Almal verstaan nie

Die Woord is nie vir almal verstaanbaar nie

prof. Gerrit Smit

Lees: Matt. 13:1-23

God se leer is nie raaiselagtig nie. Christus praat in verstaanbare taal met die mense oor God se Koninkryk. Tog kan almal dit nie verstaan nie omdat hulle harte verhard is en hulle verstand nie verhelder is deur die Gees om die verborgenhede van God in die regte lig te sien nie. Gevolglik raak hulle net meer afgestomp vir God se openbaring aan hulle.

Calvyn: Nou sal jy vra: “Wat bedoel die Here deur mense te onderwys terwyl Hy daarvoor sorg dra dat dit nie deur hulle verstaan moet word nie?” Al sou daar in die Woord watter onduidelikheid wees, is daarin altyd nog genoeg lig om die gewete van die goddelose mense te oortuig (Inst. III.24.13, 53-57).

Die saad word oral gesaai

Lees: Mt. 13:3-8

Die Evangelie is soos saad wat in die landerye van die hart van mense gesaai word. Nie al die saad kom op nie en van die saad wat opkom, lyk tydelik belowend maar mettertyd word dit verstik deur die sorge van die lewe en gaan dood.

Die saad kom nie oral op nie

Lees: Mt. 13:13-15

Waarom laat die Here toe dat die saad nie altyd op vrugbare grond val nie? Indien u antwoord omdat die mens dit deur sy sonde en goddeloosheid verdien, word reg geantwoord. Dit antwoord nog nie die vraag waarom sommige op die pad van gehoorsaamheid gelei word terwyl ander in hul goddeloosheid volhard nie. Die antwoord kom  uit verse 13-15. Christus verklaar die gelykenis aan die apostels, maar sê tegelykertyd dat sommige nie kan verstaan nie, afgestomp is, en gevolglik nie tot bekering kom nie, omdat dit nie in God se wil is nie. Dis God se besluit wie Hy met sy Gees wil verlig om die raaisel te verstaan.

Om oor te bid:
Dank die Here vir die Evangelie wat in u hart gesaai is en dat Hy deur sy Gees die saad laat ontkiem het. Bid dat die Woord vrugbaar sal wees in u lewe.