Is dit nodig om belydenisskrifte te hê?

Is Belydenisskrifte nie outyds nie?

deur: prof. Gerrit Smit

Wat is Belydenisskrifte?

‘n Belydenisskrif is ‘n kort, kernagtige samevatting van wat in die Bybel geleer word.  Die Bybel is nie ‘n handboek wat die een na die ander tema sistematies uiteensit nie.  As jy wil weet wat die Bybel leer oor God, die skepping, die uitverkiesing, ens., kan jy nie die Bybel oopmaak by die hoofstuk oor “God” en dan word daar presies uiteengesit wie en wat God is nie.   Nee, die Bybel is ‘n Boek waarin God Homself en sy wil deur die loop van sy handelinge in die geskiedenis aan ons openbaar.  Belydenisskrifte is egter anders.  ‘n Belydenisskrif wil dieselfde sê as die Bybel, maar vat die openbaring deur God (wat oor die hele Bybel versprei is), op ‘n gesistematiseerde wyse saam.  So is ‘n belydenisskrif ‘n samevatting van wat ons as gelowiges oor verskillende Skrifwaarhede glo.

 Hoe het Belydenisskrifte ontstaan?

‘n Belydenisskrif is nie maar ‘n dokument wat agter ‘n lessenaar uitgedink is nie.  Belydenisskrifte word in stryd gebore. Al drie die besondere- of Gereformeerde belydenisskrifte is gebore in die tyd van die Hervorming en daarna.  Tydens die ontstaan van elke belydenisskrif was daar stryd in die kerk.  Die Rooms-Katolieke Kerk (RK) het nie meer die suiwere Bybelse leer verkondig nie en het in allerhande onbybelse praktyke verval.  Verskeie persone het hierteen in opstand gekom.  Martin Luther was die eerste wat openlik sy verskille met die kerk bekend gemaak het toe hy sy 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg in 1517 vasgespyker het.  Meer en meer godgeleerdes het hulle stem laat hoor en mense se oë het oopgegaan vir die dwalinge van die RK Kerk.  Dit het daartoe gelei dat die kerk met bloedige vervolginge begin het.

In hierdie tyd is die eerste twee belydenisskrifte gebore. In 1561 het Guido de Brès die Nederlandse Geloofsbelydenis voltooi en in 1563 het Ursinus en Olevianus die Heidelbergse Kategismus die lig laat sien.  Die verskyning van hierdie geskrifte het hernude bloedige vervolging vir die gereformeerdes teweeggebring. De Brès is byvoorbeeld in 1567 gevang en opgehang.

Die Dordtse Leerreëls het sowat 50 jaar later (1618-1619) ontstaan. Op daardie stadium was daar dwaalleraars binne die kerk wat die koning oortuig het dat God nie sekere mense uitgekies het om salig te word nie, dat dit van ‘n mens se vrye wil afhang of hy gered gaan word, dat God se genade weerstaan kan word, ens.  Hulle het ook ‘n petisie (remonstransie) teen die gereformeerdes opgetrek en by die koning ingedien waarin hierdie dwaalleringe bepleit is.  Dit het daartoe gelei dat die gereformeerde predikante deur die koning verbied is om die leer van die Uitverkiesing te preek.  Die staat het dus aan die kerk voorgeskryf wat hulle moes glo en wat nie.  Uit hierdie stryd is die Dordtse Leerreëls gebore.  Hierdie Bybelgetroue belydenisskrif is tydens die Sinode van die Gereformeerde Kerke van die Verenigde Nederlande, wat ongeveer ses maande geduur het, opgestel.

Wie werklik die geskiedenis van die belydenisskrifte gaan nalees, sal saamstem: die belydenisskrifte is geskryf in die bloed van die gereformeerdes.

Waarom het ons belydenisskrifte nodig?

  • Sodat die gelowiges presies kan weet wat hulle glo.

Die Bybel is ‘n baie groot Boek.  As jy die belydenisskrifte lees, weet jy presies wat die Bybel oor bepaalde sake leer.  Dit sê hoe ons as gereformeerdes die Bybel verstaan.  As jy dus wil weet of jy die Bybel reg verstaan oor ‘n sekere saak, kan jy die belydenisskrifte lees en jou standpunt daaraan toets.

  • Dit vorm ‘n eenheid tussen die Gereformeerde kerke en tussen die gelowiges.

Tussen die Gereformeerde kerke en ook binne ons eie kerkverband mag daar nie verskil van leer wees nie.  Elkeen kan nie maar sommer leer wat hy wil nie en daarom dien die belydenisskrifte die doel dat elke lidmaat en elke gemeente daardeur kan vashou aan die suiwer leer.

  • Belydenisskrifte is ‘n wapen teen dwaalleraars.

Wie sy/haar belydenisskrifte ken, ken tegelyk ook die leer van die Bybel en hoef daarom nie bang te wees vir al die dwaalleraars van hierdie eeu nie.  Kennis van die belydenisskrifte bied ‘n goeie wapen teen al die vreemde en nuwe leringe wat mense vandag uit die Bybel probeer haal.

  • Deur die belydenisskrifte word die suiwer leer aan die nageslag oorgedra.

Soos reeds verduidelik is, is die belydenisskrifte te midde van stryd gebore. Sommige van die leerstukke is oor jare heen uit geworstel. As dit nie op skrif gestel was nie, sou die kerk telkens weer dieselfde worstelinge moes deurmaak om die waarheid van die Skrif vas te stel. Elke nuwe geslag kan ook nie anders glo as die vorige een nie – dit sal tog verwarring en later ongeloof in die hand werk.  Deur middel van belydenisskrifte word die suiwer leer van geslag na geslag oorgedra en juis dit bied die standvastigheid vir die nuwe geslag.  Ons belydenisskrifte bestaan al vir honderde jare en nog nooit kon bewys word dat dit in stryd met die Skrif is nie.

Die gesag van die belydenisskrifte

Belydenisskrifte is nie op dieselfde vlak as die Bybel nie.  Dit is nie deur God geïnspireer soos die Bybel nie.  Dit het ook nie Goddelike gesag nie.  Maar dit maak dit nie onbelangrik nie.  Belydenisskrifte is wel deur mense opgestel en het daarom kerklike gesag, maar ons glo dat die Here hierdie mense gebruik het om die leer van die Bybel vir die kerk suiwer saam te vat.

Ons belydenisskrifte het geen gesag vanuit hulself nie, maar ontvang hulle gesag van die Woord, juis omdat dit met die Woord ooreenstem.  Daarom is die belydenisskrifte bindend en moet u die inhoud daarvan kan onderskryf as u ‘n lidmaat van ons gemeente wil word.