit bedoel het. Bybelse geleerdes het begin om al meer bewus te word van die belang van die historiese-, literêre, kulturele of sosiale konteks waarin antieke tekste tot stand gekom het.

Dit is belangrik om die sosiale waardes wat in die antieke Mediterreense kultuur gegeld het te kan interpreteer binne die sosiale omstandighede van die tyd om sodoende te verstaan wat die antieke lewens- en wêreldbeskouing behels het. Hieronder volg dan ‘n aantal inleidende opmerkings oor die gebruike in die Mediterreense streke, veral soos dit toegepas is in die tyd van die totstandkoming van die Nuwe Testament.

DIE BYBELSE MENSE WAS GROEPSMENSE

Vandag maak die mens se kwalifikasies meer saak as sy herkoms. In die antieke tyd was dit nie die geval nie. Wanneer daar ‘n profiel van die mens saamgestel is, is dit gedoen deur te vra waar hy vandaan kom, en van wie hy afstam. Daarom word daar in die Bybel soveel klem gelê op geslagsregisters (Matteus 1) en die afstamming van persone (Johannes 1:45; Matteus 16:17; Markus 10:35).

Malina et al (1995:18) gebruik ‘n eenvoudige voorbeeld om die verhouding tussen die individu en die groep uit te druk:
In ‘n dorp in die Mediterreense gebiede, byvoorbeeld Nasaret, sal familie A familie B as buitestaanders sien as dit gaan or die belange van familie A teenoor dié van familie B. Maar wanneer familie A en B by geleentheid in ‘n ander dorp kom, byvoorbeeld Kapernaum, staan familie A en B weer as groep saam as verteenwoordigers van Nasaret  teen die groepe van Kapernaum. Kapernaum vorm dan in hierdie geval die buitestaanders.

In die antieke Mediterreense kulture was die belangrikste wyse vir die beskrywing van groepe op grond van geografiese herkoms gebaseer. Dit was algemeen aanvaar dat persone van dieselfde geografiese herkoms groepsgevoelens teenoor hul mede-groepslede moes hê, selfs al het hulle die area lankal verlaat.

Deur die plek van oorsprong van ‘n persoon te ken, het die antieke mens geglo kan hulle voorspel hoe so ‘n betrokke persoon sou optree in ‘n bepaalde situasie. Hulle het geglo dat hulle kan weet wat om van so persoon te verwag. Galilea was vir die Jood meer agterlik as Judea. ‘n Mens verstaan nou makliker dat as mense hoor Jesus kom uit Galilea, hulle vra vrae oor sy geskiktheid as profeet (Joh 7:41-42,52 – “Baie van die skare het, toe hulle die woord hoor, gesê: Hy is waarlik die profeet. Ander het gesê: Hy is die Christus. En ander het gesê: Kom die Christus dan uit Galiléa? … Hulle antwoord en sê vir hom: Jy is tog nie ook uit Galiléa nie? Ondersoek en sien dat daar geen profeet uit Galiléa opgestaan het nie.”).

Iemand is sommer dadelik gekategoriseer ooreenkomstig die familie waaraan hy behoort het. Wanneer ‘n persoon binne ‘n betrokke familie grootgeword het, het hulle geglo dat ‘n mens sekere karaktereienskappe van die persoon kan verwag. Jesus word byvoorbeeld aan die hand van sy familie gekategoriseer in Joh. 6:42– “En hulle sê: Is Hy nie Jesus, die seun van Josef, wie se vader en moeder ons ken nie? Hoe sê Hy dan: Ek het uit die hemel neergedaal?”

