Uitverkiesing = vroomheid

Die uitverkiesing veronderstel vroomheid 

prof. Gerrit Smit

Lees: Joh. 15:12-27

Dis God wat kies, nie die mens nie

Lees: Joh. 15:16

As Paulus en die ander apostels oor die uitverkiesing preek, is hulle nie koud en gevoelloos oor die uitverkiesing nie, maar vurig (vgl. Efés. 1:4-5; 2:8-10)!

Calvyn: Laat daardie goeie heethoofde gerus Paulus se heftigheid (oor die uitverkiesing) met hul eie vergelyk. Hulle sal vind dat hulle eie ys is in vergelyking met sy ongelooflike vuur (Inst. III.23.13, 10-13).

Christus leer ons dat dit Hy (God) is wat kies, nie die mens nie (Joh. 15:16).

Tog moet ons vrug dra

En tog het die leer dat God uitverkies nie die gebod om lief te hê opgehef nie (vers 17). Sy bevel om vrug te dra (vers 16) word in dieselfde sin gebruik as die leer oor die uitverkiesing. As daar mense is wat nie die uitverkiesing kan (of wil) verstaan nie, moet die kerk ophou preek oor die uitverkiesing? Natuurlik nie. Wanneer ons vermaan en die Evangelie verkondig, gehoorsaam hulle wat deur God gekies is, graag sy gebod. Hierdie kennis kan nie binne die kerk gehou word nie, want anders sal dié daarbuite nie met die geregtigheid van God gekonfronteer word nie. Die wat sleg is, sal nog slegter word as ons stilbly. Die verkondiging van die Evangelie hoef nie, en mag nie, beperk word tot die kerk nie. Die prediking moet sy loop in die wêreld neem sodat die uitverkorenes wat nog nie tot inkeer gekom het nie kan hoor, tot inkeer kom, en in die geloof kan volhard. Die wat uitverkies is, het self ook nie rede om trots te wees op hulself as iemand deur hulle prediking tot bekering kom nie. Dit was God se werk. Maar oor hulle wat nie uitverkies is nie, word die profesie van Jesaja vervul: Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar bemerk nie” (Jes. 6:9).

Om oor na te dink: God het jou verkies. Wanneer het dit gebeur? Hoe moet ons die soenverdienste van Christus verstaan in die lig van die uitverkiesing?