Wat glo ‘n gereformeerde kerk?

WAAROM IEMAND IN ‘N GEREFORMEERDE KERK (KERK VAN DIE HERVORMING) TUIS SAL WEES?

Gerefomeerde kerke wil Bybelgetroue kerke wees. Binne die Gereformeerde kerkefamilie is dit ‘n beginsel dat jy jou moet voeg by dié kerkverband wat jy glo die suiwerste kerkverband is (N.Gb. Art. 28).  Dit beteken dat jy lidmaat moet wees by dié kerk waar jy glo die Here die Skrifgetrouste gedien word.

Reeds met die Hervorming is hierdie beginsel raakgesien en is daar onderskei tussen die ware en die valse kerk.  In die Nederlandse Geloofsbelydenis word dit duidelik uitgespel: Die drie merktekens van die ware kerk is die suiwere verkondiging van die Woord, die suiwere bediening van die sakramente  – soos Christus dit ingestel het, en die handhawing van die kerklike tug (Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 29).  ‘n Kerk wat nie hierdie merktekens vertoon nie, is nie meer suiwer kerk nie, of moontlik selfs ‘n valse kerk.

Suiwere verkondiging van die Woord

Een van die eerste tekens waar ‘n mens kan sien dat ‘n kerk die suiwere pad verlaat, is as die Woordverkondiging nie meer suiwer is nie.  Wanneer ‘n kerk deur die Woordverkondiging en die kerkleer afwyk van wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het, kan hy nie meer aanspraak daarop maak dat hy ‘n Gereformeerde kerk is nie.

In die meeste gereformeerde kerke is dit vir ons ‘n saak van groot erns om so Skrifgetrou as wat moontlik is te wees in ons prediking, ons kerkleer, by die neem van besluite, ens… Juis daarom onderskryf ons die Drie Formuliere van Eenheid en verwerp alle leringe wat daarmee in stryd is. Juis daarom verwerp ons die sogenaamde “Nuwe Reformasie” en “Skrifkritiek” en verklaar dat dit niks anders is as ‘n poging om die eeue-oue Skrifwaarhede te bevraagteken en ‘n subtiele poging om die gesag van die Skrif te ondergrawe.  Juis daarom verwerp ons enige vorme van leervryheid en verwag dat elke predikant en ouderling en lidmaat hulself gebonde sal ag deur Skrif en belydenis.  In leervryheid lê die dood van die suiwer kerk.

Die rede waarom die Skrif suiwer en in al sy konsekwensies verkondig moet word, is omdat die bediening van die Woord een van die sleutels van die hemelryk is (HK So. 31).  Daarom bedien die bedienaar van die Woord die gesag van God.  Hy spreek God se Woord en bedien sy gesag.  Deur die suiwere prediking word die hemelryk deur God self vir die regverdiges oopgesluit en vir die moedswilliges en ongehoorsames toegesluit.  Daarom moet die ouderlinge waak oor die verkondiging van die Woord sodat daar nie deur dwaalleer voorgegee word dat die lidmaat wat in sonde volhard, kan deel aan God se Ryk nie.

Deur die suiwere verkondiging van die Woord word die gelowige, wat maar steeds sondaarmens is, voor die regterstoel van God geplaas en word hy/sy opgeroep tot daaglikse berou en bekering.  So dien die prediking een van sy doelstellings.

Suiwere bediening van die Sakramente

Die vereiste wat die Skrif aan die bediening van die sakramente stel, is dat dit bedien moet word soos Christus dit ingestel het.  Enige ander bykomstighede mag nie geduld word nie.

Sakramente verkondig die werk van Christus op ‘n sigbare wyse. Ons leer in die Bybel net van twee sakramente, nl. die Doop en die Nagmaal.  Wat egter belangrik is, is dat die Bybelse instelling van hierdie twee sakramente gehandhaaf moet word.  Daarom doop ons in die gereformeerde kerke net met water, want die Here Jesus is so gedoop, en erken ons geen ander vorm van doop wat deur die mens uitgedink is nie. Verder moet die doop in die Naam van die Drie-enige God geskied en moet die kerk wat die doop bedien, die Drie-eenheid bely.  By die Nagmaal word slegs brood en wyn (en rooi druiwesap vir die wat verkies) gebruik, want die Here het die nagmaal so ingestel.  Enige poging om meer sakramente in te voer of om die sakramente te wysig of om ander kerklike handelinge sakramentele status te gee, is tekenend van ‘n kerk wat die gereformeerde (Bybelse) pad verlaat. Ons aanvaar nie die kindernagmaal nie.

Wat ook belangrik is om te onthou, is dat die sakramente nie suiwer bedien kan word as die Woordverkondiging nie suiwer is en as die ouderlinge nie suiwer toesig hou en waak oor die heiligheid van die sakramente nie.

Handhawing van die Kerklike Tug

Die handhawing van die kerklike tug is seker die een merkteken wat in die moderne eeu verwaarloos word.  Die humanistiese geroep om mekaar in liefde te verdra en mekaar se verskille te aanvaar, het ook tragies oorgespoel na die kerke van die Here.

Wanneer ‘n kerk openlik die sonde in sy midde verdra en die ouderlinge die sondaar nie aanspreek en vermaan om terug te keer na die weg van gehoorsaamheid nie, versaak daardie kerk sy roeping.

Tug het in hierdie bandelose eeu waarin ons leef onmisbaar geword.  Wanneer die Woord en sakramente suiwer bedien word, maar geen tug in die gemeente toegepas word nie, kan daar nie sprake wees van ‘n suiwer kerk nie.

Omdat tug ‘n liefdesaksie is waarin die bandelose sondaar weer teruggebring moet word na die gemeenskap met die Here, is ‘n kerk waarin geen tug bestaan nie, ‘n kerk waarin die liefde van die Here nog nie tot volle ontplooiing gekom het nie.

Lees gerus ook die artikel: Wat is gereformeerd?