Daar was in die eerste eeue nie plek vir die individu nie, maar vir die groep, en die belange van die groep. Die belangrikste groepe was die familie, die plaaslike gemeenskap, dorp, stad, stam en volk (Malina et al 1995:5). Die familie moet as geheel verstaan word as persone wat aan mekaar, bymekaar en ter wille van mekaar behoort tot die sosiale groep (Augsberger 1986:179). Van die groep was verwag om altyd saam te staan (Augsberger 1986:179). Hierdie saamstaan van die groep binne die situasie van die Mediterreense kultuur het beteken dat ‘n persoon in sy houding en lojaliteit homself primêr aan die gesag van die groep moet onderwerp. Malina et al (1995:19) meen dis hoe ons die oproep tot wedersydse liefde regdeur die Nuwe Testament moet verstaan.Hulle is immers in ’n groep, die familie van God, saamgesnoer en daarom moet hulle in lojaliteit teenoor mekaar optree. Die oproep in Jakobus 4:11 om nie vir jou broer kwaad te raak nie, is byvoorbeeld gemik op die beskerming van hierdie groepsgrense. As jy kwaadwillig teen ’n groepslid optree, benadeel jy immers die hele groep. Dit herinner aan Jesus se woorde in Markus 3:24, dat ’n koninkryk (groep) wat teen homself verdeel is nie staande kan bly nie. Dit verklaar waarom onmin  en twis in die Bybel ’n baie groter sonde is as wat ons as moderne mense dit aanvoel. Twis en onmin was nie net iets tussen individue nie, maar het ook die groep vernietig.

Hierdie sterk groepsgevoel in die eerste eeu was ook ’n belangrike rede waarom die Christendom so vinnig van Jerusalem tot in Rome kon versprei. In Handelinge soek Paulus met sy sendingreise gewoonlik eerste die sinagoges—oftewel die Joodse gemeenskapsentrums—op en begin daar preek (sien Handelinge 13:5,14–15; 14:1; 16:13; 17:1,10,17; 18:4,19,26; 19:8). Die Jode was Paulus se groepslede (broers – Handelinge 13:15,38) in die betrokke plekke. Daar is hy dadelik aanvaar. So het die Joodse sendelinge eintlik oral afspringplekke gehad om die Evangelie te begin verkondig.

As die Judeërs egter agterkom dat Paulus se prediking hulle tradisies verbreek of hulle raak jaloers, jaag hulle Paulus weg (Handelinge 13:50; 14:2,5). Daarmee plaas hulle hom buite die groep en word hy vir hulle ’n buitestaander. So is die grense van ’n betrokke groep gedefinieer en beskerm. Hul gedrag teenoor Paulus verander dan heeltemal en hy word inderwaarheid as ’n vyand van hul groep beleef. Daarom stuur hulle afvaardigings om die Jode elders teen Paulus te gaan waarsku (Handelinge 14:19; 17:13; 21:27–28). So beskerm hulle hul groep. So ook beskryf gedeeltes soos 1 Johannes 2:18–19 of 2 Johannes 10–11 die beskerming van groepsgrense en identiteit.

Paulus bly egter tot die einde toe oortuig dat hy deel is van die Joodse groep, al aanvaar hulle hom nie (sien Romeine 9:3; 16:7,11,21). Dit kan uit Paulus se groepsversoenende houding gesien word as hy met die Jode in Rome praat (Handelinge 28:17–20). Hy is egter nie deur die groep aanvaar nie, omdat hy dinge gedoen en gesê het wat volgens hulle nie in ooreenstemming met die karakter van hulle groep was nie. Wat groepsverbondenheid betref was dit egter nie belangrik wat Paulus as individu gedink het nie, maar hoe die groep geoordeel het (Malina et al 1995:20).

Die definiëring van groepsgrense was dus nie altyd ’n eenvoudige en glashelder saak nie. Daar kon ook aan die hand van wisselende situasies en belange wat op die spel kom, groepe binne groepe wees (sien ook die tabel hieronder). Hierdie verskillende groepsafperkinge het veroorsaak dat daar in die een geval afwysend en in die ander geval positief teenoor ’n persoon opgetree kon word. Die konflik tussen Petrus en Paulus in Galasiërs 2:11–14 kan in dié lig gesien word. In Galasiërs 2:12 word daar van die mense van Jakobus en van nie-Joodse gelowiges gepraat wat op Christelike groepe met verskillende opinies dui. Die Joodse gebruike, onder andere die vraag oor die besnydenis, het skynbaar die twee groepe onderskei. Petrus moes dus vir ’n groep kies. Hoewel almal Christene was, het Petrus homself tog terughoudend begin gedra teenoor die nie-Joodse gelowiges. Hy wou nie meer saam met hulle eet nie, wat daarop dui dat hy hulle in ’n sekere sin as buitestaanders gereken het (Galasiërs 2:14). (Hy het hom nie totaal afgeskei nie, wat daarop dui dat hy hulle tog nog oorkoepelend as Christene gesien het. Daar was egter ’n groep binne ’n groep). Paulus meen gevolglik dat Petrus huigel. Petrus het eers rustig saam met die nie-Joodse gelowiges geëet, maar toe ’n groep waar hy homself nouer by identifiseer bykom, het hy anders opgetree.

