Hoe bereken ons dat Christus op die derde dag opgestaan het?

Prof. Gerrit Smit

As Christus op die Vrydag gekruisig is, en die Sondag opgestaan het, hoe kan ons dan bely dat hy op die derde dag opgestaan het uit die dood? Is dit nie twee dae nie?

Baie navrae kom oor die verstaan van die opstanding van Jesus op die derde dag. Hoe het die Bybelskrywers die tyd wat Jesus in die graf was, bereken?

Ons moet onthou dat die Bybelskrywers se begrip van tyd baie anders was as wat ons s’n vandag is. In die tyd van die Nuwe Testament was daar verskillende kalenders in gebruik waarvolgens dae en feeste op verskillende maniere bereken was. Die Evangelieskrywers gaan uit van die Joodse kalender.

Die Jode het gewoonlik die dag waarop iets plaasgevind het, getel as die eerste dag van die gebeurtenis. Jesus is die Vrydagmiddag van die kruis afgehaal en dadelik begrawe omdat die Joodse Sabbat besig was om aan te breek, en ‘n veroordeelde mag volgens die Joodse gebruik nie op ‘n Sabbat gehang het nie.

Vrydag was dus vir hulle die eerste dag.

Die Saterdag was dit die Sabbat. Dit was die tweede dag volgens die Joodse kalender.

Op die Sondag het Jesus uit die dood opgestaan: die DERDE dag!

Vir die moderne tydsbegrip een en ‘n halwe dag (of twee), maar vir die antieke mense 3 dae! Dit is hoe ons in die kerklike belydenisse aan die formule kom.