Die uitspraak van Jesus dat wie nie teen ons is nie, vir ons is, gaan juis om die vraag waar die groepsgrense in ’n betrokke geval getrek moes word (Markus 9:40). Die dissipels was nie seker daaroor nie – was die betrokke mense binne of buite die groepskring? Jesus se uitspraak, as die leier van die groep, trek die grense en los so die probleem op. Paulus hanteer ’n soortgelyke probleem met mense wat lyk na sy opponente in Filippense1:15–18 op dieselfde wyse. Hoewel hulle dit vir hom moeilik maak, verkondig hulle tog Jesus en dit snoer Paulus en hulle rondom daardie allesbelangrike gemeenskaplike punt saam. Op grond daarvan verklaar Paulus as leiersfiguur hulle deel van die groep.

Buitestaanders se belange het ’n persoon of groep nie aangegaan nie. Mense het hulle dus uit ander groepe se belange gehou. Die Gallio-episode (Handelinge 18:14–17) illustreer dit mooi. Die Jode het stry gekry oor wat vir Gallio na binne groepsgevegte gelyk het. Dit is ’n saak wat die Jode as sodanig raak. Dit gaan hom as Romein dus nie aan nie en daarom bemoei hy hom nie daarmee nie. (Sien ook Johannes 18:31; 19:6,12).

In die onderstaande tabel word die groepsbepaling van die Mediterreense mens uitgespel. Vosloo het ‘n studie van die boek Hooglied gemaak. In sy studie het hy bevind dat die boek Hooglied opgebou is uit konsentriese sirkels wat die indidvidu eerste stel, daarna die stad, die veld, en laastens die woestyn. Hierdie sirkels verteenwoordig die groepering rondom die karakter wat eerstens goedgesind is teenoor hom, maar hoe verder die karakter van die huis beweeg, hoe meer bedreigend tree die karakters en die omgewing teenoor die karakters in Hooglied op. Hierdie navorsing van Vosloo het tot die persoonlike besef gelei dat daar nie slegs in Hooglied sprake is van so ‘n model van goedgesindheid en bedreiging nie, maar dat die hele antieke Mediterreense kultuur, en by name die gebeure in die Bybel teen so ‘n agtergrond gelees moet word. Die Mediterreense mense is groepsmense: hoe nader jy aan die groep beweeg, hoe meer raak die individu se omstandighde goedgesind. Hoe verder die individu van die groep beweeg hoe meer bedreig die milieu waarin hy hom bevind sy sosiale status en sy sekuriteit.

DIE BYBELSE WêRELD WAS GEFOKUS OP DIE MANNE

Die Mediterreense samelewing was inderdaad ‘n wêreld vir die manne. Cornelius (2002:57-59) wys op ‘n aantal vroue wat ‘n prominente rol gespeel het in die Bybelse geskiedenis. Dit verander nog nie die feit dat die antieke kultuur die rol van die vrou anders gesien het as in die moderne kultuur nie. Dit was natuurlik ook nie net die geval in die Joods-Christelike samelewing nie. In die Grieks-Romeinse wêreld was die vrou oor die algemeen meer geëmansipeerd, maar ook daar het die vrou ‘n ondergeskikte rol teenoor die man beklee.

KOMPETISIE EN AFWERING VAN KOMPETISIE IN DIE BYBELSE TYD

In die enige gemeenskap vind noodgedwonge interaksie tussen die individue plaas. In die Mediterreense samelewing word die interaksie met individue gekenmerk deur ‘n voortdurende kompetisie met mekaar (Moxnes 2004:19). Almal moet konstant daarop ingestel wees om hul eie eer en die eer van die familie te beskerm. Hierdie sosiale interaksie neem gewoonlik die vorm aan van kompetisie en die afwering van kompetisie. Hierdie kompetisie en afwering van kompetisie vind meestal verbaal plaas, maar kan ook gepaard gaan met simboliese tekens en selfs met die gebruik van fisiese geweld (Moxnes 2004:19).

MENSE HET MEKAAR BEVEG MET STRYDGESPREKKE

Die eerste eeuse Mediterreense mense het die grootste deel van hulle lewe in die openbaar geleef. Eer was die resultaat van die openbare erkenning van ’n persoon se waarde. ’n Aanval op die eer van ’n persoon het ’n skerp reaksie gevra.

‘n Persoon het ‘n vraag uit die ander groep aan hom gestel as ’n uitdaging van sy eer gesien. Ten einde sy eie eer en dié van sy volgelinge te beskerm, moes die persoon met ’n reaksie kom wat daardie ander groep weer onder druk plaas om so sy eie eer te beskerm en sy superioriteit te bewys. Ten einde die doel te bereik was sarkasme en skerp taal algemeen gebruik. Om dus ’n vraag met ’n vraag te beantwoord, was ’n tipiese reaksie op die destydse uitdagings wat gemaak is. Daarom het die saak waarom dit gaan dikwels in die slag gebly.

Die klem het meer op die vermoë van die twee gespreksgenote geval om mekaar in uitdaging en reaksie uit te oorlê en so die superioriteit van die een bo die ander te bewys. So ’n suksesvolle verdediging van jou eer het binne die sosiale spel aanleiding gegee tot die verhoging van jou eer. Dit het ook die waardes van jou groep bevestig. Op dié manier is die groepslede verseker van hulle eie identiteit en is hulle hegter in die groep saamgebind.

Die gesprekke wat Jesus veral met die Fariseërs en ander Joodse leiers gehad het, moet in bogenoemde lig gesien word. Dit was tipiese strydgesprekke. Daarom is dit wat gesê word dikwels minder belangrik, as hoe dit gesê word. Met hierdie gesprekke is Jesus se eer en die waarheid van sy getuienis op die spel. Wie so ’n gesprek van Jesus lees, leer nie net iets van Hom nie, maar leer ook iets oor Hom.

In sy gesprek met die Sadduseërs oor die vrou wat volgens die gewoonte van destyds met sewe broers agtereenvolgens trou (telkens nadat die vorige broer oorlede is), val Jesus sy opponente direk aan (Markus 12:24–27). Hy sê direk dat hulle dwaal (Markus 12:24,27), dat hulle – as die mense wat die tempel, die Sanhedrin en die opleiding van die volk beheer – nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie. Dit beteken eintlik dat hulle nie met God in kontak is nie. Daarmee val Jesus hul status en hul persone as sodanig aan, maar vestig ook sy eie status teenoor hulle.

Vir ’n moderne mens klink so ’n persoonlike aanval eienaardig. Vir ons is dit ’n deug om liewer saaklik te bly. In die destydse wêreld was hierdie skerp vraag-antwoord spel egter die aanvaarde wyse om jou eie groepsgrense te verdedig en te bevestig. Let byvoorbeeld op hoe die opponente van Jesus Hom in strikke wou lok (Lukas 10:25; 12:53–54; Matteus 22:15,34–35) en hulself teenoor Hom wou handhaaf (Lukas 10:29), alles terme wat op die groepspel dui.

In ’n ander geval draai Jesus weer die aanval om en verwys na die aanvallers se optrede wat identies met syne is. As hulle beweer dat Hy duiwels deur Beëlsebul uitdryf, deur wie se krag doen hulle presies dieselfde, vra Jesus aan hulle? (Matteus 12:27;Luk 11:19). In watter rigting ’n antwoord ook al gesoek gaan word, gaan die aanvallers al hoe dieper in die moeilikheid land. Wanneer Jesus die vermoë het om uit sulk strikvrae te kom, het dit sy aansien in die oë van die gemeenskap verhoog.

Teenvrae op vrae wat gestel is, was ook algemeen. In ’n teenvraag is daar gewoonlik ’n vanselfsprekendheid ingebou wat net een antwoord moontlik maak. Hierdie vanselfsprekendheid reflekteer dan negatief op die aanvanklike vraag (sien Mark 2:18–19, 24–26).

Die wyse waarop mense aangespreek is, was ook deel van hierdie magspel. In Markus 12:26 vra Jesus aan die Sadduseërs wat gedurig met die Skrifte besig was, of hulle dan nie die gedeelte oor die God van Abraham, Isak en Jakob gelees het nie. Die “het julle dan nie gelees nie” … is vernederende taalgebruik, aangesien die woorde impliseer dat die Sadduseërs nie die Skrifte behoorlik lees nie. Dieselfde mate van sarkasme blyk ook uit vrae wat Jesus of Paulus vra, waarin die antwoord eintlik reeds gegee is. Die opponente kan maar net toegee hulle is verkeerd. Hierdie is dus wyses waarop die een party homself outoritatief teenoor die ander party stel. Daar word dan verwag dat die groepslede hulself agter die spreker skaar. Sou hulle Hom verlaat of teëgaan, sou dit eintlik ’n ernstige refleksie op die spreker of leier gewees het.

Die antieke Mediterreense samelewing het duidelike reëls gehad waarvolgens hierdie soort interaksie moes plaasvind. Behoorlike kompetisie kon net plaasvind tussen mense wat gelyk of redelik gelyk in eer was in die oë van die gemeenskap. Die feit dat een persoon ‘n ander persoon uitgedaag het was reeds vir albei ‘n mate van eer gewees, want dat jy uitgedaag word was reeds die erkenning van jou sosiale status as gelyk aan die een wat jou uitdaag. Om iemand wat laer status as jyself gehad het uit te daag, was ‘n verlaging van jou eie eer in die oë van die gemeenskap en ‘n verhoging van die ander se eer. Om iemand sonder eer uit te daag was doelloos en ‘n mors van tyd, en het die een wat wel eer besit het, verneder.

Wanneer ‘n uitdaging uiteindelik aanvaar word, was dit belangrik dat daar aan sekere reëls aandag gegee word. Wanneer iemand ‘n ander verbaal uitdaag om in ‘n redenasie met hom betrokke te raak, was dit ‘n verlaging van eer as daardie persoon nie die uitdaging aanvaar nie. Indien ‘n persoon jou beledig was ‘n antwoord verwag anders verneder jy jouself deur niks te sê nie. ‘n Antwoord maak gewoonlik die speelveld gelyk. So word kompetisie en die afwering van kompetisie gewoonlik soos ‘n spel beoefen met vasgestelde reëls. Die wenner is die een wat sy eer kon beskerm, en daarin kon slaag om sy opponent se eer te verlaag. Die verloorder beleef ‘n verlaging van sy eer en sy sosiale stand ten opsigte van die gemeenskap neem af.

DIE ANTIEKE WêRELD HET NET BEPERKTE GOEDERE GEHAD

In die antieke Mediterreense gemeenskappe was die moderne idee van onbeperkte goedere onbekend. Alle aardse middele was slegs in beperkte hoeveelhede beskikbaar, en enigiemand wat ambisie getoon het om meer te besit as wat hy reeds het, of as wat hy reeds verwerf het, is met agterdog en dikwels ook met nydigheid bejeën as iemand wat nie die groep se belange op die hart dra nie maar sy eie, en so in die groep se pad van oorlewing en die bekomming van groepseer staan. Die rede vir hierdie opvatting was omdat hy die eer wat hy bekom noodwendig van iemand anders moes afneem, want goedere is slegs verdeel, nie vermenigvuldig nie.

Die gebied het nooit die rykdom geken wat daar vandag in eerstewêreldlande geken word nie. Die mense van die Mediterreense gebied moes maar altyd ‘n stryd om oorlewing hê. Die spreekwoordelike “skaarsheid van die lewe” het die gemeenskap gedring om ook aan vroue ekonomiese waardes te heg ooreenkomstig haar gedrag in die oë van die gemeenskap. Die Mediterreense samelewing het die tendens gehad om na promiskieuse mans te kyk met ‘n mate van “positiwiteit” as soort van “don giovannis”, maar promiskieuse vroue is “hoere”: ‘n man word beskaam deur sy ontrou vrou of dogter, maar ‘n vrou word nie beskaam deur haar owerspelige man of seun nie. Die gewelddadige reaksie van die man teenoor die seksuele losbandigheid van sy vrou of die seun teen die seksuele losbandigheid van sy suster, word verstaan en verwag van die gemeenskap. ‘n Man wat sy sout werd is, beskerm sy eer deur sy belange te beskerm (“anzi dam jissaportiha!” – Hy het lank genoeg met haar geduld gehad!).

Die vrou moet ‘n goeie morele karakter hê. ‘n Vrou wat haar nie “gedra” het volgens die reëls van die gemeenskap nie, kon haar eer verloor en daarmee saam haar ekonomiese waarde. Die vrou se seksuele gedrag, en die straf op wangedrag moes ooreenkom met die norme wat die mans van die tyd aan haar gestel het. ‘n Eerbare vrou was (en is vandag nog!) gesien as ‘n bate vir ‘n familie omdat sy die geleentheid het om in ‘n meer invloedryke familie in te trou en so sal sy die status van haar pa en haar hele familie verhoog. Schneider stel voor in verband met die Mediterreense kultuur: “given conditions of economic and institutional poverty, female chastity came to be considered a valuable component of each family’s patrimony and hence a means of acquiring useful affines in the struggle for survival”. Grima merk verder in dié verband op: “It is no coincidence that even today, daughters are warned to preserve their honour, because if they fall from grace…they will drag their families along with them, with all the social and economic consequences that such disgrace entails”.

Soos wat dit baie moeilik is in ‘n samelewing met beperkte middele tot hul beskikking om meer te bekom as wat hulle het, so is dit ook baie moeilik om aan iemand se eer toe te voeg, maar baie maklik vir iemand om sy verworwe eer te verloor.

DIE ANTIEKE MENSE HET GESê: JY DOEN NET GOED AAN Dié WAT GOED IS VIR JOU

Een van die belangrikste verhoudings in die antieke wêreld was dié tussen persone wat in een of ander magsposisie was en diegene wat op hulle goedgesindheid aangewese was vir hulle eie voortbestaan. Politieke maghebbers, aristokrate, grondbesitters en eienaars van klein besighede het gewoonlik beheer oor noodsaaklike lewensmiddele gehad en ook eervolle posisies in die samelewing beklee. Aangesien die meeste mense in die Mediterreense wêreld baie arm was, was hulle afhanklik van die bystand van hierdie weldoeners. So kon ’n groot grondbesitter byvoorbeeld ’n stukkie grond gratis aan ’n arm persoon afstaan om te bewerk en hom boonop nog laat deel in sy beskerming en in die gebruik van sy afsetgebiede.

In die sosiale antropologie word van hierdie verhouding tussen meerderes en hulle afhanklikes geprat as ‘n “kliënt-weldoener verhouding”. ‘n Mens moet daelik besef dat die verhouding tussen die kliënt en sy weldoener nie gelyke kompetisie behels het nie, en die kliënt het vir sy lewensmiddele altyd afhanklik gebly van die goedheid van die weldoener. Aangesien kliënte hulle weldoeners nie in gelyke munt kon terugbetaal vir hulle weldade nie, moes hulle in ruil hul weldoeners se goeie naam in die openbaar beskerm en uitdra. So moes hulle bydra tot die openbare bevestiging van die eerbare posisies van hul weldoeners, maar ook om hul eie dankbaarheid uitdruk.

Sonder om te blik of te bloos sou persone mekaar as vriende help en selfs ver uit hulle pad gaan vir mekaar. Selfs al sou jy en ’n ander persoon net ’n gemeenskaplike vriend hê, sou dit ook beteken dat júlle eintlik vriende is. Dit is inderdaad soos ’n net wat aanmekaar geknoop is. Julle sou dus nie huiwer om mekaar te help nie.

Dit is uiters betekenisvol om die verhouding tussen die kliënt en sy weldoener in die antieke Mediterreense kultuur te verstaan, want sodoende kry ons meer insig in die plek wat die gelowige volgens die Nuwe Testament teenoor God se genade moet inneem. Volgens die Nue Testament is God die Weldoener aan die gelowige, wat met onbeperkte mag optree. Hy het toegang tot al die middele in die heelal, soos lewe, gesondheid, grond, eer en mag oor die dood en die doderyk (Matteus 10:28–31). Hierdie groot mag deel Hy ook volledig met sy Seun, Jesus Christus. Volgens Kolossense 1:15–20 is Jesus so groot dat Hy die beeld van God is wat alle sienlike en onsienlike dinge geskep het en wat die ganse skepping in stand hou.

Voorts staan God se aanvanklike kliënte as sondaars bekend. Dit sluit almal in wat nie ooreenkomstig sy voorskrifte lewe nie. Christus vervul egter die rol van ’n middelaar tussen God en sy kliënte deur hulle los te koop uit die mag van die sonde en aan hulle toegang tot God se weldade te skenk (Kollosense 1:21–22; 1 Timoteus 2:5–6). Volgens Paulus word diegene wat in geloof op Christus se middelaarswerk reageer se status verhoog tot kinders van God (Romeine 8:16). As kinders is hulle nou erfgename van God en van Christus (Romeine 8:17). Nou moet hulle in dankbaarheid die Naam van God, die weldoener groot maak, sy eer beskerm en Hom gehoorsaam.

IN DIE BYBELSE TYD HET DIE MENSE GEGLO HULLE MAAK NIE FOUTE NIE

Die Mediterreense mens neem nie maklik inisiatief nie. Die rede hiervoor blyk te wees dat die Mediterreense mens waardeer word vir hoe min foute hy/sy maak eerder as vir die inisiatief wat hulle neem. Wanneer die Mediterreense mense vir iemand werk, sal hulle probeer om so min as moontlik besluite te neem of in situasies te beland waar hulle self inisiatief moet neem. Dit vind beslag in die Mediterreense mens se godsdiensbeoefening, met die nadruk op die feit dat sondes nie bely moet word nie. Belonings bestaan vir die mens wat die slegte vermy, die bose vermy, en die geleenthede waar sonde hom voordoen vermy, eerder as vir hom wat goed doen.

Kyk vir ‘n oomblik na Jesus se gelykenis van die tollenaar en die Fariseër in Lukas 18 :9-14 met hierdie perspektief in gedagte:

9 EN Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel.
10 Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een ’n Fariseër en die ander ’n tollenaar.
11 En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie—rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie.
12 Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry.
13 En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig!
14 Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.

In die verhaal doen die Fariseër volgens die Joodse opvatting niks verkeerd nie. Hy kom sy verpligtinge teenoor God en oënskynlik ook teenoor sy mede-groepslede na. Die tollenaar noem nie wat hy verkeerd gedoen het nie (vers 13). Die Fariseër neem die bekende konserwatiewe houding van die Mediterreense mens in: geen inisiatief tot skuldbelydenis, hy behou net sy status quo, terwyl hy enige sweempie van skulderkenning of foute vermy. Malina wys op die tollenaar as een wat inisiatief neem –  dis baie raar in dié kultuur! Wil Jesus hier kritiek lewer op die Mediterreense mens se siening dat hulle nooit foute maak nie?

SAMEVATTING

Deur die inligting hierbo kan ons duidelik raaksien dat wanneer ons die gebruike en gewoontes van die antieke mense verstaan, ons die Bybel sommer baie makliker verstaan. Ons moet maar almal moeite doen om die boodskap van die Bybel beter te probeer verstaan. Die boodskap is gegiet in die sosiale- en nader gerbuike van die tyd; daarom kan die verstaan van die antieke mense die verstaan van die teks vergemaklik.

 

Indien u belangstel om meer te leer oor die boodskap van die Bybel kan u gerus die volgende werke aanskaf:

Malina, Joubert & Van der Watt. 1995. Vensters wat die Woord laat oopgaan. Orion Uitgewers. (ISBN 0-7987-0663-5)

Stander, HF & Louw, JP. 1990. Gebruike en gewoontes in die Bybel.Christelike Uitgewersmaatskappy (ISBN 1–86829–057–3)

Van der Watt, Jan (red). 2003. Die Bybel A-Z. Christelike Uitgewersmaatskappy (ISBN 1-77000-036-4).

Vosloo, WJ & Van Rensburg, FJ. 1993. Die Bybel in Praktyk.Christelike Uitgewersmaatskappy (ISBN 1-86829-139-1)